Deur Mieke Pienaar
Voor ons die vraag antwoord kom ons loer net gou na die brein. Paul Maclean (1990) het die 3-in-1 breinteorie ontwikkel. Dit verduidelik op ‘n praktiese manier hoe die brein werk. Melodie de Jager (2019) verduidelik in haar boek “Weg met Leerblokkasies” wat die funksies van elke ontwikkelingsfase is.
Die Oorlewingsbrein is die heel eerste deel wat ontwikkel en sy doel is om te oorleef. Dit is dié deel wat onwillekeurig reageer omdat hy fokus op oorlewing. Dit is die deel waar die Veg, Vlug en Vries reaksie gehuisves word.
Die Emosionele brein fokus nie net op emosies nie maar speel ‘n belangrike rol in die klaskamer. Dit is dié breindeel wat met aandag en konsentrasie, geheue en dryfkrag geassosieer word. Hierdie brein fokus op MY! Wanneer die EK-deel gemaklik voel oor MY, dan eers kan die ONS deel van die brein ontwikkel. Dis hoekom maatjies maak moeilik is as ‘n kind se hart nie rustig en vol selfvertroue is nie.
Die Denkende brein word ook die Skoolbrein genoem omdat dit hierdie breindele is wat ons nodig het om op skool te kan funksioneer. Die denkende brein kan eers 100% funksioneer wanneer die ander dele se bedrading stewig is!
Vir die afgelope 2 jaar is Covid al waarop ons kinders, ons as ouers en ons as onderwysers gefokus het. Ons eerste prioriteit was oorlewing. Ons het in konstante vrees geleef. Vrees vir ons lewe, werk en finansiële sekerheid. Ons hoë stressvlakke het ons brein op een area laat fokus: oorlewing. Die Oorlewingsbrein het ons bestuurder geword en ons Emosionele- en Denkende breine het die passasiers geword in ons oorvol kar. Vir hierdie rede beleef ons kinders meer angs; hul emosies ry wipplank; hul sukkel met empatie en dan op die ou einde het akademie ongelukkig in die kattebak beland!
Laat staan die kind regop met albei arms teen ‘n 90 grade hoek langs die liggaam. Staan agter die kind en trek die buitelyn van sy liggaam met ferm hale van kop tot tone na. Hou die voete ‘n oomblik lank vas. Herhaal drie maal. Hierdie oefening ontwikkel taktiese bewustheid, gravitasieveiligheid en ‘n poisitiewe selfbeeld.
Gooi die arms wyd oop en asem diep en stadig in. Kruis dan die arms oor die bors in ‘n omhelsende gebaar, en asem diep en stadig uit. Die ouer kan die kind terselfdertyd van agter af omhels. Hierdie oefening bevorder ontspanning, ritmiese asemhaling en ‘n gevoel van behaaglikheid.
Wees geduldig: Die heel eerste ding is om te weet dat dinge nie oornag verander nie. Dit vat tyd. Ons breinbedrading is as’t ware deur ‘n Covid-rot gekou en dit gaan ‘n paar lae ‘insulation tape’ vat om die breinpaadjies na die Dinkbrein toe weer sterk te maak.
Roetine en voorbereiding: Hou by ‘n basiese roetine. As daar verandering in hulle roetine gaan plaasvind, berei hulle voor dat dit nie ‘n onplesierige verrassing is nie. Onthou ook dat noodgevalle gebeur en ‘n kind nie altyd daarop voorberei kan word nie.
Wees konsekwent: Grense is uiters belangrik, dit gee kinders sekuriteit en dit haal die raai uit situasies uit. Kinders is meer oplettend as wat ons dink en sien vinnig raak wanneer die reëls nie vir almal dieselfde is nie. Etenstyd is lekker gesprekstyd. Dis belangrik dat ‘n kind wat te nagekom voel veilig genoeg voel om om dit te sê en die situasie te bespreek.
Doelwitstelling: ‘n Doelwit motiveer ‘n kind om iets te wil doen. ‘n Doelwit sonder ‘n datum is net ‘n droom. Dit maak die pad na wat hulle wil bereik meer realisties. Gesels oor doelwitte sodat jou kind grootword met die gedagtes dat om doelgerig te leef die pad na sukses is.
Verantwoordelikheid: Gee hulle die verantwoordelik om ‘n taak te doen: die hond kos te gee, tafel te dek of skottelgoed te was, vir almal sap in te gooi, ens. Dit hoef nie dadelik iets groot te wees nie. Begin klein en bou daarop voort.
Wees empaties: Soms is omstandighede buite ‘n kind se beheer en dan voel hulle meer angstig oor jou reaksie as die situasie self. Luister, want dit wys dat jy omgee. Praat en spandeer tyd met mekaar. Hoe gaan ander weet hoe jy voel en wat jy dink as jy nie vir hulle sê nie? Kinders wys meer dikwels met hulle lyftaal hoe hulle voel. Leer hulle lyftaal ken.
Gee meer drukkies. Spontane drukkies is kosbaar. Die Mind Moves Helderwakker is besonders, omdat jou kind hom- of haarself druk (selfaanvaarding) en ook ‘n drukkie by jou kry (sosiale aanvaarding). As jy dan woorde van waardering en bewondering ook nog by fluister, het jy ‘n wenresep hier beet!
Fisiese aktiwiteite bou die psige: kinders was die afgelope twee jaar baie onaktief. Moedig gesonde fisiese aktiwiteite aan. Hulle hoef nie goed in alles te wees nie, maar moedig gesonde deelname aan.
Our children can generally only cope with their feelings to the extent their parent can cope with them. – Genevieve Simperingham
Om meer uit te vind oor hoe jy jou kind kan ondersteun lees gerus die volgende artikel op www.mindmoves.co.za oor emosionele ontwikkeling: www.mindmoves.co.za/articlespublications/2018/02/19/emotional-development/
Dr. de Jager, M. 2019. Mind Moves® weg met leerblokkasies. 3rd ed. Johannesburg. Mind Moves® Institute Publishing.