Melodie de Jager

Nuwe navorsing toon dat die vestibulêre stelsel, die gekombineerde nek- en binneoorstelsel wat ons help om te verstaan waar ons in die ruimte is en om regop en gebalanseerd te bly, moontlik ’n belangrike rol speel in geheue, denke en die risiko van demensie of Alzheimer se siekte.
Jou balansstelsel en “geheuestelsel” is meer verbind as wat ons vroeër gedink het.

Die verband tussen balans en geheue
Die vestibulêre stelsel stuur inligting van jou sintuie en spiere na breingebiede wat verantwoordelik is vir:
- Balans en houding
- Oogbewegings
- Ruimtelike bewussyn (“Waar is ek in hierdie kamer?”)
- Geheue (veral die hippocampus)

As die vestibulêre stelsel nie goed funksioneer nie, moet die brein harder werk net om jou regop en stabiel te hou. Daardie ekstra inspanning laat minder energie oor om te konsentreer, onthou en dink, wat beide kinders en volwassenes beïnvloed.
Hierdie verband begin vroeg in die lewe en kan gesien word wanneer kinders met swak vestibulêre ontwikkeling met aandag en konsentrasie sukkel (ADD/ADHD) en leerprobleme het (soos disleksie). Oor ’n leeftyd kan hierdie vroeë uitdagings die brein se algehele veerkragtigheid verminder, wat ’n persoon meer kwesbaar kan maak vir kognitiewe probleme namate hulle ouer word, insluitend toestande soos Alzheimer se siekte.

Wat navorsing wys
Uit baie studies blyk dit dat mense met vestibulêre probleme meer geneig is:
- Om te sukkel om aandag te gee en te konsentreer
- Om beweging en veral praat, skryf en lees moeilik te vind
- Om vroeë tekens van kognitiewe agteruitgang te toon
- Om ligte kognitiewe agteruitgang (MCI) te ontwikkel
- Om demensie of Alzheimer se siekte te ontwikkel.
Groot bevolkingsstudies toon ook aan dat vestibulêre probleme dikwels jare voor geheueverlies voorkom, wat daarop dui dat vestibulêre agteruitgang ’n vroeë waarskuwingsteken kan wees.
Vestibulêre probleme verhoog ook die risiko van angs, onnet eetgewoontes, onhandigheid, lompheid en val, verminderde belangstelling om te beweeg en sosiale issolasie – al hierdie faktore kan kognitiewe agteruitgang versnel.

Waarom vestibulêre probleme geheue kan beïnvloed
Wetenskaplikes dink die verband gebeur deur verskeie maniere:
- Direkte effek op geheuegebiede
Minder vestibulêre inset → swakker hippocampus → probleme met geheue en navigasie. - Verminderde “breinreserwe”
As jy meer energie gebruik om jou balans te behou, is daar minder energie oor om te dink. - Onderliggende gesondheidsprobleme
Swak sirkulasie of inflammasie kan beide die vestibulêre stelsel en die brein beïnvloed. - Val en onaktiwiteit
Vestibulêre probleme → struikel en val meer → vrees om te beweeg → isolasie → vinniger agteruitgang.

Wat dit beteken
Die goeie nuus: die vestibulêre stelsel kan dikwels getoets en verbeter word.
Nuttige hulpmiddels sluit in:
- Vestibulêre toetse (soos balanstoetse, oogbewegingstoetse, primitiewe reflekstoetse: MORO, TLR, ATNR)
- Vestibulêre rehabilitasie
- Balans- en mobiliteitsterapie
- Skandering vir duiseligheid saam met geheue-toetse.

Beweging wat die vestibulêre stelsel uitdaag, soos om in die natuur te loop, swaai, spring, dans, Mind Moves en alle speelse bewegingaktiwiteite, kan help om langtermyn breingesondheid te beskerm. Dit is veral belangrik in gemeenskappe met beperkte toegang tot duur mediese sorg, aangesien vestibulêre rehabilitasie goedkoop en maklik toeganklik is.
Jou binneoor-balanstelsel gaan nie net oor die voorkoming van val en vergeet nie – dit is ook intens verbind met hoe jy dink, beplan en onthou. Beweging hou jou vestibulêre sisteem gesond en kan die brein teen kognitiewe agteruitgang beskerm.
Om jou balansstelsel te versorg, kan een van die eenvoudigste maniere wees om jou brein jou hele lewe lank te ondersteun.

Bronne:
De Jager, M. (2025). The Role of the Vestibular System in Dementia and Alzheimer’s Disease: A Review of Evidence and Mechanistic Insights https://www.mindmoves.co.za/2025/11/12/the-role-of-the-vestibular-system-in-dementia-and-alzheimers-disease/
De Jager, M. (2025). What’s the Difference Between Dementia and Alzheimer’s Disease https://www.mindmoves.co.za/2025/11/11/whats-the-difference-between-dementia-and-alzheimers-disease/







