Word wakker baba!

HELP, my child is ‘SENSORY’!
January 17, 2018
Will any crawling style do?
January 19, 2018

Maande lank het jul uitgesien na baba se koms. Nou is die perfekte mensie hier. Sy het twee ogies, twee oortjies, ’n wipneus en ’n tuitmondjie. Maar hoe stimuleer jy vanaf geboorte baba se sintuie?

BabaGim-instruktrise em Mamma van twee, Sanett Oosthuizen, verduidelik hoekom dit belangrik is om baba se sintuie wakker te maak:

“Dis soos om jou TV se lugdraad te verstel. Jou kykgenot hang af van die kwaliteit van die seine (skerp sintuie) en die akkuraatheid waarmee dit uitgebeeld word (hoe die brein die seine interpreteer). As baba se ogies byvoorbeeld nog nie reg werk nie, sal die visuele beeld uit fokus wees.”

Die volgorde waarin die sintuie wakker gemaak moet word is: vel, naby sintuie, neus, mond, ore en oë. Dr. Melodie de Jager skryf in haar boek BabaGim, Brein- en liggaamsoefeninge vir babas dat jy baba se sintuie só kan wakker kielie.

DIE VEL

Massering is die sleutelwoord! Pasgebore babas is meestal in ’n opgekrulde, beskermende posisie. Deur middel van massering ontspan jy baba en help jy om haar lyfie oop te strek. Dit is ook die begin van baba se selfbeeld.

SÓ MAAK MENS:

Masseer baba se lyfie van kop tot toon. Woon ’n BabaGim-klas by ’n geregistreerde BabaGim-instruktrise in jou area by, om ’n effektiewe masseringstegniek te leer.

DIE NABY SINTUIE

Dit begin alles met die geveg teen Newton se wet van gravitasie! Baba het nodig om op haar eie te beweeg (speel op ’n kombers op haar rug, maag en sye) en ook saam met jou (speel speletjies).

SÓ MAAK MENS:

Pappas doen dit die beste: swaai deur die lug, ry perdjie op pappa se voet en stoei! Pappa, wees altyd bewus van jou omgewing en moenie dat baba jou hande verlaat nie. Gaan 4×4 met jou stootwaentjie; opdraande, afdraande, plaveisel, gras en grondpad.

DIE NEUS

Al ooit gewonder hoekom kenners aanbeveel dat Mamma vir die eerste paar maande geen parfuum dra nie? Baba herken Mamma aan haar natuurlike reuk en stem.

SÓ MAAK MENS:

Moenie parfuum gebruik vir die eerste paar maande nie en gebruik ongegeurde lyfroom. Raak aan baba se neusie en sê die naam van die reuk in baba se moedertaal. Stel baba bekend aan verskillende kosgeure. Pasop vir sterk geure, wat baba se neusie kan brand.

DIE MOND

Babas druk alles in hulle monde. Baba se mond, lippe en tong help haar om te eet, maar bring ook plesier en gerusstelling wanneer sy haar foppie suig. Ontwikkeling van die gesig- en tongspiere is natuurlik ook belangrik vir duidelike spraak later in haar lewe.

SÓ MAAK MENS:

Trek die buitelyne van baba se lippe met jou vinger, ’n oorstokkie, veertjie of nat waslap na. Gebruik ook jou vinger om die binnekant van baba se mond te vryf; die tandvleis, binnekant van die wange, die verhemelte en die tong.

’n Silikoon vinger-tandeborsel help om jou vingers te beskerm teen byte en borsel sommer terselfdetyd daardie nuwe tandjies!

ORE

Die temporale breinlobbe rondom die ore is verantwoordelik vir gehoor, balans, geheue en kritiese denkvaardighede. Bineurale gehoor (om met beide ore te hoor), is ’n lewenslange geskenk aan baba, wat leer kan vergemaklik en ook lei tot uitstekende kommunikasievaardighede.

SÓ MAAK MENS:

Masseer baba se oortjies sagkens met klein sirkelbewegings, van bo na onder tussen jou duim en vingers. Gebruik ’n klokkie of jou karsleutel en skud dit aan die linkerkant van baba se kop. Wag dat baba haar kop draai in die rigting van die geluid. Beweeg nou die klokkie (ongesien en ongehoord) na die regterkant, skud en wag weer dat baba haar kop regs draai in die rigting van die geluid.

Magietyd is ’n moet! Dit versterk die nekspiere wat ’n noodsaaklike vereiste vir goeie gehoor is.

DIE OGIES

Ons oë reflekteer ons gedagtes, gevoelens en weerspieël breinaktiwiteit. Groot spiere ontwikkel altyd voor klein spiere. Sterk kernspiere is belangrik vir die ontwikkeling van die klein spiertjies van baba se oë.

SÓ MAAK MENS:

Maak oogkontak wanneer jy met baba praat. Neem ’n kleurvolle speelding en beweeg dit stadig voor baba sodat sy met haar ogies volg: op, af, links en regs.

 

MAAK JOU EIE BEWERTJIE!

  • Koop ’n plastiek klere-droër by The Crazy Store.
  • Hou dit interessant deur gereeld die voorwerpe te verander wat jy daaraan hang.
  • Maak seker die bewertjie is interessant om na te kyk van onder af en nie net vir jou wat van die kant af kyk nie.

Wil jy meer weet oor BabaGim? Besoek gerus hul webtuiste by https://www.babygym.co.za/

BabaGim, Brein en liggaamsoefeninge vir babas is aanlyn beskikbaar teen R150.00.