
deur René Pelser
Ek kry gereeld hierdie tipe vraag: “Maar wat is dan nou die groot bohaai oor skoolgereedheid? Hy kan dan tot by 10 tel EN hy ken al sy kleure!”
Liewe Mamma en Pappa, skoolgereedheid gaan oor soveel meer as net tel tot by 10. Is dit belangrik om ‘n reeks dinge te kan onthou? Vir seker! Maar vir ‘n amper 7-jarige om gereed te wees om die wêreld van speel agter te laat en die komplekse en uitdagende wêreld van skool en formele leer MET GEMAK te betreë, vereis ‘n klompie vaardighede waaroor ons vandag gaan gesels.
By die Mind Moves Instituut dink ons aan die ontwikkeling van ‘n kind in terme van ‘n huis. Die fondasie van ‘n huis is die heel belangrikste, omdat die kwaliteit van die res van die huis daaruit spruit. Wanneer die fondasie wankelrig en vol krake is, is die kans goed dat die res van die huis krake gaan hê. En sou daar ‘n ligte aardskudding kom, is die risiko groot dat die dak en alles daarmee saam ineen gaan stort. Maar wanneer die fondasie sterk en stabiel is, is die huis wat daarop gebou is ‘n stewige huis wat ‘n goeie en veilige beskutting bied.

Net so is jou kind se fisiese ontwikkeling die fondasie waarop alle ander ontwikkeling en leer gebou is. Wanneer jou kind se fisiese vaardighede nie goed ontwikkel is nie, is die kanse goed dat hy gaan sukkel om dinge onafhanklik te doen, met selfvertroue maats te maak en die reëls van die spel te volg, of moeiliker akademiese vaardighede soos ‘n 36-stuk legkaart te bou.

Fisiese vaardighede wat belangrik is vir jou kind se skoolgereedheid begin by die gebruik van sy groot spiere (grootmotoriese ontwikkeling). Grootmotoriese vaardighede is belangrik om die liggaam te laat beweeg (soos om te hardloop) en wanneer dit goed ontwikkel is en hy dit kan beheer, stel dit hom in staat om regop en stil te sit en luister. Hierdie grootmotoriese ontwikkeling sluit in:
Wanneer die groot spiere goed ontwikkel is leer jou kind om die fyner spiere te koördineer en te beheer. Hierdie spiere stel jou kind in staat om moeiliker en meer gespesialiseerde take te kan verrig, byvoorbeeld om ‘n broodjie met ‘n mes te smeer of ‘n kryt/verfkwas vas te hou en manipuleer. Een van die moeilikste fynmotoriese vaardighede wat nodig is vir ‘n graad R-leerder om te bemeester, is om skoenveters vas te maak. Nou wonder baie ouers: “Watter metode is die regte een? Die hasie ore of die een lussie om en deur?” Daar is nie ‘n regte of verkeerde metode nie. Die belangrikheid is konstantheid en oefen, oefen en nogmaals oefen.
Jou kind se fisiese ontwikkeling is een van die kern vaardighede wat haar konsentrasie beïnvloed. Wanneer haar grootspiere nie voldoende ontwikkel is nie, is dit baie moeilik om haar lyfie regop te hou. Wanneer daar in ‘n graad 1-klas verwag word dat sy moet stil sit, gaan meeste van haar brein se energie en konsentrasie na haar liggaam toe en min konsentrasie bly oor om te fokus op dit wat juffrou besig is om te leer. Dit lyk dan baie keer of sy rooimiere in haar broek het en nooit kan stil sit nie, of dit lyk soos ‘n kind wat dagdroom en nooit luister nie. Daar word dan maklik ‘n etiket om haar nek gehang, of ‘n pilletjie vir konsentrasie word voorgeskryf.
Die volgende gedeelte van die huis is die mure wat die emosionele ontwikkeling voorstel. Die mure van ‘n huis is daar om ons te beskerm teen wind en weer, maar ook teen gevare.

Dikwels wanneer ons dink aan emosionele ontwikkeling, dink ons dat dit slegs gaan oor my kind wat oor alles huil en ‘n tantrum gooi as hy nie sy sin kry. Maar dit gaan oor soveel meer.

Voordat jou graad R kind emosioneel gereed is om die wêreld van speel agter te laat en oor te stap na die wêreld van stil sit, onafhanklikheid en die eerste keer luister, moet hy eers veilig voel in sy eie lyfie en sy omgewing. Daarvoor het hy een (of meer) volwassene(s) nodig wat in hom glo, nie op grond van wat hy doen of bereik nie, maar bloot omdat mamma of pappa hom lief het vir wie hy is. Eenvoudige gebare en woorde van liefde, aanmoediging en geduld beteken soveel meer vir jou kleuter as wat ons as volwassenes ooit sal besef. Pappa wat ‘n high five gee wanneer boetie uit sy eie onthou om die bordjie in die wasbak te bêre. Of mamma wat ‘n drukkie gee wanneer die uitdagings van die dag net te veel is. Of juffrou wat met liefde en geduld vir die vyfde keer wys hoe om die kryt reg vas te hou.
Hierdie liefde en aanmoediging bou jou kind se selfvertroue wat broodnodig is vir haar om te glo “ Ek kan”. In Dr. Melodie de Jager en Liz Victor se boek Play Learn Know haal sy Brian Tracey aan wat skryf: “If you raise your children to feel that they can accomplish any goal or task they decide upon, you will have succeeded as a parent and you will have given your children the greatest of all blessings.” Wanneer jou kind selfvertroue het is sy gretig om te ontdek en te leer. Sy is dus gereed om moeiliker uitdagings te aanvaar en is nie bang om weer en weer te probeer totdat sy dit reg kry nie.
Daar is ‘n magdom navorsing wat bewys dat ‘n kind (insluitende babas) se brein nie optimaal op leer kan fokus wanneer hy voortdurend besig is om bedreigings te hanteer nie. Jou kind het nie perfekte ouers of perfekte versorgers nodig nie. Hy het liefdevolle, beskikbare en interaktiewe volwassenes nodig wat oor en oor met hom verhouding bou.
Die doel is nie om elke huil onmiddellik te stop of elke ongemak te voorkom nie. Dit is om jou kind deur verskeie ervarings te begelei met die wete “Ek is genoeg” en “Ek kan”.

Wanneer jou kind veilig voel in homself en sy omgewing, is dit ‘n spontane reaksie om uit te reik na die wêreld daar buite en maats te maak. Net soos die vensters en deure van ‘n huis ons toelaat om na buite te kyk en die deur oop te maak vir kuiergaste, so vorm sosiale vaardighede die vensters en deure waardeur ons kinders die wêreld en ander mense kan ontdek, ervaar en deel van kan word.
Maar om gemaklik en suksesvol binne ’n groep te kan funksioneer, is meer nodig as bloot die begeerte om met ander kinders te speel. Jou kind moet ook leer hoe om haar gedrag aan te pas by die sosiale reëls en verwagtinge van die groep. Ons as volwassenes doen dit eintlik voortdurend, dikwels sonder om eers daaroor te dink.
Verbeel jou jy staan in die ry by die supermark. Daar is nog net twee mense voor jou en jy is reeds laat om jou kind by die skool te gaan haal. Gelukkig beweeg die ry vinnig. Dan druk iemand skielik van agter af by jou verby en gaan staan voor almal in die ry omdat hy haastig is. Oombliklik voel jy geïrriteerd of selfs woedend. Hoekom? Omdat jy verwag dat almal, soos jy, hul beurt sal afwag en die reëls van die situasie sal respekteer.

Hierdie eenvoudige voorbeeld illustreer hoe belangrik sosiale vaardighede in alledaagse situasies is. Net soos van ’n volwassene verwag word om ’n beurt af te wag en die reëls van ’n groep te respekteer, moet jou kind geleidelik leer om dieselfde binne ’n klaskamer, speelgroep of vriendekring te doen.
Om deel van ‘n groep te vorm is nodig vir optimale sosiale ontwikkeling en daarvoor moet jou kind sekere gewenste sosiale vaardighede onder die knie kry:
Hierdie vaardighede help jou kind nie net om binne ’n groep te funksioneer nie, maar is ook belangrik sodat ‘n klas ordelik en optimaal vir leer kan funksioneer.

Die laaste deel van ‘n huis wat gebou word is die dak en die dak van die huis stel die kognitiewe of dink vaardighede voor. Dit is in hierdie gedeelte van die huis waar die meer komplekse vaardighede plaasvind wat nodig is om suksesvol in graad 1 (en ouer) te presteer. Teen die tyd dat jou baba 1 jaar oud word, het sy brein ongeveer 70-75% in grootte en gewig gegroei van sy volwasse brein en teen die ouderdom van 6 jaar is die grootte en gewig ongeveer 90% van dié van ‘n volwassene brein. Dit is egter eers op die ouderdom vanaf 4 jaar dat jou kind begin om van die wêreld van konkrete ervarings en leer, oor te beweeg na die verstaan en toepaslike gebruik van semi-konkrete en abstrakte denke.

Kognitiewe vaardighede wat nodig is om suksesvol en met gemak die wêreld van simbole te betree sluit in:
Jou graad R kind moet daarom vorms korrek kan nateken en ‘n prent van byvoorbeeld ‘n huis wat net halfpad geteken is, voltooi.
So wat is dan nou die bohaai oor skoolgereedheid?
Die antwoord is eenvoudig. Om te verseker jou kind het die nodige vaardighede op alle vlakke van sy ontwikkelingshuisie in die laaste 6 jaar op ‘n speel-speel manier ontwikkel, sodat hy die uitdagende maar dog opwindende wêreld van formele leer met gemak en selfvertroue kan binne spring.

Verwysings:
Dr Melodie de Jager & Liz Victor. 2013. Play Learn Know: a child is a work in progress.
Dr Melodie de Jager. 2014. LEERgereed SKOOLgereed: ‘n Praktiese gids vir ouers en versorgers.
Melodie de Jager. 2011. Breinontwikkeling mylpale en leer.
Dr Melodie de Jager. 2019. Speel Speel Slim Leergereed Toets (5 tot 7 jaar).
