“……..maar Mamma verstaan nie!”

Is my baby hyperactive?
September 20, 2017
Get the most out of feeding-time (and not just breastfeeding-time)
October 3, 2017

Deur Igna du Plessis

Mia het pas wakker geword, en met haar blos pienk wange en krullebos is dit moeilik om haar vir enige iets minder as ‘n engeltjie te sien. Maar haar Mamma het reeds ‘n beklemming om haar hart, want vandag vier hulle haar beste maatjie se derde verjaarsdag.  Partytjies is mos vir alle kinders net ‘n fees… nie waar nie?

Nee, dit is beslis nie waar nie. Mamma trek vir Mia haar mooiste frilletjies-rok aan en stel voor dat sy haar blink kerkskoene dra… met daai gespes wat so pla?! Hare kam en tandeborsel.  Nag.  Hoekom is dit so stryd!  Sy wil nie eers probeer om self aan te trek of te eet nie.  By die partytjie speel die maatjies  na hartelus. Mia is huiwerig om te gaan speel en verkies dit om naby mamma te bly. Mia vermy meestal die swaaie en die klimraam wat krioel van jong lewenslustige lyfies, want sy weet nie hoe om so te klouter nie. As ‘n maatjie te naby speel of dalk ‘n bietjie rof verby haar hardloop, is sy histeries en vloei die trane. Die kinders sing uit volle bors vir die verjaarsdagmaatjie terwyl Mia eerder haar ore toedruk. Die verjaarsdagkoek se taai versiersel op haar handjies laat haar in trane na Mamma toe hardloop. Nathan wil aan haar goue krulle vat en Mia byt hom geniepsig. Die ander mammas lig hulle wenkbroue en loer onderlangs vir mekaar. Mia se mamma is bloedrooi in die gesig en vir sussie was die dag net een te veel. Mia is só moeilik op ‘n daaglikse basis…

Sy is ‘n gesonde dogtertjie wat hope liefde van haar familie af kry.  Medies gesproke is daar niks fout  met haar nie, sy het geen gestremdheid nie en sy is hoogs intelligent, maar haar ouers is raadop en moedeloos met haar optredes en gedrag wat so “anders” is.  Sy is soms meer sensitief as meeste van haar maats,  sy raak onvoorspelbaar  kwaai of soms weier sy botweg om enige iets te doen. Vreemde en nuwe plekke, mense, teksture en reuke kan haar oorweldig.  Sy is ‘n regte kaktus-plantjie.  Prikkelbaar,  maar wanneer sy blom is sy pragtig!

Mia se lyfie sukkel met sensoriese prosessering. Dr A. Jean Ayers, het sensoriese prosessering (vroeër sensoriese integrasie) beskryf as die onvermoë om informasie wat deur die sintuie verkry word te gebruik om daaglikse aktiwiteite te hanteer.  Jou sintuie verkry inligting ekstern deur jou  vel, neus, mond ore en oë (Kranowitz,2005).  Propriosepsie, kinese en die vestibulêre sisteem verskaf intern inligting van jou liggaamskaart,  balans en beweging.  Al hierdie sensoriese insette moet eers bietjie gefiltreer word voordat dit na die brein gaan vir prosessering.  In Mia se geval filtreer haar sensoriese inligting nie so goed nie en veroorsaak dit ‘n verkeersknoop in die brein.  Dit is juis dan wat dinge te veel raak, sy oorweldig voel en sy dan uitermatig kwaad raak, stilstuipe kry of geniepsig is.

Sou Mia ouer word,  is dit nie nie ‘n gegewe dat sy hierdie gedrag gaan ontgroei nie.  Mia se mamma sal redelik vinnig briefies van ‘n juffrou ontvang,  wat kla dat Mia se aandag in die klas fluktueer.  Sy mag dalk ‘n dromer wees of baie sukkel om stil te sit en te fokus. Sy mag dit nodig vind om gereeld te beweeg of te vroetel om te kan konsentreer.  Heel moontlik sal haar ouers sterk aangeraai word om medikasie te oorweeg om Mia se konsentrasieprobleem aan te spreek.   Haar potloodgreep mag dalk nie heeltemal reg wees nie en soms kan sy dalk baie hard druk wanneer sy skryf.  Skryf en lees is harde werk al is sy baie slim. Om vriende te maak op die speelgronde mag ‘n uitdaging raak en Mia sal maklik wissel tussen trane of woedebuie om konflik te hanteer.  Na skool sal Mia heel moontlik te moeg wees om nog regop te sit en huiswerk te doen.  Huiswerk word ‘n oorlogsone waar mamma dreig, soebat en smeek om klaar te kry,  want dit vat net so lank! Na skool sal sy eerder verkies om alleen te wees in haar kamer,  vir lang ure televisie te kyk of op ‘n tablet speletjies te speel.  Mia mag dalk baie kieskeurig wees oor watter kos in haar kosblik gepak word en verseker gaan skooluniform nie haar gunsteling klere in haar kas wees nie.  Aangesien die uitdagings- konsentreer in die klas, sosialiseer pouses, deelname aan sport, en druk om te presteer- vir haar heeltemal oorweldigend is, mag Mia verwys word om medikasie te ontvang vir angs, depressie of selfs enurese.  As Mia in die koshuis is, mag sy meer swaarkry.  In die studiesaal trek alles haar aandag af,  sy slaap dalk sleg in die aand en sy mag meer as gereeld bel om huis toe te kom.  Naweke as almal gretig wag om saam met haar te kuier wil sy eerder alleen wees en so bietjie onttrek van die familie.

Vir Mia en soveel ander kinders,  is hierdie nogal ‘n donker prentjie.  Dit word ‘n lang pad waartydens die kind voel dat niemand haar verstaan nie. Sy is op haar goeie dae effe ongeorganiseerd, lomp en sy verloor gereeld selfs van haar kosbaarste besittings.  Haar beste pogings eindig gewoonlik in ‘n ramp; en selfbeeld, motivering en  deursettingsvermoë bly in die slag.

Dit bly egter min net by die kind.  Die ouer voel soos ‘n totale mislukking en tot in die afgrond toe moedeloos.  Mamma en Pappa kan soms verskil oor hoe om haar te hanteer en te dissiplineer.  Boeties en sussies voel soms afgeskeep omdat Mia meeste van die aandag eis.

Wat is sensoriese prosesserings disfunksie (SPD)?

Sommige kinders, en selfs volwassenes, se breine sukkel om al die miljoene sensoriese prikkels te verwerk en te organiseer. Daar ontstaan dan ‘n “verkeersknoop” in die brein (SPD Foundation, 2010) en sommige “stukkies sensoriese inligting sit vas in die verkeer”.  Kinders met SPD kom dikwels stout, onvoorspelbaar en ongedissiplineerd voor. Dit impakteer op hul alledaagse aktiwiteite soos speel en leer omdat response, aandag,  beweging en emosies hierdeur geraak word.

SPD gebeur in die sentrale senuweestelsel.  Die brein sukkel om sy belangrikste werk te doen, naamlik om sensoriese boodskappe te organiseer en daarom sukkel die kind ook om aksies te beplan en uit te voer en kan sy of hy sukkel om te leer.   

Algemene tekens van SPD

SPD kan beide oor- of ondersensitiwiteit vir stimulasie of ‘n kombinasie daarvan, veroorsaak.  Slegs een sintuig, of verskeie sintuie kan hierdeur geraak word.  SPD kan van ‘n geringe mate tot uiterste gevalle van sensitiwiteit wissel.

Let op die volgende noodseine:

  • Akuut bewus van agtergrondgeluide
  • Waaiende hande of herhaalde bewegings
  • Lae bewustheid, of oor-sensitiwiteit,  van temperatuur of pyn
  • Koördinasieprobleme
  • Skakel moeilik oor tussen aktiwiteite
  • Selfbesering of aggressie
  • Hou net van sekere teksture en klere
  • Sensitief vir reuke
  • Afkeer in versorgingsaktiwiteite soos hare kam, hare was en naels knip
  • Swak balans
  • Onvermoë om self te kalmeer
  • Behoefte om oormatig te beweeg of vermy beweging
  • Sukkel  met organisering en beplanning
  • Gee nie graag drukkies en soentjies nie – veral nie vir vreemdes nie
  • Lae spiertonus
  • Swak fynspierontwikkeling
  • Bang vir die donker en ander irrasionele vrese
  • Angstigheid en min waagmoed

Kinders met SPD het dikwels moeite met motoriese- en ander vaardighede wat vir onderrig en die bereiking van leermylpale nodig is. Dit kan lei tot ‘n swak selfbeeld en ‘n gevoel van mislukking.

My kind kry swaar…WAT NOU ??

Ons sintuie, brein en spiere ontwikkel in ‘n spesifieke voorafbepaalde volgorde. Volgens Dr. Melodie de Jager in Wikkel die brein wawyd wakker, ontwikkel senuweenetwerke wanneer primitiewe reflekse bewegingsreaksies uitlok ten einde die sintuie, brein en spiere te laat saamwerk. Elke primitiewe refleks het ‘n spesifieke funksie om sekere dele van hierdie meganika wat nodig is vir leer, te ontwikkel.  Wanneer die funksie voltooi  is, inhibeer die refleks. Indien nie, bly die refleks aktief en manifesteer dit in gedrag soortgelyk aan Mia s’n.

Neurologiese bane van verbindingsbedrading gelei elektriese impulse vanaf die sintuie, na die brein en weer na die spiere. Verbindingsbedrading moet behoorlik ontwikkel en deur ‘n vetskede beskerm word, sodat vinnige reaksies en taakvoltooing kan volg. Dit sal die “verkeer” in Mia se brein reguleer, sodat sy gemaklik saam maats kan speel sonder om oorweldig te word.   Hierdie ontwikkeling van verbindingsdrade vind plaas deur die herhaalde bewegings wat deur primitiewe reflekse ontlok word.  Aktiewe reflekse kan leer- en leefhindernisse veroorsaak wat alledaagse funksies belemmer.

Om aktiewe primitiewe reflekse aan te spreek word ‘n volledige evaluasie deur ‘n sensoriese integrasie spesialis aanbeveel, sodat ‘n persoonlike tuisprogram die kind se neurologiese ontwikkelingsagterstand kan aanspreek.  Beheerde beweging inhibeer aktiewe reflekse en help om neurologiese krakies te herstel.   Indien jou kind meer as drie van die bogenoemde noodseine toon,  kan jy van die volgende Mind Moves® tuis doen. 

Antennaversteller

Masseer beide oorskulpe gelyktydig van bo na onder met sirkelbewegings. Herhaal drie keer.

 

 

 Mind Moves Massering

Laat staan die kind regop met albei arms teen ‘n 90˚ hoek van die liggaam. Staan agter die kind en trek die buitelyn van sy liggaam met ferm hale van kop tot tone na.  Druk die voete agt tellings lank teen die grond vas. Herhaal drie keer.

 Helderwakker

Gooi die arms wyd oop en asem diep en stadig in. Kruis dan die arms oor die bors in ‘n omhelsende gebaar, en asem diep en stadig uit. Die ouer kan die kind terselfdetyd van agter af omhels.

Die belangrikste is dat ouers moet besef dat hulle kinders se gedrag vir hulle iets kan vertel van hul neurologiese ontwikkeling.  Kyk fyn en observeer objektief jou kind se gedrag.  Kinders wat sukkel met SPD se grootste uitdaging is om te kan STOP.  Om te stop om te beweeg,  stop om te beplan,  stop om te huil,  stop om kwaad te word en die belangrikste: stop om te dink.  As hulle kon,  dan sou hulle.

 

De Jager, M. 2009. BabaGim. Welgemoed: Metz Press

De Jager, M. 2009. Wikkel die brein wawyd wakker. Johannesburg: Mind Moves Instituut.

De Jager, M. 2010. Mind Moves Advanced Instructor Training Manual. Johannesburg: Mind Moves Instituut.

Evergreen Parenting. 2009. Verstaan jou kind se sensoriese wêreld. [aanlyn]. www.evergreenparenting.co.za. [toegang 20 Mei 2011]

Jeppe. E. 2011. Sensoriese prosesseringsdisfunksie. [aanlyn]. www.conceptpublishing.co.za. [toegang 23 Mei 2011]

Knouwds. R. 2010. Ontsluit die wêreld vir jou kind… [aanlyn]. www.arbeidsterapeut.co.za. [toegang 23 Mei 2011]

Kranowitz, C. 2005. The Out-of-Sync Child. New York: Penguin Group

Richardson, A. 2005. Koester jou kleuter. Welgemoed: Metz Press

Sensory Processing Disorder Foundation. 2010. Sensory Processing Disorder Explained. [aanlyn].  [toegang 20 Mei 2011] https://www.spdstar.org/