Deur Mari Bezuidenhout
Beweging is ’n sensor vir die wêreld om ons. ’n Interessante studie wat gedoen is met mense wie se gesigspiere verlam is deur Botox, het getoon dat hulle nie ander se emosies kon ‘lees’ nie en nie hul eie emosies kon beskryf nie! Ons móét mekaar se liggaamstaal en gesigsuitdrukkings kan weerspieël om emosioneel en verstandelik te kan kliek.
Beweging gee ons ’n ryk uitdrukkende taal wat veel meer as blote woorde oordra. Dit help ons om meer vervullende, lankdurige verhoudings te vorm met minder misverstande of kommunikasiegapings.
Ons is geneig om te dink dat denke ’n proses is wat slegs in ons koppe gebeur. Maar in werklikheid pas ons ‘embodied cognition’ toe – die liggaam se bewegings beïnvloed breinfunksies soos die verwerking van informasie en besluitneming, en vice versa.
So ons denke word eintlik deur ons hele ligaam gevorm! Navorsing dui aan dat beweging en ons denke nouliks saam verweef is. Dit blyk dat die cerebellum – daardie gedeelte aan die basis van ons fisiese brein wat voorheen beskou is as bloot verantwoordelik vir balans, postuur, koordinasie en motoriese aanleg – ook ’n rol speel in denke en emosies.
En nie net dit nie, beweging bevorder breingesondheid en -funksie deur nuwe neurone te help groei en floreer (i.e. neurogenesis). Ons breine produseer daagliks duisende nuwe neurone, veral in die area betrokke by leer en geheue. Beweging – hetsy die aanleer van nuwe fisieke vaardighede of bloot die doen van ’n oefening wat sirkulasie bevorder – gee hierdie nuwe selle ‘n doel sodat hulle lewend bly, eerder as om af te sterf.
Ons is bewus daarvan dat ’n mens se gevoelens en emosies jou beweging kan beinvloed, maar dit is nie altyd so voor die handliggend dat beweging jou gevoelens en emosies kan beinvloed nie. Bv: Wanneer ons moeg of hartseer voel, beweeg ons dikwels stadiger. Wanneer ons angstig voel, raak ons of aan die skarrel (hiperaktief) of ons raak amper totaal “verlam” (apaties). Maar onlangse navorsing dui aan dat die konneksie tussen die brein en die liggaam ’n “two-way street” is en dit beteken dat beweging op sy beurt ons brein kan beinvloed!
Beweging kan angstigheid verminder deur ons breine se veg-of-vlug instink minder reaktief te maak. Gereëlde beweging kan ook depressiwiteit verminder deur die goedvoel-hormone wat afgeskei word wanneer ons aktief is. Beweging kan dus ’n effektiewe medikasie of terapie wees.
As jy goed kan beweeg, dink, voel en leef jy ook goed!
Bronne:
www.health.harvard.edu/blog/how-simply-moving-benefits-your-mental-health-201603289350 ;
www.precisionnutrition.com/healthy-movement ;
www.nhs.uk/conditions/stress-anxiety-depression/mental-benefits-of-exercise/)