Senior Mind Moves vir die semi- tot verswakte bejaarde in ‘n tuiste vir bejaardes as deel van ‘n aktiewe verouderingsprogram

The Ageing Population…A Burden?  
May 27, 2022
Gedrag, angs en akademie: Wie is die skuldige?
June 21, 2022

Geskryf deur Ilze Pieterse (Maatskaplike werker en Senior Mind Moves Fasiliteerder)

Lewenskwaliteit is en bly in elke lewensfase belangrik en net so ook in die laaste jare van elkeen van ons lewens. Elke lewensfase bied sy eie unieke rykdom van lewenskwaliteit. Dit is ook egter ‘n feit dat soos mens ouer word, jou lewenskwaliteit verander. Vir sommige vind dit stadig plaas oor ‘n tydperk en vir ander is dit skielik en ingrypend weens ‘n ernstige trauma, siekte of hospitalisasie.

Die jare wat voorlê is ons s’n om te wen en te koester. Ons moenie toelaat dat enige iets – veral nie ons ouderdom, in ons pad staan nie. – Tina Sloan

Wie is die inwoner van ‘n tuiste?

Die inwoner van ‘n Tuiste vir Bejaardes, is ‘n persoon wat weens verskeie redes nie meer onafhanklik kan woon nie. In die meeste gevalle word die ouer persoon weens twee redes in ‘n tuiste opgeneem:

  • Eerstens, hul gesondheid het in so ‘n mate verswak (skielik of oor ‘n tydperk) dat hul nie meer op hul eie kan bly nie en/of
  • Tweedens dat die familie/kinders besluit het dat hul ouer nie meer op hul eie kan bly nie.

 

Dit beteken dan dat die persoon sy onafhanklikheid van 60/70 jaar moet prys gee en hierdie besluit word gebaseer op gebeure of omstandighede wat die volgende insluit:

  • Die persoon sukkel om die daaglikse aktiwiteite te behartig soos om kos te maak, gereeld te eet, persoonlike higiëne by te hou en om medikasie korrek te neem
  • Die persoon loop moeiliker – skuifel-skuifel of sukkel met balans
  • Die persoon het al meer as een keer geval en dalk ‘n besering opgedoen
  • Die aanvang van demensie lei daartoe dat persone nie meer verantwoordelike besluite kan neem nie, nie meer finansies kan behartig nie, probleme met hul geheue ervaar, nie meer energie en die wil het, of onthou, om daaglikse takies uit te voer nie en selfs onttrek van mense en aktiwiteite.

 

Inwoners in ‘n tuiste het ook baie kere onderliggend siektetoestande soos onder andere:

  • Artritis
  • Hoë bloeddruk
  • Hartprobleme & longkwale
  • Diabetes
  • Nagevolge van beroerte
  • Kroniese pyn
  • Nagevolge van ‘n val.

Inwoners beleef ook ander uitdagings naamlik:

  • Verlies van balans en gebruik ‘n loopraam om stabiliteit te gee wanneer hul loop
  • Gebruik rolstoel en kan glad nie meer loop nie – is afhanklik van iemand om hul te stoot waar hul wil wees
  • Gehoor verlies (sommige gebruik gehoor-apparate)
  • Verlies aan sig
  • Die verlies van ‘n eggenoot/geliefde familielede/vriende.

Elke persoon is uniek en so ook sy “ouerword” proses. Baie inwoners is nie meer so vinnig van begrip soos in die verlede nie en die geheue is ook nie meer so goed soos voorheen nie. Die gevolg is dat inligting stadig verwerk word. Dit impliseer dat inligting verskeie kere herhaal moet word en ook aangehelp word met nie-verbale kommunikasie deur fisiese demonstrasie.

Senior Mind Moves as deel van die aktiewe verouderingsprogram in ‘n tuiste

Aktiewe veroudering (“Active Aging”) is ‘n internasionale beleidskonsep wat ontwikkel is deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) en is vervat in die artikel Active aging within the nursing home: a study in Flanders, Belgium. L vanMalderen; P de Vriendt;T Mets & E Gorus. “Active Aging is the process of optimizing opportunities of health, participation and security in order to enhance the QoL (Quality of life) as people age.”

Aktiewe veroudering ondersteun verder die gedagte dat elke persoon deel in die verantwoordelikheid om ‘n kwaliteit lewe te lei deur betrokke te wees in hul gemeenskap, volgens hul eie behoeftes, begeertes en vermoëns binne ‘n raamwerk van voldoende beskerming, veiligheid en hulp wat benodig word.

In Swede is navorsing gedoen met die titel: A balance between meaningfulness and risk of harm – frail elderly patientsperceptions of physical activity and exercise – an interview study deur K. Ahlund; B. Oberg; N. Ekerstad & M Back. In hierdie studie het verswakte ouer persone met onderliggende siektetoestande die waarde van oefeninge opgeweeg teen die risiko wat dit inhou vir besering.

Persone besef dat oudword ‘n onvermydelike proses is wat aanvaar moet word en dat hul hul aktiwiteite dienooreenkomstig moet aanpas. In ‘n tuiste is die ouer persone dikwels baie onaktief en volg eerder ‘n stagnante leefwyse waar hul baie meer sit of op hul bed lê as wat hul dikwels stap en deelneem aan die sosiale lewe in hul direkte omgewing.

 

 

Bogenoemde studie het uitgewys dat die verswakte ouer persone die volgende waarde aan oefeninge en daaglikse fisiese aktiwiteite (soos om te loop) koppel naamlik:

  • Dit is ‘n manier om hul onafhanklikheid te behou
  • Bied die geleentheid vir sosiale interaksie met ander
  • Bied die geleentheid om ander te ontmoet en saam met ander te beweeg
  • Dit werk eensaamheid teë.

Dit is belangrik vir die verswakte ouer persoon om sover moontlik ‘n sin van beheer in hul lewens te ervaar. Hul fisiese vermoëns hou ook verband met hul selfbeeld en beskou hulp in hierdie verband as belangrik.

Een van die hindernisse wat ‘n persoon moet oorkom, is ‘n vrees dat die beweging nadelig of skadelik sal wees omdat hul hulself kan ooreis of die risiko loop om te val.

Motivering is ‘n belangrike komponent van deelname aan enige aktiwiteit. Sommige persone is gretig om aktiwiteite by te woon terwyl ander deurlopend deur hul familie en personeel gemotiveer en aangemoedig moet word om deel te neem.

Die fokus van Senior Mind Moves

Dit is hier waar die fokus van Senior Mind Moves anders is as ander bewegingsprogramme. Senior Mind Moves se fokus is om deur middel van spesifieke bewegings die bedrading tussen die sintuie, die spiere en die brein stewig te hou. Senior Mind Moves is dus op die werking van die brein ingestel en die volgehoue werking van die brein in die latere jare.

Dit is belangrik om kennis te neem dat Senior Mind Moves glad nie inmeng of gesien moet word as bewegings wat gelykstaande is aan diè wat voorgeskryf word deur ‘n fisio- / arbeidsterapeut of mediese praktisyn nie.

Senior Mind Moves bestaan uit eenvoudige en veilige bewegings wat reflekse aanhits om die brein helder, die hande vaardig en die voete vas op die aarde te hou.

Melodie de Jager

Wie kan baat vind by Senior Mind Moves

Senior Mind Moves het ‘n positiewe impak op die inwoners, aangesien dit bewegings is wat hulself kan doen binne hul eie fisiese vermoëns, hetsy hul in ‘n rolstoel is of ander hulpmiddele gebruik.

Persone wat daartoe instaat is om bewegings te doen met arms, hande en bene en wat basiese instruksies kan volg, sal die meeste baat vind by Senior Mind Moves.

Die voordele van Senior Mind Moves as deel van die aktiewe verouderingsprogam

  • Enige vorm van beweging wat stagnasie teë werk, is waardevol
  • Dit skep die geleentheid om te sosialiseer wat die persoon se leefwêreld binne die tuiste verbreed
  • Deelnemers sien daar is persone met dieselfde uitdagings as hy/sy bv. daar is ander deelnemers wat die bewegings selfs in ‘n rolstoel kan doen
  • Dit is lae impak bewegings wat in ‘n stoel, rolstoel of selfs op ‘n bed gedoen kan word
  • Daar is geen verpligting om enige beweging te doen as hul voel dit is buite hul vermoë of as hul enige vorm van pyn ervaar nie. Hulle word egter aangemoedig om wel te doen wat binne hul vermoë is.

 

Bronverwysing:

  1. Active ageing within the nursing home: a study in Flanders, Belgium. L van Malderen; P de Vriendt; T Mets & E Gorus.2016. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4992500/
  2. A balance between meaningfulness and risk of harm – frail elderly patients’ perceptions of physical activity and exercise – an interview study”.K Ahlund; B Oberg; N Ekerstad & M Back.2020. https://bmcgeriatr.biomedcentral.com/articles/10.1186/s12877-020-01868-2#Sec22

Login

Lost your password?