Deur Melodie de Jager.
The human body was designed to move.
It is the early movement experiences that lay the foundation of what follows.
Krebbs
Daar is baie verskillende soorte beweging:
In die video The real reason for brains op TEDGlobal (2011), vat die neurowetenskaplike, Daniel Wolpert, die essensie van beweging raak saam met die volgende vraag:
Wat bedoel hy egter met “beweging is die enigste manier wat jy die wêreld rondom jou kan beïnvloed”? Wat hy sê, is dat beweging die enigste manier is waarop jy ‘n impak kan hê. Dit beteken ook dat jy nie kan wys dat jy iets geleer het, behalwe deur middel van beweging nie. Deur ‘n skoenveter vas te maak of op ‘n lyn te kan knip, ‘n gedig voor te dra of ‘n toets te skryf, wys jy wat jy geleer het. “Kennis” is geen bewys dat leer plaasgevind het nie. Slegs wanneer daar ‘n uitset is in die vorm van iets wat jy doen, en wanneer jy beweeg, is daar ‘n bewys dat leer plaasgevind het.
Learning has occurred
when a person can do something he was incapable of before.
Honey and Mumford
Spiere kan nie dink nie, maar hulle kan beweeg of rus. Wanneer spiere beweeg, kan hulle een van die volgende twee dinge doen:
Onbeheerde beweging kan duidelik waargeneem word wanneer ‘n kind lomp is, sukkel om stil te sit, nie kan wag om ‘n vraag te beantwoord nie en die antwoord uitroep, dit moeilik vind om met ander saam te werk, en wanneer die kind dit byna onmoontlik vind om ‘n lessenaar met iemand te deel. As ‘n kind nog net beperkte beheer oor sy spiere het, is dit vir hom uiters moeilik om te konsentreer en gee dit dikwels aanleiding tot hiperaktiwiteit, boeliegedrag en swak sosiale vaardighede, om maar net ‘n paar te noem. Dit is nie asof die kind beplan om steurend of ongepas op te tree nie, dit gebeur bloot vanself. So ’n kind beweeg sonder om te dink.
Aan die ander kant kan beheerde en vaardige beweging waargeneem word wanneer die kind in ‘n gekoördineerde en beheerde manier beweeg. Hy kan in ‘n ry staan sonder om té naby aan die persoon voor en agter hom te wees of om aan hulle te stamp, hy kan ‘n bal skop en vang sonder om sy kakebeen te beweeg of sy tong vas te byt. So ‘n kind het deur baie herhalings geleer om sy instinktiewe behoefte om meer vrylik te beweeg, te beheer. Hy het sy bewegings deur die jare oor en oor geoefen totdat dit sodanig verfyn is, dat hy nou op ‘n vaardige en beplande manier kan optree. Dit doen hy deur sy gedagtes te koördineer met beplanning van die orde, asook die tydsberekening van beweging.
Beweging verwys nie net na groot motoriese bewegings soos hardloop, huppel en spring nie, maar ook na fyn motoriese beweging. Fyn motoriese bewegings is vaardiger bewegings wat gewoonlik die mond, vingers, tone en oë betrek. Fyn motoriese beweging kan slegs volledig ontwikkel wanneer die groot spiere reeds ontwikkel het. Dit is waarom kinders onder die ouderdom van ses jaar so baie tyd buite moet spandeer deur te hardloop, te klim, te spring, te stoot, te hang, te skop, te gooi en te vang sodat die groot spiere in hulle skouers, heupe, romp, arms en bene kan ontwikkel nog lank voordat hulle regop en stil kan sit op ‘n stoel. Eers wanneer hierdie groot spiere voldoende ontwikkel het, kan hulle hulle liggame beheer en stilhou sonder om daaroor na te dink. Nou eers kan hulle die fyn motoriese spiere van die hande, oë en mond ontwikkel en koördineer sodat hulle in ‘n reguit lyn kan knip of binne die lyne van ‘n prent kan inkleur, of nog ‘n rukkie later met gemak kan lees en skryf. Dit beteken dat ritme, spraak, skryf en lees vaardige fisiese bewegings is, gebaseer op die ontwikkeling van eerstens die groot motoriese spiere, en tweedens die fyn motoriese spiere.
As gevolg van die beperkte ruimte in die baarmoeder word ‘n kind nie met volledig ontwikkelde spiere gebore nie. Spiere moet ontwikkel word, maar dit ontwikkel nie in isolasie nie. Spiere ontwikkel ooreenkomstig met die ontwikkeling van die drie lae van die brein.
Dit help as ‘n mens die kind se fisiese ontwikkeling kan voorstel as ’n dubbelverdiepinggebou. Die grondvloer huisves wat nodig is in terme van oorlewing. Dit beteken dat die kind bewus moet wees van sy omgewing en om bewus te wees van sy omgewing moet sy sintuie wawyd wakker wees. Sy sintuie oortuig hom dat hy óf veilig is, óf nodig het om te veg, te vlug of te vries en met die omgewing saam te smelt. Die grondvloer huisves met ander woorde al die sintuie: gevoel (aanraking), reuk, proe, gehoor en visie (gesig), maar sintuie sonder spiere wat kan veg, vlug of vries, beteken absoluut niks nie. Daarom huisves die grondvloer ook die basiese spierbewegings: refleksiewe bewegings (asemhaling, hartklop, ens.), basiese bewegings en posturale reaksies. Dink word nie op hierdie vloer gehuisves nie. So ook nie versorging nie. Hierdie vloer staan bekend as oorlewingsbeweging.
Wanneer die kind genoeg tyd op die grondvloer deurgebring het en al die verskillende primitiewe bewegings uitgevoer het, moet hy leer om sy mees primitiewe bewegings te beheer. Hy leer beheer uitoefen deur te vorder tot omrol, regopsit en later op al vier ledemate te kom. Wanneer ‘n kind gevorder het tot op die vlak dat hy kan kruip, het hy die grondvloer baasgeraak en kan hy aanbeweeg na die eerste vloer toe.
Die eerste vloer huisves selfvertroue, emosies, selfbeeld, gesondheid en omgee. Hierdie emosies ontwikkel wanneer mammas en pappas hulle baba aanmoedig soos wat sy bewegings meer kompleks raak. Die bewegings op die eerste vloer is tipies menslike bewegings wat nodig is om grootliks gevier te word: bewegings soos kruip, die skeiding van die duim van die res van die vingers vir ‘n greep en om voorwerpe te kan hanteer, om verskillende geluide te kan maak, maar nog geen woorde nie, sowel as om homself op te trek tot in ‘n regopposisie en later met gemak te kan loop.
Wat ontwikkeling betref, verbind die eerste vloer beweging met emosionele ontwikkeling – ‘n fase wat kritiek is voordat baba kan begin vriende maak en met ander oor die weg kan kom. Dit is eers wanneer die baba genoeg ek- en myne-tyd (emosionele ontwikkeling) gehad het, dat hy gereed is vir ons-tyd (sosiale ontwikkeling). Eenvoudige speletjies soos wegkruipertjie word hier gehuisves, asook om op die bed te spring, om mekaar te jaag, te swaai, op ‘n glyplank te speel of op ‘n rondomtalie. Hierdie vloer staan bekend as sosiale beweging.
Die hysbak kan slegs die tweede vloer bereik as dit eers lank genoeg op die grondvloer en die eerste vloer vertoef het. Die tweede vloer staan bekend as vaardige of beheerde beweging. Hierdie bewegings neem baie lank om te ontwikkel en baie verskillende bewegingsmoontlikhede is hiervoor nodig: geleenthede om vrylik te kan beweeg en volgens opdrag te kan beweeg – met en sonder musiek, met en sonder middele soos byvoorbeeld serpe, of boontjiesakkies, groot en kleiner balle, balanseerbalke, hoepels en motorbande wat halfpad begrawe is. Dit ontwikkel wanneer fantasie, drama en dans betrek word. Dit ontwikkel ook deur ure buite deur te bring deur te klim, te hardloop, te spring en te rol terwyl groot motoriese beweging in die proses omgeskakel word in fyn motoriese beweging. Vir hierdie omskakeling om te kan plaasvind, moet ‘n kind eers leer om op te hou beweeg.
Balans beteken ‘n kind het sy groot motoriese spiere sodanig ontwikkel dat hy nou in staat is om stewig in ‘n regop posisie te kan bly, ongeag of hy beweeg of nie beweeg nie. Eers wanneer ‘n kind ‘n sin vir balans ontwikkel het, is hy regtig gereed om aan te beweeg na ‘n tafel en stoel, papier, kryte en skêre – definitief nie vroeër nie.
Die ontstellendste is dat meer en meer kinders elke jaar met hiperaktiwiteit gediagnoseer word.
Daar is baie redes waarom ‘n kind as hiperaktief gediagnoseer kan word: ‘n gebrek aan dissipline, ‘n ontoereikende dieet, afwykende primitiewe reflekse, chemiese wanbalanse en nog vele meer. Soms kom ‘n kind hiperaktief voor omdat hy nog nie genoegsaam beweeg het om sy balans te vind nie. Balans is daardie perfekte ewewig tussen links en regs, tussen vorentoe en agtertoe, tussen platlê en regop staan en kan alleen deur baie beweging ontwikkel word.
In ‘n neutedop saamgevat: ‘n kind moet baie beweeg voordat hy kan stilsit of stilstaan. Balans word nie deur enige spesifieke beweging ontwikkel nie – die kind moet leer om sy beweging te beheer voordat hy balans kan ontwikkel. As ‘n kind nie kan stil wees nie, word lees, skryf en redenering erg gekortwiek. ‘n Liggaam wat onbeheersd beweeg, werk soos ‘n GPS wat gedurig heroriënteer sonder om ‘n spesifieke taak te voltooi.
Leer behels die ontwikkeling van vaardighede en vaardighede word ontwikkel deur die beweging van die spiere. Goddard (2002) redeneer soos volg:
De Jager, M. 2010. Mind Moves – moves that mend the mind. JHB: Mind Moves Institute.
De Jager, M. 2012. What does controlled movement have to do with learning? JHB: Mind Moves Institute.
Goddard, S. 2002. Reflexes, learning and behaviour. Oregon: Fern Ridge Press.
TEDGlobal, 2011. Daniel Wolpert. The real reason for brains, aanlyn video, afgelaai 10 Februarie 2012, http://www.ted.com/talks/daniel_wolpert_the_real_reason_for_brains.html