Knelpunte wat vreugde en energie verorber

GRAVITY – an underestimated influence in child development
November 9, 2020
Guidelines for early language development
November 18, 2020

Deur Dr Melodie de Jager.

‘Slaap-slim’ is ‘n term wat Prof Ignatius Gouws geskep het om een van die knelpunte wat soms gepaard gaan met meer-volwasse-word, aan te spreek. Basta met ‘gepaard gaan met ouer word’, mens word net meer volwasse!

‘n Mens is geneig om te dink dat sekere knelpunte soos min slaap, vergeet, angstigheid, onvaardige vingers  en val, met ouderdom verband hou. Dieselfde knelpunte geld ook vir babas, kleuters, kinders en volwassenes. Dit het veel meer met die brein as met ouderdom te doen.

Die brein in ‘n neutedop

Die brein is nie net die gekreukelde orgaan wat die skedel vul nie. Die brein bestaan uit (1)die sintuie, (2)die rugmurg en ‘gekreukelde orgaan’ asook (3)die spiere. Die rugmurg en brein word die sentrale senuweestelsel genoem terwyl die sintuie en spiere die perifere senuweestelsel uitmaak. Beide die twee stelsels word chemies en neurologies verbind om soos ‘n simfonieorkes as ‘n geheel saam te speel.

Die brein het goeie chemie nodig om optimaal te werk. Die liggaam se chemie kom onder andere van (1)die kos wat mens eet en (2)hoe mens voel. Die neurowetenskaplike, Candice Pert, stel dit mooi wanneer sy sê: ‘emosies is chemiese reaksies’. Wanneer ‘n mens goed voel, bruis goedvoel hormone deur die liggaam, wat immuniteit, energievlakke en die brein se werking ‘n hupstoot gee. Wanneer ‘n mens geïsoleerd, negatief of neerslagtig voel, pomp daar ‘n totaal andersoortige chemie deur die liggaam, wat immuniteit en die brein se werking, geheue, slaap en energievlakke ondermyn.

Chemie bepaal tot ‘n groot mate hoe effektief die senuweestelsel werk. Beweging het ook ‘n belangrike rol te speel in die werking van die senuweestelsel en is hoeka die natuur se manier om die brein en liggaam te bedraad. Die tydperk in ‘n mens se lewe wanneer die brein en liggaam die maklikste, vinnigste en effektiefste bedraad, is gedurende die eerste 1000 dae van bestaan, wat strek van konsepsie tot ongeveer die tweede verjaardag.

Beweging bedraad die brein

Beweging en oefening is nie dieselfde nie. Volgens Ben Medder, is oefening opsioneel; maar beweging is essensieël.

Mari Bezuidenhout, ‘n Senior Mind Moves fasiliteerder verduidelik  dat ‘oefening’ ‘n moderne begrip is en meer na beweging verwys ‘as ‘n verpligting wat ons flous dat ons na ons liggame se behoeftes omsien’.

Oefening neig om –

  • pyn-aangedrewe, eerder as plesier-gemotiveerd te wees
  • oefenprogramme maak dikwels gebruik van masjiene wat op geïsoleerde spiergroepe fokus, wat ‘n mens ‘n ‘ekspert’ maak in bewegings wat nie noodwendig prakties is om die alledaagse lewe makliker te maak nie
  • ’n verpligting te wees wat nie noodwendig geniet word nie en wat mag lei tot die vrystelling van streshormone soos kortisol, wat nie gesond is in oormaat nie
  • min ruimte te laat vir die ontwikkeling van alledaagse vaardighede.

Beweging daarenteen is ‘n totaal ander begrip. Wanneer ‘n mens beweeg – opstaan, was, aantrek, stap, kosmaak, in die tuin werk of koek bak, doen mens meer as om geïsoleerde spiere te oefen. Alledaagse beweging gaan gepaard met:

  • funksionele beweging van al die liggaamsdele om onafhanklik, regop en vlytig te wees
  • die beweeg van die lippe, tong en mond om effektief te kou en duidelik te artikuleer en te kommunikeer
  • oogbewegings om die wêreld te verken
  • gesigsuitdrukkings om emosies te wys – ‘n verskeidenhied emosies wat ‘n verskeidenheid chemie in die brein en liggaam aanwakker
  • ‘hier is ons nie besig om te oefen nie, ons is besig om te bewéég!’, meen Mari

The body will become better at whatever you do, or don’t do. You don’t move? The body will make you better at NOT moving. If you move, your body will allow more movement.    Ido Portal

Knelpunte by oud en jonk

Sekere knelpunte soos min slaap, vergeet, angstigheid, onvaardige vingers en val, hou nie met ouderdom verband nie, maar wel met die fiksheid van die brein. Babas en kleuters spartel nog om die sintuie, brein en spiere se senuwees en chemie te orkestreer en daarom ervaar hul hierdie knelpunte. ‘n Kind wie se brein ontwikkelingskrakies opgedoen het omdat hul dalk ‘n mylpaal oorgeslaan het of min stimulasie gehad het, mag hierdie knelpunte (en meer) ervaar. ‘n Volwassene wat trauma of ‘n besering opgedoen het, of dalk chemo kry, mag ook van hierdie knelpunte ervaar en so ook ‘n volwassene wat toenemend  meer volwasse word.

Beweging ontknoop knelpunte

Beweging vir oud en jonk begin met doeltreffende asemhaling en die beweging van die mond (lippe, wange, tong en kake) ter wille van voeding. Wanneer spiertonus in en om die mond laag is, raak stik ‘n werklikheid en daarmee saam klein stukkies kos wat in die longe land en infeksie veroorsaak. Die brein gee onmiddelik die kliere opdrag om te swel om infeksie teen te staan, maar dan swel die kliere in die lugweë, wat asemhaal bemoeilik. Dit kan asemnood en angstigheid meebring wat die VLUG-VEG-VRIES-FLOU oorlewingsreaksie aanhits en nou is dit ‘n tammeletjie. Eet word moeiliker en nou moet saam met eet, gedrink word om die swakgekoude kos in die spysverteringstelsel af te help, waar dit ongemak veroorsaak. Die maag word dikwels as die eerste brein beskou, en as die maag, of liewer, die spysverteringstelsel nie gemaklik is nie, word energie nie optimaal vrygestel nie; slaap word oppervlakkig en onderbroke; ‘n mens (oud en jonk) voel  geïrriteerd en knorrig, wat verhoudings belemmer en kort voor lank verval mens in ‘n nimmereindigende spiraal van angs, negatiwiteit en selfs depressie.

Sitting kills, Moving heals.   Joan Vernikos

Vir volwasse volwassenes –

  • Besoek die tandarts en maak seker jou tande werk goed
  • Kou jou kos fyn voor jy sluk sodat energie behoorlike daaruit losgemaak kan word
  • Vind redes om te beweeg; op te staan; te stap; te kuier; voëls kos te gee; en plantjies te plant
  • DANS
  • Stoot iemand in ‘n rolstoel in die tuin en lig so jul albei se gemoed
  • Raak betrokke by projekte, jy kan nie betrokke wees en stilsit nie
  • Lig jou kop op, tel op jou voete en sit skouer aan die wiel
  • Wanneer jy lyfmoeg in die bed klim, draai op jou sy met jou tong teen die verhemelte, kruis jou arms asof jy jouself vashou, en haal diep en stadig asem. Fokus jou gedagtes op jou asemhaling
  • ‘n Bewegende mens haal dieper asem, eet beter en word lyfmoeg – die perfekte teëlaarde vir ‘n diep nagrus.

 

Login

Lost your password?