
deur Melodie de Jager
Twee goed gebeur elke jaar in November:
- 5-7-jarige kinders word geassesseer om vas te stel of hulle gereed is
- 17-19+-jarige tieners word geassesseer om vas te stel of hulle gereed is
GEREED VIR WAT
5-7-jarige kinders word geassesseer om te bepaal of hulle gereed is om die beskermende en speelse leeromgewing van graad R agter te laat en meer te leer oor letters, syfers, dink, lees, skryf en somme maak.

17-19+-jarige tieners word geassesseer om vas te stel of hulle gereed is om die beskermende leeromgewing van hoërskool agter te laat en meer te leer oor hul studierigting of om die wêreld van werk te betree.

Die vreemdste is dat, as ’n kind die eerste hekkie op die ouderdom van 5 tot 7 met vlieënde vaandels oorkom het, die kanse groot is dat hy of sy die tweede hekkie ook met vlieënde vaandels kan kafdraf. MAAR as ’n kind swaar gekry het om oor die eerste hekkie op die ouderdom van 5 tot 7 te kom, is die moontlikheid daar dat hy of sy nie die tweede hekkie maklik en met selfvertroue bereik en daaroor kom nie, maar met moeite en inspanning.
JY MAAK MOS ’N GRAP!

Dit is 12 jaar later, sekerlik kan ’n kind verander? Hoekom dan, as mense en kinders ontwerp is om te leer, sukkel soveel leerlinge om te leer, om in die skool te vorder en om Graad 12 te bereik met hul selfbeeld nog heel?

As ’n kind nie gereed was om stil te sit en te konsentreer nie, en/of ’n kind nie gereed of vaardig was om in die onderrigtaal te leer in graad 1 nie, en/of as ’n kind nie gereed was om te leer skryf en lees nie, was die kind nie skoolgereed nie. Om graad 1 te betree met die hoop dat ‘ongereedheid’ sal verdwyn, is soos om in jou motor te sit, reg om te ry, maar die enjin wil nie aanskakel nie.

SKOOLGEREEDHEID


Gereedskapkis-diewe is baie dikwels die voorskoolonderwysers (onder druk van ouers) wat kinders leer lees en skryf in die voorskool, in plaas daarvan om te verseker dat die minder skouspelagtige, maar noodsaaklike voor-skryfvaardighede en voor-leesvaardighede in plek is, voordat die leerders hierdie vaardighede moet toepas.
Basiese vaardighede sluit vaardighede in soos:
- luister die eerste keer
- die vermoë om minstens 11 minute stil te sit en te konsentreer terwyl ’n taak gedoen word wat die kind nie noodwendig geniet nie;
- om ’n legkaart van 36 stukke binne 6 minute te voltooi;
- op een been te kan staan met oë toe vir 10 sekondes;
- ’n skoenveter kan vasmaak;
- ’n vorm eweredig kan inryg;
- lotto of domino’s saam met maats kan speel;
- kan wag vir jou beurt, ens.
Om lees en skryf in voorskool te onderrig, in plaas daarvan om kinders voor te berei om die taal te verstaan en te praat waarin hulle in graad 1 moet skryf en lees, beroof baie kinders van die vaardighede wat noodsaaklik is om akademiese sukses te behaal op pad na Graad 12.

Onderwys is ook ’n weg uit mishandeling, geweld en werkloosheid.







