Deur Johannie Louw
In 2017 het ek Melodie de Jager oor die radio hoor praat en haar vir ‘n praatjie by Herfsland genooi. Sy het vir Celeste van der Walt, gebring om die praatjie aan te bied.
Wat Celeste gesê het, was vir my nuwe inligting en ek was seker dat dit baie waardevol vir die inwoners kan wees. Ses weke later het ek vir die opleiding gegaan wat deur Celeste aangebied was en ‘n nuwe wêreld het vir my oopgegaan.
In 2017 het ons ʼn nuwe maatskaplike werker, Ilze, aangestel en in 2018 het sy vir die opleiding by Elma gegaan. Herfsland is dus in die bevoorregte posisie om twee Senior Mind Moves fasiliteerders in diens te hê wat ons glo tot voordeel van die inwoners is.
Ek is ook opgelei as ‘n maatskaplike werker en uit die aard van die saak is ons nie juis bekend met die fisiese funksionering en verswakking van ouer persone nie. Nog minder oor die brein en om die gehalte van die kwaliteit van lewe te behou.
Die opleiding as ʼn Senior Mind Moves fasiliteerder was dus vir ons ʼn bron van nuwe inligting en kon ons dit oordra aan die inwoners, asook ouer persone in die gemeenskap.
Die kennis het besondere waarde vir ouer persone op verskeie vlakke:
Fisiese vlak:
- Ons kan raad gee om die sintuie skerp te hou. As ons vra sê die groepe telkens dat hulle nog nooit gehoor het van bewegings om die sintuie skerp te hou nie.
- As die sintuie beter funksioneer hou dit ook die breinfunksie beter in stand.
- Die bewegings hou ook die spiere sterk om die opdragte van die brein uit te voer, en hou die breinpaadjies oop om die boodskappe oor te dra.
- Dit help ouer persone om veiliger te loop en val te voorkom. Die hak-toonmanier van loop was vir my so ʼn eenvoudige oplossing vir ʼn grootprobleem.
- Dit help ook om die postuur te verbeter en die balans te behou, selfs met kieries en loop rame.
- Die bewegings kan selfs sittende gedoen word en het waarde vir bedlêendes en ouer persone in rolstoele.
Emosionele vlak:
- Dit help om die goedvoelhormone te stimuleer.
- Dit verbeter die geheue of vertraag agteruitgang.
- As die goedvoelhormone gestimuleer word, help dit ook om die kwaliteit van lewe te verbeter.
- Die kwaliteit van lewe word bv. verbeter deur meer water te drink, gesonde eetgewoontes aan te leer, die vel te stimuleer en om nuwe projekte aan te pak.
- Dit help om positiewe denke te bevorder, wat meebring dat die omstandighede waarin jy jou bevind sommer beter lyk.
Sosiale vlak:
- Die sessies waarby die inwoners betrek word, is van groot waarde vir hulle. Die sosiale verkeer is stimulerend vir die inwoners.
- Bewegings soos bv. die handmassering help die inwoners om langer netjies te eet en met gemak aan tafel tussen die ander inwoners hulle maaltye te geniet of nog sosiale geleenthede by te woon. (https://www.youtube.com/watch?v=zIWVel9qOs8)
- Die sessies dien ook die doel dat die inwoners iets interessants het om oor te praat wanneer hulle besoekers ontvang en dit maak van hulle interessante mense. Die gesprekke gaan nie oor die gewone klagtes en gesondheidsprobleme wanneer hulle besoekers ontvang of met mekaar gesels nie.
- Die voordeel vir die inwoners is dus op verskeie vlakke.
Ilze bied die Senior Mind Moves bewegings twee maal per week in klub verband aan en dit word goed bygewoon. Binne die konteks van die verswakte afdeling van ‘n Tuiste, bevind meeste inwoners hulself in ‘n sittende leefstyl en beweeg baie min. Die Senior Mind Moves bewegings bied die geleentheid vir die inwoners om binne sy/haar vermoëns spiere te beweeg.
Die bewegings is selfs geskik vir persone in ‘n rolstoel. Inwoners beleef ‘n gevoel van prestasie as hul die bewegings kan doen en die voordeel daarvan ervaar.
As hulle van die bewegings nie meer kan doen nie, luister hulle na die musiek of geniet net die samesyn, wat opsigself van groot waarde is.
Slypskole en bekendstellingspraatjies buite die Tuiste:
- Ons het gou agtergekom dat die waarde van Senior Mind Moves vir ander Seniorgroepe in die gemeenskap ook van groot waarde kan wees.
- So het ons reeds verskeie bekendstellingspraatjies en slypskole by die senior groepe in gemeentes of ander Tuistes/Dienssentrums gehou.
- Dit bied ook aan Herfsland die geleentheid om verhoudings buite die Tuiste op te bou.
- Dit bied ook aan ons die geleentheid om ‘n diens aan die senior groepe in die gemeentes te lewer uit dankbaarheid vir die ondersteuning wat ons van hulle ontvang.
- Wat ‘n interessante gevolg was, is dat dit help om die Tuiste bekend te stel en vol te hou, omdat die seniors reeds iemand by die Tuiste ken wanneer hulle verswakte versorging benodig.
Senior Mind Moves het vir ons by die Tuiste deure in die gemeenskap oopgemaak wat ons nie voorsien het nie en waaroor ons baie dankbaar is.
Vir meer inligting oor Senior Mind Moves, besoek gerus ons webtuiste by:
www.seniormindmoves.co.za
Volg ons op Sosiale Media op:
Facebook: https://www.facebook.com/SeniorMindMoves/
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCgO0FtRr4_Eyh_0MltvoZrQ/featured
Vir meer inligting oor Senior Mind Moves Fasiliteerdersopleiding, volg gerus die volgende skakel:
https://seniormindmoves.co.za/fasiliteerders-opleiding/
Aansoekvorm vir Senior Mind Moves Fasiliteerders opleiding:
https://docs.google.com/forms/d/e/1FAIpQLSfmZ1V5P78Nr4p064_doUv3j4hu_mrGpcVtT0SKxl86R4e6hA/viewform?usp=send_form
Lees hieronder meer oor: “Hoekom maak dit my opgewonde om ʼn Senior Mind Moves Fasiliteerder te wees.
“Omdat Senior Mind Moves maklike bewegings is wat enige tyd, enige plek gedoen kan word, sonder spesiale klere of toerusting, was dit die ideale manier om te beweeg en te help met my herstelproses toe ek te swak was om veel te doen. Die daaglikse gereelde, beweging, veral teen swaartekrag, kon bydra tot breingesondheid, fisiese- en emosionele gesondheid. Wanneer mens die resultate ervaar, verstaan jy die werklike waarde daarvan. Toe ek besef dat my gehoor en sig erg aangetas was deur die breinvliesontsteking, was ek diep beswaard. Skielik was ek in te veel opsigte ʼn ou mens. ʼn Week gelede het ek weer vir ʼn gehoortoets gegaan en was ek kinderlik opgewonde om te verneem dat my gehoor verbeter het. Niemand het dit verwag nie. Die gereelde Ore Vryf, of Antennaversteller en die ander Mind Moves vir gehoor, het beslis vrugte afgewerp. Ander toetse soos spierkrag en balans ens. wys ook buitengewone goeie vordering. ʼn Oogtoets is volgende en ek is hoopvol. Die ou mens maak stadig maar seker weer plek vir ʼn jonger Om resultate te sien, veral jou eie, is baie opwindend en verblydend en laat mens jubel en juig en lus voel om ʼn liedjie te sing, ʼn deuntjie te fluit of dalk op tafels te dans. Hou die spasie dop.” – Celeste van der Walt (Senior Mind Moves Ambassadeur)
“Daar is vier redes waarom ek opgewonde is om ʼn Senior Mind Moves fasiliteerder te wees:
-
Dit is wonderlike nuwe inligting. Wanneer ek by Bekendstellingspraatjies vir die groep vra of hulle al van oefeninge of bewegings gehoor het wat hulle sintuie skerp hou, is die antwoord altyd nee.
-
Senior Mind Moves kan ʼn verskil in enige bejaarde se lewe maak. Óf die ouer persone nog sterk en gesond is, of in rolstoele of bedlêend is, hulle kan van die bewegings doen en sover as moontlik hulle funksionering behou of verbeter.
-
Wanneer ʼn persoon 70 se kant toe staan, word van jou verwag om af te tree. Senior Mind Moves is van die min geleenthede waar juis ouer persone kan aantree, omdat seniors nie na jonger fasiliteerders luister nie.
-
Die samesyn en vrolikheid gedurende die groepbyeenkomste is ook van groot waarde vir die deelnemers se gemoedstoestand.
Dis sommer net lekker om dit aan te bied en al die kennis aan ander oor te dra.” – Johannie Louw (Senior Mind Moves Fasiliteerder)
“Senior Mind Moves bewegings is ʼn wonderlike aktiwiteit as deel van ons Tuiste se aktiewe verouderingsprogram. Met hierdie bewegings kan ek belê in ons inwoners se gesondheid en hul bystaan om hul kwaliteit van lewe vir ʼn langer periode instand te hou. Die positiewe uitwerking wat die bewegings vir elkeen het, kan gesien word in hul positiewe houding en gemoed na afloop van ʼn sessie. Inwoners wat dit bywoon, neem verantwoordelikheid vir hulself en die besef dat: “If you don’t use it – you lose it.”
Dit is wonderlik om te sien dat wanneer deelnemers bewegings soos die bilaterale mars reg kry, dit ʼn gevoel van bemeestering en prestasie op hul gesigte laat. Dit is kosbaar!!” (Ilze Pieterse – Senior Mind Moves Fasiliteerder)
“Senior Mind Moves verlig angs by bejaardes. ʼn Vriendin het my gevra om haar bejaarde ma in die tehuis vir bejaardes op Jeffreysbaai te probeer help omdat sy so sukkel met angs. Dit is vir my ʼn groot voorreg omdat ek die tannie al baie jare ken.
Ons het afgespreek op een keer ʼn week. Ek het Tannie Luna van Pletzen se twee tuinstoele buite in ʼn koeltekol neergesit. Ek het naby haar gaan sit en haar arms sommer net gestreel en ongemerk die Senior Mind Moves massering begin doen terwyl ons gesels. Sy was gaande daaroor. Ek kon voel hoe sy begin ontspan en kalm raak. Ons het asemhalingsbewegings en ʼn paar strekke gedoen. Sy was moeg, en ek het haar gehelp om op die bed te gaan lê.
Die afgelope drie maande se weeklikse Senior Mind Moves sessie het die hoogtepunt van haar week geword. Sommer gou het haar buurvrou ingeval en met haar loopraam by ons in die koelte aangesluit. Albei het die boekie “Glinster in die Grysheid” gekoop, en het my ywerig vertel hoe hulle mekaar aanspoor om oefeninge te doen.
Nog ʼn lekkerte vir hulle is dat ek my Maltese babahondjie saamneem. Albei geniet die brakkie se manewales, en wanneer hulle haar sagte pelsie streel, het trane van vreugde soms geloop. Maar die vashou van die pelskind is eers nadat ons gewerk het.
Om vir iemand anders iets te beteken, is die vervullendste gevoel. Dit verheug my om te sien hoe hulle vorder: meer beweeglik, konsentreer goed, onthou beter, angs verminder en slaap beter. Sonder Senior Mind Moves sou ek nie ʼn bydrae tot hulle lewenskwaliteit kon maak nie en hulle nie my lewe kon verryk nie.” – Veronica Fourie (Senior Mind Moves Fasiliteerder)
“Ek is baie eerlik as ek sê dat ek nie ʼn persoon is wat daarvan hou om artikels te skryf nie, maar op die vraag van “ Wat maak jou opgewonde om Senior Mind Moves Fasiliteerder te wees” het dit vir my gevoel of ek sommer ʼn paar bladsye vol kan skryf.
Maar inkort, dit maak my “super” opgewonde om te weet dat ek ʼn verskil in seniors se lewens kan maak deur die inspirerende Senior Mind Moves program aan hulle bekend te stel, met die wete dat hul deur eenvoudige bewegings hul kwaliteit van die lewe kan behou, maak nie saak watse uitdagings die ouderdom na hul kant toe bring nie.” – Toetsie Smith (Senior Mind Moves Fasiliteerder)
“As Senior Mind Moves fasiliteerder wil ek die boodskap uitdra dat almal met grasie kan oud word. Al wat nodig is, is om die liggaam en veral verstand (brein) aktief te hou. Deur Senior Mind Moves se bewegings te doen, word die brein gestimuleer en sodoende word positiewe boodskappe na die liggaam uitgedra. Dit is vir my veral belangrik om die Senior Mind Moves inhoud uit te dra na huise (nie tehuise of aftree oorde) waar ʼn paar bejaardes saam woon en versorg word. Hul wêreld is so beperk dat min beweging plaasvind wat hul gou in ʼn toestand van depressie laat verval.” – Amanda van der Merwe (Senior Mind Moves Fasiliteerder)