Babataal

Understanding the levels of learning
July 21, 2017
Taking the sting out of maths and science
July 24, 2017

Deur Dr Melodie de Jager

Taal is ‘n belangrike hoeksteen in baba se fisiese, emosionele, sosiale en kognitiewe ontwikkeling en daarom moet mens mooi dink voor jy praat.

Taal is ook nie net tydens die babajare belangrik nie. Dit bly lewenslank die gom wat families en kulture saambind want ons gebruik taal byna soos ‘n valuta waarmee ons gedagtes uitruil, grappies maak, liefdes woorde uiter en eindelik leer.

Die bekende Afrikaanse advertensie frases soos ons gaan NOU braai en met eish ja! vertaal nie akuraat nie, want dit is frases wat uniek is tot die Afrikaanse kultuur en humorsin.

Die aanleer van taal is belangrik, want die groentjiefase van taal bepaal ‘n baba en later ‘n peuter en kind se omgang met taal, en so ook hul toekomstige skryf- en leesvaardighede.

Taal is soos ‘n diamant met baie fasette, hoe meer fasette, hoe ryker die eienaar.

Voor ‘n baba kan babbel moet die oor klank kan hoor. Alfred Tomatis meen die mond kan net sê wat die oor kan hoor. Daarom is dit belangrik dat babas aan kwaliteit musiekinstrumente en aan goeie taalrolmodelle blootgestel word. Hoe beter die ontwikkeling van die oor, hoe makliker word taal aangeleer en gepraat.

HOE LEER MENS ‘N TAAL?

Aanvanklik klink ‘n taal soos een lang woord – ‘n stroom van klanke want niks beteken nie. Om die stroom af te breek in woorde, benoem ons die dinge om ons (selfstandige naamwoorde) soos: mamma, kop, teddie, hond, en dan kom die doenwoorde (werkwoorde) soos: gee, sit, slaap, ens. Daarna volg meer variasies en vorme, maar vir babas is naamwoorde en werkwoorde voldoende.

Dit is dikwels in hierdie aanleer tydperk waar ‘n Babelse verwarring plaasvind, want sommiges praat van hond en ander van woef.  Sommiges praat van skoene en ander van koene.

WIE PRAAT HOE?

Babataal is die klanke en later woorde wat uit baba se mond kom.

Mamma, pappa, of versorgertaal is die woorde wat mamma, pappa of ‘n versorger uiter met die doel om baba aan hul direkte leef-wêreld bekend te stel. Die woorde wat hul gebruik is dus gewone spreektaal, maar die manier waarop gepraat word, klink anders.  ‘n Skoen bly ‘n skoen, ‘n hond bly ‘n hond  en word nie skielik ‘n woef nie, maar die ‘musiek’ van die stem verander.

Die toon en ritme van die stem verander om dit makliker vir die baba te maak om:

1) aandag te gee

2) individuele woorde in die stroom van klanke te identifiseer en

3) dit na te boots.

‘Motherese’ is die spontane stem-aanpassing wat grootmense maak om taal meer toeganklik vir ‘n kleintjie se oor te maak, terwyl hul steeds goeie taalrolmodelle bly.

Wanneer babataal wat uit baba se mond behoort te kom, uit ‘n volwassene se mond kom, maak ‘n mens droog. Byvoorbeeld, wanneer mamma, pappa of die versorger sê: “die woef het jou koene gevat”. As ‘n grootmens babataal praat, verarm hul die klanke en woorde waaraan baba se oor blootgestel word en daarmee saam die kans dat die kleintjie díe klanke sal aanleer en gebruik.

Navorsing toon dat die oor ongeveer 12 maande na geboorte klanke begin uitskakel wat nie gereeld gehoor en gebruik word nie. Die oor kan dit dus hoor, maar kies om dit te ignoreer weens ‘n gebrek aan blootstelling en herhaling.

Die doel met die snoeiproses is om ‘n groter sensitiwiteit vir die klanke van die moedertaal te ontwikkel sodat die oor byvoorbeeld die verskil tussen ‘n k en ‘n t kan hoor, sodat Mattewis ‘n kat eerder as tat genoem word. In Afrikaans gebruik ons nie ‘n th-klank nie en daarom word die sensitiwiteit vir die th-klank gesnoei. As ‘n boerekind dan later Engels aanleer is die kans goed dat die kind van de dog eerder as the dog sal praat, want die mond vervang outomaties die onbekende klanke met dit wat soortgelyk klink.

Wanneer ‘n mens een taal se klanke gebruik om ‘n ander taal te praat, sê ons die persoon praat met ‘n aksent.

Indien ‘n baba aan meer as een taal blootgestel word voor sy of haar eerste verjaardag en die taalrolmodelle goeie moedertaalsprekers is en konstant dieselfde taal praat, snoei die oor minder klanke. Die kleintjie sal dus in staat wees om meer as een taal as ‘n moedertaalspreker te kan praat, met ander woorde  sonder ‘n aksent. Aanvanklik praat sulke peuters en kleuters minder woorde per taal (as hul portuurgroep wat net een taal aanleer), maar rondom hul derde verjaarsdag sien mens dikwels dat albei tale (of meer), ewe vlot vloei. Die geheim is egter dat ouers, versorgers en grootouers konsekwent gewone taal, en nie babataal nie, moet praat.

Waar daar betrokkenheid is, volg taal spontaan.