Deur Hanlie van Zyl
In skole word daar verskeie planne gemaak om kinders so af te rig dat hulle akademies moet presteer. Ou vraestelle, opsommings, ou notas van vorige jare het alles gesogte items geword wat almal naarstigtelik gebruik in ‘n poging om hul akademiese prestasie te verbeter.
Tog lyk dit nie of dit noodwendig die antwoord is nie. Die meeste kinders sit met hul hande in die hare wanneer hul leer, want party van hul voel: “Ek kry nie die feite in my kop nie”, terwyl ander weer voel hulle ken die werk op die punte van hul vingers, maar dit wat hul geleer het, word nie presies so gevra nie, en dan weet hul nie hoe om dit te antwoord nie. Dit laat mens wonder, almal leer, maar leer hulle so dat hul insig het in die werk asook die vaardigheid ontwikkel om verskillende probleme te kan oplos? Indien nie, is insig en probleemoplossing iets wat gekweek kan word?
Om by ‘n antwoord uit te kom, moet ons eers kyk wat beteken dit om te leer. Dr Melodie de Jager (2006) stel dit dat leer nie net die onthou van feite is nie, maar dat dit ‘n dinamiese proses is waarin kennis en vaardighede, deur middel van kritiese denke en kreatiewe probleemoplossing, verkry en onthou word – met die doel om nuwe betekenisse te skep en nuwe gedragspatrone te vestig. Dus ‘n vaardigheid wat nie net in die klaskamer en vir toetsskryf geld nie, maar ‘n lewensvaardigheid wat ‘n kind in staat kan stel om te kan aanpas by enige situasie binne en buite die klaskamer.
In die klaskamer word telkemaal gevind dat die feite presies herhaal kan word, deur dié leerders wat goed lees, feite raaksien en luistervaardig is, mits die vraag direk uit die handboek se voorbeelde kom. Hierdie leerders weerspieël die eienskappe van ‘n dominante linkerbrein wat goed met feite, detail en woorde omgaan en deur herhaling maklik leer en onthou. Hulle punte is gewoonlik goed as die vraestel feitevrae bevat, maar namate meer insigvrae in die hoër grade gevra word, raak hulle moedeloos, want hul punte lyk nie meer dieselfde nie. Hulself, ouers en onderwysers verstaan nie wat aangaan nie, want hul verwag beter punte.
Dis egter nie net hierdie kinders wat probleme met leer ervaar nie, leerders wat ‘n voorkeur het vir ‘n kinestetiese leerwyse en wat die beste leer deur praktiese ervaring, vind dit baie moeilik om te leer as leerstof net verbaal oor gedra word of uit boeke kom (De Jager, 2019). Hulle raak verlore met baie notas en aantekeninge en kan ook sukkel om insig te kry en die vaardigheid van probleemoplossing te ontwikkel, omdat hulle dit nie regkry om genoeg feite vas te lê.
Daar ontstaan dus ‘n leerblokkasie by kinestetiese leerders en leerders met ‘n dominante linkerbrein, omdat hulle sukkel met begrip van die leerinhoud en probleemoplossing om nuwe betekenis te skep aan kennis.
Emosies is die “gom” wat inligting in die geheue plak. Dit bepaal die brein se vermoë om te assimileer, patrone vanuit sintuiglike inligting te vorm, dit te onthou en toepaslik te reageer. Vir inligting om in die langtermyn geheue geberg te word, moet dit met emosie belaai wees (De Jager, 2020). Die kognitiewe brein filtreer alle sensasies. As iets goed voel, sal die brein dit deurlaat. Motivering, word vanuit die emosies ontsluit (De Jager, 2019).
Persepsie is die proses wat gewaarwording en interpretasie verleen aan dit wat die sensoriese organe stimuleer. Dit is dus die proses wat betekenis aan sensoriese inligting gee en vereis vaardighede van diskriminasie, vergelyking en kommunikasie wat die basis van leer is (De Jager, 2020).
As ‘n leerder die kognitiewe funksie van sy brein kan inspan om alle sintuiglike insette te verwerk (De Jager, 2019) deur die persepsie daarvan te hê en dit deur ervaring versterk is, sal daar nuwe betekenis geskep word en nuwe gedragspatrone ontstaan sodat leer kan plaasvind.
Vryf die holte net onder die sleutelbeen in lyn met die linkeroog.
Sit op ‘n stoel en strek albei bene voor jou uit met die hakke op die vloer. Lig albei bene van die vloer af op. Buig en punt albei voete se tone en let op of die kuitspiere stram voel. Laat rus die linkervoet op die vloer en buig die regtervoet; behou die posisie vir agt tellings. Ontspan Herhaal die oefening ten minste drie maal. Laat rus die regtervoet op die vloer en buig die linkervoet; behou die posisie vir agt tellings. Ontspan. Herhaal die oefening ten minste drie maal.
Hou twee potlode of stokkies met gekleurde linte aan die punte tussen duime en wysvingers vas. Laat die potlode op die holte tussen die duim en wysvinger en op die middelvinger rus. Beweeg die arms in ‘n spieëlbeeld asof jy ‘n koor dirigeer.
Masseer albei oorskulpe gelyktydig van bo na onder met sirkelbewegings.
Hou die duim op elmboogafstand van die oë en fokus daarop. Beweeg die duim opwaarts, eers rondom die linkeroog en dan rondom die regteroog. Herhaal vyf maal. Ruil die hande om en herhaal dieselfde proses. Trek altyd eers ‘n sirkel om die linkeroog en dan die regteroog.