
Deur Mari Bezuidenhout
“Dink aan beweging as medisyne – gratis medisyne met amper geen newe-effekte nie”. – Dr Kevin O’Neal
Daaglikse beweging kan die volgende spesifieke voordele inhou:
- Hou ons jonger as ons chronologiese ouderdom: beweging laat ons dieper asemhaal en meer suurstof inneem. Meer suurstof na ons selle beteken gesonder selle en langer sellewe. Hoe langer ons selle leef, hoe langer kan ons leef! Dit kan selfs die groei van nuwe breinselle in ouer individue stimuleer.
- Gesonder vel en organe: met beweging verhoog ons ons suurstofinname en ook ons sirkulasie. Dit beteken bloed, limf en intra-sellulere vloeistowwe beweeg meer effektief deur die liggaam. Meer suurstof en voeding bereik ons selle en gifstowwe word meer effektief verwyder.
- Minder asemhalings probleme: beweging lei tot dieper asemhaling, wat weer die longe se kapasiteit en krag verbeter.
- Bevorder immuniteit en verminder infeksies: die immuniteitselle werk vinniger en meer effektief as mens gereeld beweeg. Maar die invloed is nie net fisies nie: Beweging skei ‘goedvoel’ hormone af, wat ons selfvertroue ’n hupstoot gee en op sy beurt ons immuniteit bevorder.
- Bevorder spysvertering en voorkom konstipasie: 70% van ons immuniteit is gesetel in ons spysverteringstelsel! ’n Kolon wat goed funksioneer, tesame met gesonde eetgewoontes, lei tot gebalanseerde bloedsuiker, gesonder cholesterolvlakke en beter hormonale balans. Dit maak mens dus ook minder vatbaar vir hormoonaangedrewe kankers van die kolon, bors, prostaat.
- Help om inflammasie in toom te hou:Chorniese inflammasie in die liggaam is die voorganger vir kroniese leefstylsiektes. Verminder inflammasie en ons verminder siektes soos hartaanvalle en beroertes.
- Verlaag stresvlakke: beweging kan ons kalmer en meer gefokus maak. Dit stel boonop goedvoel hormone vry wat ons ’n selfvertroue hupstoot gee en tot minder angstigheid en frustrasie lei.
- Beter slaap: minder stres en angs lei tot beter slaap. As jy boonop vars lug en natuurlike lig inkry terwyl jy beweeg, is dit ’n verdere hupstoot vir beter slaap!
- Verhoed beendegenerasie en verbeter beendigtheid: beweging hou die skelet gesond deur die vorming van nuwe beenselle aan te moedig. Gewigdraende bewegings is veral goed om osteoporose te verhoed en te verbeter
- Sterker spiere, meer soepelheid– sterk en soepel spiere is die sleutel tot onafhanklikheid. Skouers, arms en hande moet sterk en soepel bly om jou gemaklik te kan opstoot om op te staan, om knope vas te maak, te skryf, eet ens.
- Verbeterde liggaamshouding en balans:beweging hou spiere, ligamente, gewrigte en tendons sterk en soepel. Dit help met ’n regop liggaamshouding en met balans en gemak van beweging. En met beter balans het ons minder kans om te val!
- Stimuleer die sintuieen hou hulle fiks.
- Verbeter jou gemoedstoestand, konsentrasie en geheue.
- Skep aantrekkingskrag en ’n gevoel van samehorigheid. Nie net laat beweging ons goed voel en goed lyk nie, maar dit maak ons meer aantreklik vir ander in liggaam, siel en gees. Wanneer ons saam met ander beweeg skep dit ’n band of kameraderie. Dit laat ons lekker voel en gee ons ’n positiewe selfbeeld en strek ons gemoed en denke.
- Pret! Beweging is ’n manier om pret in jou lewe in te bring. Pret en genot sit jou in ’n positiewe stemming, wat oorloop tot ’n positiewe lewensuitkyk. Dit lei weer tot meer selfvertroue en help om skugterheid te oorkom.
Hoe kan ek meer beweeg? Die geheim is om beweging pret en deel van jou daaglikse lewe te maak!
Beweging moet nie ’n “taak” wees nie – dit moet lekker wees. Dit maak nie saak hoe oud jy is of in watter fisiese toestand jy jou tans bevind nie – almal kan voordeel trek uit meer beweeg.Waar dit ookal moontlik is, probeer om te beweeg in die natuur, dit stimuleer die sintuie en brein saam met die liggaam.
Voorbeelde van prettige maniere om aan die beweeg te kom:
- Mind Moves (eenvoudige aksies om die sintuie helder, spiere sterk en brein wakker te hou).
- Tuinwerk– behalwe die bewegingsvoordeel en die lekker vars lug, gee dit mens ’n gevoel van bevrediging as mens die resultaat van jou handewerk kan sien en geniet. En met die prys van groente deesdae, het ’n groentetuintjie ook ’n finansiële voordeel!
- Stap – nog beter, begin ’n stapgroep en geniet die sosiale aspek saam met die beweging.
- Loop en praat– loop tydens ’n telefoon oproep of skeduleer ‘lopende’ afsprake / ontmoetings ipv stilsit terwyl jy gesels. (Ek het al praatjies bygewoon waar die spreker stadig heen en weer geloop het, omdat sy díé dag nog nie genoeg beweeg het nie!)
- Parkeer ’n bietjie verder van die ingang eerder as om die naaste parkeerplek te soek. Nie net sal die entjie se stap jou goed doen nie, dis dikwels vinniger en minder stresvol!
- Gebruik die trappe ipv die hysbak.
- Neem die langer roete na jou bestemming wanneer jy stap. Dit help sommer ook om die brein en sintuie te stimuleer as jy nie dieselfde pad oor en oor stap nie.
- Belê in ’n wiegstoel – wieg skakel die brein beide aan en af – ’n puik brein ’booster’. Wieg is terselfdetyd ontspannend, energiegewend en kalmerend. In 1955 het die doktor van die voormalige president van die VSA, John F Kennedy, ’n wiegstoel voorgekryf vir Kennedy se chroniese rugpyn. JFK het dit só effektief gevind dat hy ’n wiegstoel saamgeneem het op Air Force One, een gebruik het by Camp David, en ook een by sy familiewoning! Navorsing toon dat wieg puik voordele inhou vir beide fisieke en geestelike gesondheid. Die wiegaksie aktiveer die bobeen- en maagspiere, bevorder sirkulasie en soepelheid en versterk die knieë. Maar dis die uitwerking van die ritmiese beweging wat interessante voordele inhou: “Rocking can tap into the parasympathetic nervous system. This is the sedative side of the nervous system and therefore good for pain management.” [physiotherapist Brad Beer]
- Trampoline (“rebounding”)– Nie net is dit pret nie, dit bevorder limfatiese dreinering, suurstofvlakke, energie, goed-voel hormone, spierkrag en gee die immuunstelsel ’n hupstoot.
- Om ’n rolstoel of kinderwaentjie te stoot terwyl jy stap, gee jou kans om ook jou armspiere bietjie te gebruik. Neem jou kleinding of vriend / vriendin wat nie self kan stap nie, vir ’n lopie.
- Neem jou kind / kleinkind na ’n speelparkie en, ipv hul net dop te hou, speel saam. Wanneer laas was jy op ’n swaai? Nes ’n wiegstoel, kry dit ’n mens aan die beweeg en hou dit mens aan die beweeg.
- Dans! Beweging in ritmeis een van die beste maniere om te beweeg. Nie net hou dit die lyf aan die gang nie, maar die brein word ook gestimuleer omdat jy op die passies konsentreer. Dit hoef nie ’n formele dansklas te wees nie – sit ’n bietjie musiek aan terwyl jy skottelgoed was of huisskoonmaak en beweeg in ritme saam. Lag en geniet die stroom goed-voel hormone wat deur jou lyf bruis.
- Trek uit daai skoene en loop ’n bietjie kaalvoet. Ons voete moet ook beweeg (hul ondersteun tog ons hele liggaam). Kaalvoet-loop help om die die spiere aan die onderkant van ons voete meer te aktiveer. Haak-toon loopen kuitstrekke is ook puik bewegings.
Wees kreatief en soek nuwe, prettige maniere om meer beweging in jou dag te geniet. Jou fisiese en geestelike toestand sal ’n lekker hupstoot kry deur bloot te doen waarvoor ons gemaak is… beweeg.
Bronne:
De Jager, M. 2011. Die Glinster in My Grysheid. Linden: Mind Moves Instituut ;
http://www.benmedder.com/movement/ ; www.nutritiouslife.com
https://www.parkwoodheights.com/media/the-benefits-of-movement ; https://www.bodyandsoul.com.au/health/health-news/how-a-rocking-chair-can-help-you-heal-/news-story/9f7db110575c8c7cddb9ebb58b8aa5c8
www.paulayoumellrn.com/23-benefits-of-movement-exercise/ ; www.health.harvard.edu/blog/how-simply-moving-benefits-your-mental-health-201603289350 ; www.health24.com/Fitness/FitnessGettingStarted/20-proven-benefits-of-exercise-20120721)