


Daar is baie min dinge wat hoër op die skaal van emosionele ‘oorweldiging’ registreer as om ’n nuwe ouer te word. Die ontsag om jou eie baba in jou arms te hou registreer gelukkig net so hoog, maar op die skaal van ‘verwondering’. Hierdie twee ewe intense, maar teenoorstaande emosies is natuurlike metgeselle in die reis wat ons ouerskap noem.

Dit is veral waar wanneer ’n mens werklik verstaan dat jou baba se brein by geboorte ‘n orgaan-in-wording is wat vir jou wag om ‘n innige band mee te vorm en hulle teen te veel indrukke te vroeg in hull ewe te beskerm. Jou baba is weerloos en vertrou jou om die wêreld buite die baarmoeder stadigaan, nie eensklaps nie, aan hulle bekend te stel.

Babas word vroeg gebore omdat ons op twee bene loop. Om dit moontlik te maak, is die menslike pelvis smal om die res van ons liggaam regop en in balans te hou. Die tweede rede waarom babas vroeg gebore word, is sodat hul groot en kosbare breine veilig deur die pelvis kan beweeg. Die geboortekanaal is met uiterste sorg ontwerp om elke baba die mees respekvolle en geleidelike toegang tot die wêreld buite die beskermende baarmoeder te gee.

Diere se breine is anders. Elke dier word met ’n instinkbrein gebore en nie ’n rasionele dinkbrein soos ’n baba nie. Instink is nodig sodat elke dier in ’n spesifieke nis in die natuur pas, waar hul spesie se kans op oorlewing die beste is. ‘n Instinkbrein stel ‘n dier in staat om minute ná geboorte op te staan en instinktief net soos hul ouers te loop, iets wat ‘n baba baie maande neem om te bemeester. Babadiere het ook geen probleem om kort na geboorte na hul ma toe te stap en te begin drink nie. Daarna spandeer hulle die volgende paar maande om te leer hoe om hul omgewing te verken om veilig te bly, terwyl hulle net soos hul ouers loop en net soos hul ouers eet. Sodra hul dit regkry, het hulle klaar geleer.

In teenstelling word ’n baba met ’n paar ingeboude senuwee-verbindinge gebore wat die hart laat klop, die longe laat asemhaal, liggaamstemperatuur reguleer en die suig-sluk-asemhaal-refleks moontlik maak sodat hul kan voed. Hulle kan ook hul oë knip om dit vogtig te hou, word met ’n natuurlike belangstelling in gesigte gebore en die basiese senuwee-verbindinge om taal te kan aanleer. Maar die meeste van ’n pasbebore baba se breinselle wag vir hul ouers om (1) hulle te vertroetel, (2) sagkens en stelselmatig aan die omgewing bekend te stel, (3) speels aan te moedig om te reageer en (4) te begin beweeg.

Voor geboorte was mamma ‘n baba se hele wêreld en ’n plek waar hulle floreer het. Binne die veiligheid en begrensing van die baarmoeder het ‘n eenvoudige brein begin ontwikkel. Die baarmoeder is sensories ryk, maar ‘n gedempte omgewing – net genoeg stimulasie om ontwikkeling aan te moedig, maar nie soveel dat hul onvolwasse brein oorweldig word deur te veel stimulasie nie. Die oomblik wanneer ’n baba in ’n wêreld van swaartekrag, mense en dinge gebore word, moet die brein vinnig aanpas om te kan oorleef. Dít is presies waarom vel-op-vel-kontak direk ná geboorte die beste lanseerplatform is vir ’n lewe van leer en van aanpassing om te kan floreer.
’n Baba word met wakker sintuie gebore om die wêreld geleidelik waar te neem. Hulle word ook gebore met die breinkapasiteit om hul breinstrukture en funksies aan te pas en te verander deur hulle ervarings, omgewing, leer en ontwikkeling. Hierdie proses word neuroplastisiteit genoem word. Daarom floreer babas op speelse herhaling – dit bou sterker verbindings en ontwikkel vaardighede oor tyd en sonder druk.



Die natuur laat die sintuie op ’n sistematiese manier ontvou – die tas, beweging asook reuk en smaak sintuie ontwikkel spontaan eerste terwyl baba naby mamma en pappa is. Hierdie sintuie word eenvoudige sintuie genoem omdat hulle nie in pare voorkom soos die twee ore en twee oë nie. Hulle is die grondliggende sintuie wat verantwoordelik is vir die skep van ’n liggaamskaart in die brein waarop alle ander sintuie en breinverbindings voortbou. Dié groepie eenvoudige sintuie (tas, beweging, reuk en smaak) word ook vertroostende sintuie genoem wat emosionele en sosiale ontwikkeling moontlik maak.



’n Baba se sin vir beweging brei uit met elke primitiewe refleks sodat hulle spiere gereed is om te doen wat hulle ore en oë (ontwikkelende sintuie) hulle aanmoedig om te doen. Dit is fassinerend om te besef dat die gepaarde sintuie van gehoor (twee ore) en sig (twee oë) die snelweë is na taalontwikkeling en kognisie, maar die effektiwiteit van ‘n baba se ore en oë word bepaal deur die kwaliteit van hul eenvoudige sintuie.

Dit is die wisselwerking tussen al hul sintuie wat ’n baba in staat stel om die omgewing te verken en te bepaal wat bekend is en wat anders is. Wat bekend is, bring vreugde en wat nuut is, laat waarskuwingsklokke lui totdat mamma, pappa of ’n sorgsame volwassene stop om te troos en die ‘nuwe ervaring’ te ontsluit en betekenis daaraan te gee.

Al verstaan ’n jong baba nie alles wat jy sê nie, voel hulle jou sorg en aandag aan. Elke woord wat jy praat word in hul brein gestoor en bou ’n vroeë taalgrondslag – eers deur te luister, dan wanneer jy woorde herhaal, begin hulle jou woorde verstaan en uiteindelik gebruik hulle self jou woorde. Jou woordeskat word jou baba se woordeskat.
Babas weet net dit waaraan hulle blootgestel word. Wat jy hulle nie aan blootstel nie, sal jou baba nie ken nie. Babas leer nie selektief nie. Hulle leer alles waaraan hulle blootgestel word, so kies jou woorde, versorgers, skool en vriende sorgvuldig.

Beperkende oortuigings word hul oortuigings, beperkende gedagtes word hul gedagtes, woorde en gedrag. Skelwoorde word hul woorde; koesterende woorde word ook hul woorde.
So veel as wat ouers en versorgers ’n baba se BEWEEG-neurone stimuleer – die neurone wat hulle in staat stel om te kriewel, verken en reageer – moet hul STOP-neurone ook gestimuleer word. STOP-neurone word geaktiveer tydens speletjies soos “Waar’s-hy? Daar’s hy!”, klapspeletjies, aksieliedjies en enige aktiwiteit waar die baba leer om te WAG. Om te leer wag, is ’n bewuste eerste stap na impulsbeheer, en impulsbeheer is op sy beurt ’n natuurlike uitvloeisel van dissipline.
Kan ons van dissipline praat wanneer ons van babas praat? Absoluut. Sodra ’n baba begin beweeg, moet hulle ook leer om te STOP – nie as straf nie, maar vir hul eie veiligheid. Elke ‘Waar’s jy?’, ‘klap saam, vries!’ , aksie-rympie of liedjie is ’n les om te wag, aandag te gee en te leer dat hulle hul eie aksies kan beheer. Dit is dissipline verpak in vreugde en dit is hoe impulsbeheer begin. Impulsbeheer vorm die basis van selfregulering wat hulle deur hul hele lewe sal ondersteun – fisies, emosioneel en kognitief.
Dissipline kom van die Latynse woord wat beteken ‘om te leer,’ nie ‘om te straf’ nie. Dissipline gaan oor die aanleer van impulsbeheer. Dit stel grense wat die brein se interne STOP-neurone aktiveer. Net soos ’n motor met ’n petrolpedaal maar sonder remme gedoem is om te bots, sukkel ’n kind sonder impulsbeheer met emosionele en gedragsregulering en -beheer.

’n Gebrek aan impulsbeheer laat ’n kind angstig, onseker en verlore voel. Sonder interne remme om hulle te help om te STOP en te DINK voor hulle optree, kan dit ‘n kind laat sukkel om hulself en hul omgewing te organiseer, raak hulle verdwaal en verward en vind hulle alledaagse situasies oorweldigend. Hierdie innerlike chaos kom dikwels op twee manière na vore: sommige kinders word uitdagend en druk teen grense om ’n gevoel van beheer te kry; ander keer hulself na binne en word teruggetrokke of emosioneel afsydig om hulself teen gevoelens wat hulle nie kan hanteer nie, te beskerm. In albei gevalle is die kernprobleem dieselfde – ’n senuweestelsel wat na veiligheid, voorspelbaarheid en beloning soek.



Om impulsbeheer aan te leer begin nie met straf nie, maar met ‘n verhouding. Wanneer ’n kind veilig, gehoor en verstaan voel, kalmeer hul senuweestelsel en stel dit die dinkbrein in staat om aan te skakel. Konsekwente grense dien as eksterne remme totdat die kind hul eie interne remme ontwikkel het. Elke keer as ’n volwassene ’n kind help om te STOP en asem te haal, word nuwe senuweebane vir impulsbeheer gevorm. Oor tyd leer die kind om op bevel te stop.
Die brein se STOP-neurone werk soos ’n GPS vir gedrag: wanneer dit geaktiveer is, kan ’n kind STOP, reflekteer en hul reaksie kies. Sonder STOP is dit asof die GPS geen sein het nie – gedrag word onvoorspelbaar en reaktief terwyl die kind na ‘n gevoel van selfbeheersing soek. Die Mind Moves Massering, gekombineer met grense en omgee ouerskap, kalibreer die GPS en gee die kind ’n betroubare verwysingspunt vir selfregulering.

Selfbeheersing begin net so veel in die liggaam as in die verstand. Hierdie liggaams-gebaseerde STOP-seine stimuleer die senuweestelsel en help die brein om fisies en emosioneel rem te trap. Op hierdie manier word impulsbeheer ’n vaardigheid wat die hele liggaam insluit.
Dissipline gaan dus nie oor gehoorsaamheid nie, maar oor regulering – die proses waar ’n volwassene se kalm teenwoordigheid ’n kind help om selfbeheer te ontwikkel. Op hierdie manier word dissipline ’n onderrig-verhouding, nie ’n magsstryd nie. Dit bou vertroue, bevorder emosionele veerkragtigheid en lê die fondasie vir gesonde selfregulering dwarsdeur die lewe.
Volg die skakel vir nog artikles: https://www.mindmoves.co.za/articlespublications/
