deur Melodie de Jager
Biomimiek is ‘n benadering tot probleemoplossing en innovasie wat inspirasie put uit die ontwerpe, prosesse en stelsels van die natuur om volhoubare en doeltreffende oplossings vir menslike uitdagings te skep. Die term “biomimiek” kom van die Griekse woorde “bios,” wat lewe beteken, en “mimesis,” wat nabootsing beteken.
Biomimiek behels fyn waarneming om die natuur se geheimenisse raak te sien en die onderlinge interafhanklikheid van organismes, prosesse en sisteme te bestudeer. Verder behels dit die studie van die manier waarop organismes gestruktureer is, hoe hulle funksioneer en hoe hulle met hul omgewing omgaan met die doel om insigte te verkry wat toegepas kan word op menslike uitdagings, onder andere, ten opsigte van ingenieurswese, argitektuur, materiaalwetenskap, geneeskunde en landbou. Hierdie studieveld het reeds ‘n beduidende bydra gelewer tot vele produkte, tegnologie en innoverende idees.
Hoe Voëls Vlug Geïnspireer het
Leonardo da Vinci het die natuur gesien as ‘n bron van wysheid en geglo dat die studie van voëls sou lei tot beter ingenieursoplossings in die hoop om menslike vlug moontlik te maak.

Voëls het Da Vinci geïnspireer om hul merkwaardige anatomie en vlugmeganika noukeurig te bestudeer met die volgende as ‘n uitvloeisel daarvan:
Waarneming van Anatomie: Da Vinci het die struktuur van voëls waargeneem en het spesifieke aandag gegee aan hul liggewig bene, kragtige spiere en unieke vlerkvorms. Hy het talle aantekeninge en sketse van sy waarnemings gemaak omdat hy geglo het dat hierdie eienskappe die ontwerp van ‘n menslike vliegmasjien kon beïnvloed. Da Vinci se vliegmasjiene is vandag bekend as ‘n vliegtuig.
Vlugmeganika: Hy het noukeurig waargeneem hoe voëls hul vlerke flap en deur die lug glip. Sy sketse en aantekeninge het sy pogings weerspieël om opheffing, stukrag en die beginsels van aërodinamika te verstaan.

Vindingryke Ontwerpe: Da Vinci het verskeie ontwerpe vir sy vliegmasjiene geskep, insluitend die ornithopter, wat die flappende beweging van voëlvlerke naboots. Sy konsepte het grondliggende idees vir latere lugvaart innovasies neergelê en onder andere die twee Amerikaanse lugvaartpioniers, die Wright-broers, geïnspireer. Hulle het die wêreld se eerste suksesvolle motor-aangedrewe vliegtuig ontwerp, gebou en gevlieg.
Hoe Slymskimmel Stadsbeplanning Geïnspireer het
Myxomycete, ook algemeen bekend as slymskimmel, is ‘n eensellige organisme wat in staat is om baie komplekse roetes te karteer en inligting te kommunikeer om kos te vind, alles sonder ‘n brein, ‘n senuweestelsel of enige van die organe wat ons onself sou voorstel betrokke is, wanneer ons aan hierdie komplekse take dink.

‘n Groep wetenskaplikes in Japan het die manier bestudeer waarop slymskimmel, veral Physarum polycephalum, doeltreffende paaie vorm om kos te vind en te versprei. Slymskimmels bestaan al vir ongeveer ‘n miljard jaar en het oor daardie tydperk ontwikkel om besonder doeltreffend en aanpasbaar te wees in hul een enkele doel: om te eet en te oorleef.
Die groep navorsers het hul gunsteling ontbytkos, hawervlokkies, op verskillende plekke in ‘n houer geplaas wat ooreenstem met die groot stede in Japan. Slymskimmel het binne 5-6 dae ‘n netwerk gevorm om die voedingsbron effektief te benut wat soortgelyk was aan die komplekse spoorwegnetwerk wat Japanse ingenieurs jare geneem het om te beplan en te karteer.
Dit het stadsbeplanners die volgende laat oorweeg:
- Netwerkdoeltreffendheid: Slymskimmel se natuurlike vermoë om roetes te optimaliseer kan die ontwerp van doeltreffender vervoerstelsels inlig.
- Veerkragtigheid: Die aanpasbaarheid van slymskimmel beklemtoon die belangrikheid van die skep van buigsame stedelike ontwerpe wat op veranderinge oor tyd kan reageer.
- Volhoubaarheid: Die gebruik van biomimiek wat voortspruit uit slymskimmel moedig omgewingsvriendelike praktyke aan, met die fokus op onderling verbinde groen ruimtes en hulpbron effektiwiteit.
Die studie van slymskimmel het waardevolle insigte opgelewer in die skep van stedelike omgewings wat nie net funksioneel is nie, maar ook veerkragtig en volhoubaar.
Hoe Braambossaad Velcro Geïnspireer het
Braambossaad het Velcro geïnspireer deur hul unieke struktuur en metode van hegting. Die Switserse ingenieur, George de Mestral, het opgemerk hoe braambossaad aan sy hond se pels vasgehaak het tydens ‘n stappie in die veld.

Hy het hulle aandagtig onder ‘n mikroskoop ondersoek en die potensiaal raakgesien om ‘n soortgelyke sluitstelsel te skep:
- Haakmeganisme: Braambossaad het klein hakkies wat hulle in staat stel om aan dierehare of klere vas te haak. Hierdie vermoë om aan oppervlaktes te heg sonder die gebruik van kleefmiddels, het De Mestral gefassineer.
- Twee Komponente: Velcro bestaan uit twee komponente: een met klein hakkies en die ander met sagte lusse, wat weerspieël hoe braambossaad aan oppervlaktes vasheg. Wanneer dit saamgedruk word, skep dit ‘n stewige hegting, maar wat maklik geskei kan word wanneer dit uitmekaar getrek word.
- Veerkragtigheid en Funksionaliteit: Deur hierdie inspirasie uit die natuur het Velcro ‘n praktiese oplossing vir sluiting geword, wat gelei het tot verskeie praktiese toepassings in klere, skoene en ontelbare ander produkte – die krag van biomimiek in innovasie.
Hoe Baba Ontwikkeling Breinontwikkeling Geïnspireer het
Deur die waarneming van hoe babas en jong kinders leer en groei, veral in hul fisiese en kognitiewe vermoëns, het die ontwikkeling van BabaGim en Mind Moves geïnspireer.
Die baba se brein groei met ‘n ongekende kompleksiteit en teen ‘n ongeëwenaarde tempo wat nooit weer in hul leeftyd herhaal word nie. Weens neuroplastisiteit hou die menslike brein aan om te groei en ontwikkel, maar nooit weer soos tydens die eerste duisend dae van lewe nie.

Dit het navorsers by die Mind Moves Instituut se veerbeelding aangegryp en laat wonder wat die kritiese element is wat die brein laat groei en ontwikkel gedurende die eerste 1000 dae. Dit het ook die vraag laat ontstaan of dieselfde beginsels dalk toegepas kan word om die brein in latere jare verder te ontwikkel en selfs moontlik te herstel na beserings of trauma.
- Neurologiese Verbindinge: Waarnemings van hoe babas neurale paaie deur beweging skep, het die ontwikkeling van spesifieke bewegings geïnspireer wat daarop gemik is om hierdie verbande te versterk, en sodoende leef- en leervermoëns te verbeter.
- Beweging en Leer: Internasionale navorsing toon reeds vir jare dat beweging ‘n noodsaaklike rol speel in hoe babas se senuweesstelsels ontwikkel. BabaGim harnas hierdie beginsel om babas spelenderwys optimaal te ontwikkel. Mind Moves integreer beweging om breinontwikkeling te verbeter, leer te vergemaklik en akademiese prestasie te verhoog.
- Holistiese Ontwikkeling: Deur te verstaan dat babas holisties ontwikkel, met inbegrip van fisiese, emosionele, sosiale en kognitiewe ontwikkeling, bevorder BabaGim die kleinding se lewenskwaliteit lewenslank, terwyl Mind Moves aktiwiteite ‘n meetbare verskil maak waar daar ontwikkelingsagterstande is, of waar die brein seergekry het.
- Speel-gebaseerde Leer: Babas leer die beste deur te speel. Mind Moves beklemtoon speelse aktiwiteite wat verkenning en ontdekking aanmoedig, wat leer lekker en effektief maak.
- Aanpasbaarheid: Babas pas aan by hul omgewings deur verkenning en interaksie, terwyl Mind Moves buigsaamheid tot leeromgewings aanmoedig waar kinders, en self ouer persone, kan aanpas en floreer deur beweging.
Die toepassing van die lewensgewende rol van natuurlike beweging stop egter nie by babas en kinders nie. Dit kan ewe effektief benut word deur volwassenes om stres en verhoudings in die werkplek te hanteer en selfs daar te floreer. Omdat die brein nie uitslyt nie, maar lewenslank aanhou groei en ontwikkel, as ‘n mens (1) wil en (2) iets daadwerkliks daaraan doen, bied beweging hoop aan ouer persone om die kwaliteit van hul lewens en verhoudings te verhoog.
Biomimiek, die natuur se spontane probleemoplossende ingesteldheid, bied vir ieder en elk die geleentheid om iets aan hul eie onafhanklikheid, gemoed en denke te doen deur eenvoudig aan te hou aanpas deur aan te hou beweeg.
Vir meer Biomimiek voorbeelde lees meer hier: https://www.learnbiomimicry.com/blog/best-biomimicry-examples







