Deur Johan Leslie
Dan, skielik krimp my hart ineen as ek dink aan my eie kind (nou elf jaar oud) se eie moeilike reis van graad tot graad met verskillende onderwysers en terapeute. En ek voel skielik self ook die hopeloosheid. Ek dink aan sy oë wat vol trane skiet wanneer hy die leesstuk, heel elementêr, met ‘n moeë, jare-oue, bewende stem aandurf; sy vinger volg huiwerig saam met sy tranerige oë, die warboel van simbole, soos hy woord vir woord raai en huiwerig opkyk vir my goedkeurende of afkeurende blik. Net nog iets wat nog ‘n brokkie inligting by sy reeds waansinnige, neurologiese proses intrek…
Enige Gevorderde Mind Moves® Instrukteur (GMMI) sal in so ‘n situasie instinktief die primitiewe reflekse begin toets, maar hoekom? Wat is die sin daarvan, en kan dit regtig bydra tot ‘n kind se leesvermoë? Wees asseblief net vir ‘n oomblik geduldig met my, want ek wil graag eers vir julle wys hoekom ons as Mind Moves Instrukteurs juis nie anders kan as om, wanneer ʼn kind wat goeie visie maar wel leesprobleme het, by primitiewe reflekse te begin nie.
Verbeel jou jy is in ‘n donker plek en skielik besef jy dat jy in vloeistof gedompel is. Alle klanke klink dof en sonder om te dink, skop jou oorlewingsdrang in: “Ek gaan nie kan asemhaal nie!” Jou hart versnel oombliklik, volumes adrenalien word afgeskei en jou spiere is slaggereed om met bomenslike krag na die oppervlak te swem. “Waar is die oppervlak?”
Dan besef jy meteens dat suurstof nie ‘n probleem is nie. Op een of ander manier het jou liggaam nie ‘n behoefte om asem te haal nie. Geleidelik raak jou oë gewoond aan die donker en jy kan in die dowwe lig voor jou iets anders uitmaak – dit is ‘n embrio! Jy is in die baarmoeder! Die wesentjie voor jou is maar vier weke oud. Stadig begin die inligting wat jou sintuie onophoudelik versamel, sin maak. Jy raak kalmer en rustiger soos wat jou brein die situasie verwerk………. maar wat van hierdie wesentjie?
Die wesentjie is veilig, want hy het nog nie ‘n ontwikkelde brein nie. Konsepte van suurstof, swem, hoor, dink en donker is nog nie in sy brein gevorm nie, alhoewel dit tog bestaan. Dit beteken die wesentjie se bestaan word nie deur rasionele besluite beheer soos joune nie, maar eerder deur instinktiewe en onwillekeurige sametrekkings – die reflekse!
Julle sien, ons Skepper het die wonderlikste ontwerp, wat soos ‘n goue draad regdeur die hele skepping loop, binne-in elke lewende organisme gekodeer. Die logiese, ordelike, stap vir stap ontwikkelingsplan is in elke selletjie van ons DNA vasgelê. En reflekse is deel van daardie ontwerp. Maar wat is ‘n refleks? ‘n Refleks behels onwillekeurige aksies wat ʼn sekere fase van menslike ontwikkeling ondersteun en neurologiese paadjies daarvoor help vaslê, waarna die refleks gaan rus sodat die volgende refleks kan begin om die volgende fase van ontwikkeling verder te neem. Dit is baie eenvoudig gestel en geensins so lineêr as wat dit klink nie. Elke refleks het, net soos die sywurm, ‘n vaste lewenssiklus. Die refleks ontstaan, ontwikkel, integreer en inhibeer om te gaan ‘rus’ (nie sterf nie), vir ingeval die brein erge trauma ervaar, waarna dit weer sal begin werk om die beskadigde neurologiese paadjies te herstel. Hierdie siklus kan ons duidelik sien in mense wat trauma in die brein ervaar, soos byvoorbeeld met ‘n beroerte en dan daarna weer herstel.
Met hierdie siklus in gedagte, gaan ons nou ‘n bietjie meer fokus op die ontwikkeling van die oog, soos wat dit die geleidelike, ordelike en logiese bloudruk volg om vir lees te begin voorberei. Die fisiese ontwikkelling van die oog met al sy onderdele is ‘n wonderwerk op sigself, maar ek gaan slegs fokus op hoe die reflekse die oog as orgaan, stap vir stap voorberei vir die taak om te lees.
Kom ons bekyk nou weer die embrio wat intussen soveel ontwikkel het dat dit nou al ‘n klein mensie is. Dit is week ses-en-twintig en die baba kan vir die eerste keer sy ooglede oopmaak en knip. Dit is egter nie die eerste keer wat hy kan sien nie. Die fetus kan, net soos ons as volwassenes, lig deur geslote ooglede waarneem, en sal dus ook terwyl die oë nog toe is, alreeds op skerp lig in utero reageer.
Op ses-en-twintig weke is die primitiewe reflekse reeds aktief en is ook tydens die geboorte teenwoordig om met díe proses te help, om dan ‘n paar maande na die geboorteproses te inhibeer (De Jager, 2020). Die volgende paar reflekse is onder andere op die stadium aktief:
In opsomming word die volgende bewegings deur die oë gedoen, soos wat die primitiewe reflekse werk:
Die fokus van die oog word dus geoefen deur aanhoudend naby en ver te fokus, op & af en links & regs te kyk, en ook om beweging te volg.
Wanneer ons die reflekse, die moontlike emosies wat daarmee gepaard gaan, die beweging van die oog, die fokus van die oog, asook die posisie van die liggaam alles in een tabel vergelyk, sien ons ‘n baie interessante patroon:
Refleks | Emosie | Oogbeweging | Oogfokus | Liggaamsposisie |
Moro | Skrik, spanning | Wyd | Ver/wyd | Agteroor en oop – Reseptief |
Soek en Suig | Geborge en veilig | Gesentreerd | Naby/gefokus | Vorentoe en toe – Ekspressief |
TLR | Ongemak en gespanne in die agteroor postuur & gemaklik en geborge in die vorentoe postuur. | Opwaarts en afwaarts. Afwisselende bo na onder beweging. | Ver en naby -afwissellend | Opwaarts en afwaarts afwisselend. Bou die brug tussen bo en onder. Kognitief en emosioneel. |
ATNR | Gemaklike en gespanne spierbeweging gelyktydig, kognitiewe spanning soos wat die vertikale middellyn gedefineer word. | Links en regs van kant na kant. | Volg ‘n bewegende voorwerp op armlengte van links na regs. | Uitgestrek en saamgetrek gelyktydig. Bou die brug tussen links en regs. Bou die brug tussen detail en geheel (Logiese en Gestalt brein) |
Nes alles in die natuur, ontwikkel die reflekse op ʼn sistematiese wyse al die beheerste bewegings wat nodig is vir die oog om effektiewe en sinvolle sensoriese insette na die brein vir prosessering te kan stuur. Ons kan dus sien dat alhoewel ‘n kind 20/20 visie kan hê, dit wel moontlik is dat, as die reflekse nie geïnhibeer is nie, die brein nie sinvolle sensoriese insette kry om met gemak te kan lees nie.
As volwassenes weet ons dat groei alleenlik moontlik is deur uitdagings te oorkom. Dit geld op talle terreine: die fisiese terrein soos byvoorbeeld met atlete wat hulself voortdurend tot beter prestasies dryf; op emosionele terrein, waar ons groei deur ons vrese wat die hedendaagse samelewing bring, daagliks te konfronteer en te oorkom; en op kognitiewe terrein, waar ons akademies onself gereeld moet uitdaag om nuwe kennis en vaardighede te verwerf. Die lys gaan aan en aan. Uit die tabel kan ons ‘n pragtige dans sien wat die gemaksone aanhoudend eers uitdaag en dan weer gerusstel; wat naby fokus en dan weer ver; wat opwaartse beweging ontlok, en dan weer afwaarts; wat kant tot kant beweging meebring; wat ʼn regop postuur en dan weer ʼn geboë postuur veroorsaak; wat wissel tussen detail en geheel; asook tussen kognitief en emosioneel. Die primitiewe reflekse is inderdaad besig om al die grondwerk te doen om uiteindelik die oë in staat te stel om sinvolle, geïntegreerde, sensoriese insette aan die brein te kan gee.
Julle sal verseker saamstem dat goeie visie en goed geïntegreerde primitiewe reflekse nie noodwendig beteken dat ‘n kind goed sal lees nie. Ons weet dat visuele geheue en baie ander faktore ook nog ʼn rol hierin speel, maar sonder die korrekte bedrading van goed geïntegreerde primitiewe reflekse, is daar geen manier dat die brein die korrekte sensoriese insette kan kry om sin te maak van die orde van geskrewe simbole nie. Ongelukkig haak ons baie keer vas by goeie visie en verstaan dan nie hoekom kinders met gemiddelde tot hoë intellektuele vermoëns, nie kan lees nie. Onderwysers skryf dit soms aan luiheid toe of hul vermoed dat daar iets fout moet wees, maar besef nie dat die probleem kan lê by die manier waarop visuele insette na die brein gevoer word nie. Dit is juis om hierdie rede dat die GMMI heel eerste die reflekse assesseer om te sien of die oorsaak van die probleem by ongeïnhibeerde reflekse lê, en dit dan aanspreek deur ‘n gepaste Mind Moves intervensieprogram aan te beveel.*
Dit is veral ook om die rede dat dit so noodsaaklik is dat opvoedkundiges regoor Suid Afrika bewus moet wees van die voorbereidende effek van die primitiewe reflekse vir sinvolle sensoriese insette, sodat die brein inligting effektief kan prosesseer vir die suksesvolle uitvoer van akademiese take soos lees en skryf.
____________
De Jager, M. 2019. Mind Moves: Removing barriers to learning. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing.
Mowbray, L., 2020. Moro Reflex | Vision Therapy At Home. [Online] Visiontherapyathome.com. Available at: https://visiontherapyathome.com/moro-reflex/ [Accessed 13 June 2020].
*Vir meer inligting oor Mind Moves: www.mindmoves.co.za