Is dit sinvol vir ouer persone om aktief te verouder?

CONEXIONES COMPLEJAS ENTRE EL CONTROL DE IMPULSOS, LA DISCIPLINA Y LA CRIANZA
December 5, 2025
MIND MOVES IN A LSEN SCHOOL
May 7, 2026

Grandfather and grandson playing in backyard with gardening tools

deur Johannie Louw

In die Wet op Ouer Persone (13 van 2006) word van projekte wat dienste aan ouer persone lewer verwag om ‘n aktiewe verouderingsprogram aan te bied en maandelikse statistiek aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling te voorsien oor die bywoning van die aktiwiteite.

Dit bly egter  ‘n uitdaging om persone wat aftree by aktiwiteite te betrek en aktief te hou. Wat sou die redes wees en wil ouer persone op so ’n wyse aktief besig gehou word?

In die boek Distiled wisdom van dr Hannetjie Van Zyl-Edeling skryf sy dat persone wat by aftree-ouderdom kom aan die volgende vrae aandag moet gee:

  • Watter aspekte of gewoontes van ouer persone vind jy ongemaklik of moeilik en hoekom het die kwessies so ’n emosionele invloed op jou?
  • Het jy ‘n duidelike siening oor hoe ouer persone behoort op te tree?
  • Kan jy goeie of slegte ervarings onthou wat jy as ‘n kind met ouer persone gehad het?
  • Hoe verouder jou familie?
  • Hou jy van wat jy sien? Kan dit moontlik vrese by jou voortbring om te verouder?
  • Dink jy jy gaan op dieselfde wyse verouder as jou ouers of voorouers?

Dit is baie interessante vrae om te oorweeg, omdat dit ‘n invloed kan hê op die wyse waarop jy verouder of hoe aktief jy in jou senior dae gaan wees.

‘n Oupa wat van vroeg af van die stoep af geboer het teenoor ‘n oupa wat in sy tagtigerjare nog gewerk het, kan ‘n beduidende invloed hê op ‘n kleinkind se latere idee van veroudering.

‘n Ouma wat haar tyd hoofsaaklik voor die TV deurbring  of ‘n ouma wat nog besig in haar gemeenskap is en aan baie aktiwiteite deelneem dra ook by tot die beeld wat die kinders van veroudering het.

Wanneer aftree-ouderdom bereik word, is dit nodig om doelbewus jou denke oor veroudering te ontleed en ‘n doelbewuste besluit te neem oor hoe jy jou aftrede gaan hanteer. Het jy klaar gewerk en gaan jy nou niks doen nie of is dit ‘n nuwe fase in jou lewe?

Jou aftreejare kan tot 35 jaar lank wees. Dit is ‘n beduidende deel van jou lewe as jy dit vergelyk met wat alles in die eerste 35 jaar van jou lewe gebeur het.

Baie mense se werk beslaan so ‘n groot deel van hulle lewens dat geen tyd aan iets anders soos stokperdjies of sport of ander aktiwiteite in die gemeenskap afgestaan word nie. Wanneer hulle aftree en die werk nie meer deel van hulle lewe is nie, val daarmee saam hulle gevoel van waarde weg. Hulle bereik ‘n stadium wat hulle afgesonder raak en nutteloos voel. Hulle besige werkslewe het ook nie juis tyd gelaat om aan aftrede te dink of daarvoor te beplan nie. Dit laat hulle dikwels wonder waarom hulle nog hier is en wat nou?

Na dekades waarin jou waarde gemeet is aan hoeveel jy vermag stop dit nie skielik op jou 65ste verjaarsdag nie. Soms word die begin van aftrede gebruik om skedules op te stel asof ontspanningstyd dieselfde rigiede struktuur behoort te hê as werkstyd.

Die psigologie daaragter is interessant. Ons is gekondisioneer om te glo dat ongestruktureerde tyd gelykstaande is aan luiheid. Maar in werklikheid is die konstante behoefte om produktief te wees dikwels angstigheid wat ’n sosiaal aanvaarbare masker dra.

’n Persoon word 6h00 wakker en dan begin hy dadelik met sy doenlysie. Dit het hom maande geneem om te besef dat hy aftrede hanteer asof daar ’n prestasie-evaluering oppad is.

Die oorgang van ’n lewe van konstante produktiwiteit na een van net teenwoordig wees is nie maklik nie. Ons het dekades geleef  waarin ons gekondisioneer was dat ons waarde gemeet word aan ons insette. Die mense wat egter behoorlik blom in hulle aftreejare het iets geleer wat ons ander nog sukkel om te verstaan: jou bestaan hoef nie geregverdig te word nie.

Jy hoef nie jou middagslapie te verdien nie. Jy hoef dit nie te regverdig dat jy ’n boek in die middel van die dag lees nie. Jy hoef ook nie aan enigeen te verduidelik waarom jy vandag niks produktief gedoen het nie.

Die grootste geskenk van die tydperk in jou lewe is nie meer tyd nie, maar dit is dat jy jouself uiteindelik  toestemming gee om op te hou om tyd te sien as ’n bron wat voluit gebruik moet word. Sekere dae is jy besig. Sommige dae bestaan jy net. En beide is ewe waardevol.

Dit is gewoonlik die mense wat van groot waarde in ‘n gemeenskap kan wees met hulle kennis, wysheid, belangstelling en ervaring. Dit is belangrik dat hulle rustig raak en oor hulle toekoms besin en dit beplan. Waaraan ook in hierdie tyd gedink kan word is die drome wat jy as kind gehad het of aan dinge wat jy nog altyd graag wou doen.

Baie afgetrede mense is nog sterk en gesond en kan ‘n nuwe loopbaan begin met baie uitdagings of ‘n nuwe stokperdjie wat beteken nuwe kennis en inligting kan bekom word en dit kan baie stimulerend wees. Maak seker dat fisiese aktiwiteite en sosialisering deel van die beplanning is. Gaan jy rolbal of gholf leer speel of gimnasium toe gaan of net stap. Groepe wat dieselfde stokperdjie beoefen soos ‘n kwilt- of voëlkykgroep kan  kontak met mense met dieselfde belangstelling meebring en kan nuwe vriende gemaak word.

In ‘n Tuiste sou dit belangrik wees om gesprekke met inwoners te voer oor hoe hulle aan veroudering dink en nou hulle verouderding sien en beleef, wat hulle beplan of wat hulle nog wil doen. Dit is gewoonlik individuele behoeftes en kundige vrywilligers kan betrek word om dit aan te bied. Dit kan vir afgetrede vrywilligers ‘n sinvolle tydverdryf word.

Wanneer ek voor ’n groep staan om Senior Mind Moves bekend te stel, besef ek elke keer hoeveel kennis en ervaring die groep het wat voor my sit en stel ek dit teenoor die ongelooflike werkloosheid in Suid-Afrika. My vraag is dus: Beteken aktiewe veroudering om ouer persone besig te hou of moet dit juis die tyd wees wanneer hulle kennis oorgedra word na die jonger geslagte toe?

Ek lees in Genesis 12:2 wat die Here aan Abram gesê het:

Ek sal jou seën….

Sodat jy ‘n seën sal wees.

Dit is waarskynlik waarom daar ’n aftrede bestaan. Ons moet ‘n opname maak van al ons kennis en talente waarmee ons geseën is en dit gebruik om ‘n seën vir ander te wees.

Bronnelys

Van Zyl-Edeling, H. 2013.  Distilled Wisdom, A practical guide to positive living and ageing. Johannesburg: Porcupine Press.

https//geediting.com/author/farley-ledgerwood/}https:/) March 10,2026

www.seniormindmoves.co.za

Login

Lost your password?