Melodie de Jager
In Graad 1–3 leer kinders lees om vanaf Graad 4 en verder te lees om te leer.

Die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) is ’n leesassesseringsinstrument wat gebruik word om die leesvermoë van jong kinders te bepaal. Die PIRLS-assessering vind in 5-jaar-siklusse plaas, met 57 lande wat aan die mees onlangse siklus, wat in 2021 afgeneem is, deelgeneem het. Die verwagting is dat kinders teen die einde van Graad 3 in staat moet wees om met begrip te lees; daarom assesseer PIRLS leerders oor die algemeen in Graad 4. Suid-Afrika neem sedert 2006 aan PIRLS deel en het deurgaans die swakste van al die deelnemende lande gevaar. Die resultate toon dat, ten spyte van marginale verbetering, ongeveer 80% van Suid-Afrikaanse leerders teen die einde van Graad 3 nie met begrip kan lees nie en daarom nie in staat is om te lees om te leer nie.Dit impliseer dat die meeste kinders op die ouderdom van 10 funksioneel ongeletterd is.
Hoe gaan hulle leer lees? Onderwysers in die Intermediêre Fase is oor die algemeen nóg opgelei om lees te onderrig, nóg het hulle tyd om ’n grondliggende vaardigheid te onderrig wat reeds in die Grondslagfase gevestig behoort te wees. Dit benadeel ons kinders. Ons moet verseker dat hulle voor die einde van Graad 3 leesbegrip bemeester. Een van die ernstige tekortkominge in die onderrig van lees in Suid-Afrika is die gebrek aan voorbereiding van die kind vir lees – ’n proses wat reeds op voorskoolse vlak behoort te begin.
Biomimiek – leer uit die natuur
’n Verhaal deur Stephen Covey kan dalk nuttig wees om ons in ’n rigting te stuur om die nasionale krisis wat ons met betrekking tot lees in die gesig staar, aan te spreek. Hy beskryf die ongewone groeipatroon van die Chinese bamboes. In die eerste jaar groei die plant 1 sentimeter; in die tweede jaar, 2 sentimeter; en in die derde jaar, 3 sentimeter ─ ’n totale opbrengs van 6 sentimeter in 3 jaar. In jaar 4 skiet die Chinese bamboes merkwaardig tot 10 meter hoog!

Jy wonder dalk wat die skielike eksponensiële groei tussen jaar 3 en 4 veroorsaak het, maar dit sou beteken dat jy op die verkeerde plek na die antwoord soek. Jy behoort eerder te vra: ‘Wat het gedurende die eerste drie jaar gebeur wat ’n groeikurwe van 10 meter in die vierde jaar moontlik gemaak het?’
Die antwoord is dat die groeipatroon 3 jaar van geringe sigbare groei getoon het omdat die groei plaasgevind het waar ons dit nie kan sien nie – dit het drie jaar geneem om ’n wortelstelsel te ontwikkel wat sulke vinnige ontwikkeling in jaar 4 kon hanteer. Die grondliggende groei wat noodsaaklik was vir die fenomenale transformasie, het verborge vir die oog ontwikkel.
Neurofisiologie wat lees ondersteun
Soos die bamboes se wortels, ontwikkel die grondslag vir lees grootliks onsigbaar voordat dit sigbaar word in die kind se vermoë om te lees. Hierdie ontwikkeling begin met taal en die neurofisiologiese stelsels wat dit ondersteun.
Taal is die sleutel tot kognitiewe ontwikkeling en uiteindelik die sleutel tot vordering op skool. Om ’n taal te verstaan en te praat, is hoogs komplekse vaardighede wat jare neem om te ontwikkel en te verfyn voordat die gesproke of mondelinge taal suksesvol na geskrewe taal omgeskakel kan word.
’n Baba is vir baie maande stil, buiten vir gebrabbel, lag, ’n verskeidenheid huilgeluide en babataal, maar dit beteken nie dat hul nie aktief besig is om hul moedertaal (of ’n ander taal waaraan hul blootgestel word) aan te leer nie. Teen die ouderdom van 6 tot 12 maande het die baba reeds die klanke van hul moedertaal in die brein gekarteer.
EERSTENS MOET TAAL GEHOOR WORD (ONTVANG IN DIE TEMPORALE, PARIËTALE EN OKSIPITALE LOBBE VAN DIE BREIN)
’n Baba word gebore met die aangebore vermoë om enige taal op hierdie aarde sonder ’n aksent te praat, mits hulle gedurende die eerste jaar ná geboorte die taal hoor wat deur moedertaalsprekers gepraat word. Ná hul eerste verjaardag begin die oor spontaan om klanke wat hulle nie meer hoor nie, te snoei. Dit is een van die natuur se plannetjies om breinspasie te gebruik vir klanke wat gehoor en gebruik word – en dus nodig is om mondelings te kommunikeer – waarna die ore sensitiwiteit verloor vir klanke wat nie gehoor en gebruik word nie.

Luister en praat is natuurlike, aangebore menslike vaardighede. Die oor skakel in op die gesproke woord, en net soos jy op ’n radiostasie instem, stem die oor in en pas dit aan om die klanke van ’n taal te ontvang. Die moeder se taal het altyd ’n voorsprong bo alle ander tale omdat die baba vir 9 maande in utero aan sy of haar ‘moedertaal’ blootgestel word. Die vibrasie, kadens en klanksisteem beweeg langs Ma se ruggraat en deur die vrugwater om die baba sy of haar eerste ervaring van mondelinge taal te gee.
Terwyl die baba in utero is, word klank deur die vrugwater gedemp om die baba se onvolwasse senuweestelsel te beskerm teen te veel klank te gou. Sodra die baba van ’n warm en gereguleerde lewe in vloeistof na ’n lewe in lug, swaartekrag en ’n magdom sensasies oorgaan, moet die baba se ore vinnig aanpas. Die moeder se sang en hoë toonhoogte van ‘moederpraat’ is die natuur se perfekte strategieë om die moedertaal buite die beskermde effek van die vrugwater te verfyn.
Die baba luister maande lank na taal om sy of haar ore te verfyn om die klanke van ’n taal (reseptiewe taal) op te vang voordat hulle ná geboorte met hierdie klanke in hul mond begin eksperimenteer.
TWEEDENS MOET TAAL GEPRAAT WORD (VERWERK EN UITGEDRUK VIA DIE FRONTALE LOBBE)
Vir alle babas begin ‘praat’ as ’n verskeidenheid huilgeluide, lag en gebrabbel. Hierdie eerste taaluitinge is universeel ─ alle babas begin deur dieselfde klanke te maak, maar namate hul ore ingestemraak op die taal/tale wat hulle hoor, neem hul gebrabbel meer kenmerkende klanke aan om die klanke wat hulle hoor, weer te gee.
Namate hulle die fynmotoriese spiere van die mond en hul taalvaardighede verfyn, begin hulle woorde sê, maar nie altyd in die korrekte konteks nie, byvoorbeeld: Ek het môre vir my ouma gaan kuier. Daar is nog soveel taalreëls om te leer!

Soos luister, is praat natuurlik. Dit is deel van ’n universele en aangebore mondelinge vermoë wat by mense oor die hele wêreld voorkom.
DERDENS MOET TAAL IN SIMBOLE OMSKAKEL WORD (ENKODERING via die prefrontale en motoriese kortekse)
Vir jare word ouditiewe persepsie ontwikkel terwyl daar geluister word na:
- afsonderlike klanke – a, o (diskriminasie)
- hoor wat eerste, tweede en derde kom – k-a-t (opeenvolging)
- benoem die laaste klank in ’n woord – wind (sluiting), ens.
Dit neem ongeveer 6 jaar om hierdie ouditiewe persepsies te bemeester, om die oor te sensitiseer sodat dit ’n sin in woorde, en woorde in klanke kan opbreek (analise/segmentering), en om dit weer op ’n speelse manier saam te voeg (sintese) in ’n proses wat fonologiese bewustheid genoem word. Sodoende word sterk verbindings tussen die reseptiewe agterste en ekspressiewe voorste lobbe van die brein gevorm en gemiëlineer, wat die kind se gevoel gee van ‘EK KAN’ en hul in staat stel om ‘n taal met selfvertroue te verstaan en te reageer.
Gelyktydig met die ontwikkeling van luistervaardighede, ouditiewe persepsie en taalvaardigheid, word ’n kind aangemoedig om prente en simbole te skep om hul ervarings, gevoelens en gedagtes deur middel van teken, verf, knip en plak, modellering met modder of klei, ensovoorts, voor te stel. Hierdie simbole is hul eie simbole, en daarom kan hulle hul eie kreatiewe kunswerke ‘lees’ en sin maak van wat vir ons dalk soos krabbels lyk!
Mondelinge taal is natuurlik; geskrewe taal is ’n aangeleerde vaardigheid. Hierin lê moontlik ’n rede waarom meer as 80% van ons kinders sulke diepgaande probleme ervaar om te leer lees – lees en skryf is nie aangebore natuurlike vaardighede nie; dit moet doelbewus onderrig word.

In Graad R leer kinders om hul eie name te skryf, en sodoende steek hulle die Rubicon tussen mondelinge en geskrewe taal oor. Nou beweeg hulle weg van ‘my persoonlike prentsimbole’ na die gebruik van universele abstrakte simbole soos abc/123. Die omskakeling van mondelinge taal na geskrewe taal is een van die mees onderskatte, onderbefondsde en onderontwikkelde vaardighede in enige kurrikulum en kan een van die bydraende faktore wees waarom ons kinders sukkel om te lees.
Die kind moet fisies, emosionele en Kognitief gereed wees vir die onderrig van lees.

’n Kind moet ’n vlak van neurofisiologiese gereedheid toon voordat hulle kan leer lees. Leesgereedheid sluit veral die ontwikkeling van liggaamsbeeld, lateraliteit, kruislateraliteit, spiertonus, ruimtelike oriëntasie, groot- en fynmotoriese beheer, balans, ritme, koördinasie, ’n sin vir rigting en volgorde, ouditiewe en visuele persepsie, en mondelinge taalontwikkeling in.
Eers wanneer ’n Graad R-kind al die bogenoemde vaardighede bemeester het, is hulle gereed om mondelinge taal na geskrewe taal om te skakel.
VIERDENS MOET TAAL GEDESIFER WORD (om klank uit simbole te onttrek via die temporale, pariëtale, oksipitale, sensories-motoriese en prefrontale kortekse, met behulp van Wernicke- en Broca-areas)

Scholastic – The Science of Reading and the Brain
Sodra ’n Graad R-leerder ’n hele jaar lank op ’n speelse manier enkele klanke in enkele simbole geënkodeer het; ’n oor ontwikkel het wat die taal wat in Graad 1 gepraat word; kan hoor en verstaan; ’n mond wat die woorde van daardie taal moeiteloos kan uitspreek, en ’n hand wat met selfvertroue die klanke van daardie taal in simboliese vorm kan skryf, kan dit vir die meeste kinders haalbaar word om in Graad 1 simbole na klanke om te skakel en woorde in sinne saam te voeg.
Met ander woorde, voordat daar van ’n kind verwag kan word om geskrewe taal te dekodeer, moet hulle die proses ervaar het om hul mondelinge taal in simbole te enkodeer.
As lees die ‘dekodering’ van simbole, of die onttrekking van klank uit lettersimbole, is, terwyl skryf die ‘enkodering’ van klank in lettersimbole is, is dit dan nie logies dat enkodering, oftewel die speelse omskakeling van mondelinge taal na die simbole waaruit geskrewe taal bestaan, lees behoort vooraf te gaan nie?

Skema ontwikkel deur Prof. Lionel Posthumus
Hoe kan ons ’n kind in Graad 1 aanvaar wat nie oor die MONDELINGE vaardighede beskik om na die taal van leer en onderrig te luister, dit te verstaan en dit te praat nie, en dan van hulle verwag om TE LEES en TE SKRYF in ’n taal wat hulle nie verstaan of praat nie?

Bronnelys
https://drive.google.com/drive/folders/1LddnkS0Kj-utyq6yLvR9BtzDF9-90qSD?usp=sharing
https://elearning.mindmoves.co.za/readingreadinessprogramme/
https://www.mindmoves.co.za/wp-content/uploads/2026/08/Leer-lees-en-die-brein.pdf








