Deur Celeste van der Walt
Dinge gebeur met ons. Ons sintuie verswak, ons kragte word minder en ons vermoëns neem af. Ons is skynbaar op ʼn afdraande pad en afdraand is amper moeiliker as opdraand. Op die afdraande moet ons afstand doen van ou bekende dinge soos ons werk en daaglikse roetine, ons bekende blyplek en sekere besittings. Ons raak angstig, want verlies en afskeid is kenmerkend van die pad. Dit raak fisies en emosioneel moeiliker hoe verder ons op die pad beweeg.
Hierdie gevoel van ‘afdraande’ is ten spyte van die bekroonde neurowetenskaplike Rusty Gage se navorsing wat aandui dat die brein nooit ophou om homself te hernu nie, maar hernuwing hang van elke persoon self en omstandighede af.
Stap een is gewoonlik om in ʼn kleiner huis of meenthuis of in ʼn huisie in ʼn aftree-oord te gaan woon, en dit is gewoonlik ontwrigtend maar aanvaarbaar. Wanneer ons sodanig verswak dat ons ʼn mate van hulp nodig het, begin die pad amper te steil raak.
Navorsing toon eendersyds dat ʼn groot persentasie seniors onwillig is om in ʼn ouetehuis te gaan woon. Andersyds is gevind dat ʼn groot persentasie seniors wat wel in ouetehuise woon, ongelukkig is. Die redes vir die onwilligheid en ongelukkigheid word hoofsaaklik toegeskryf aan die feit dat seniors glo dat hulle, hulle selfstandigheid en vryheid moet prysgee wanneer hulle in ʼn ouetehuis gaan woon. Hulle beleef dit as ingeperk wees in ʼn inrigting.
Dikwels moet hulle met iemand anders, gewoonlik ʼn vreemdeling, ʼn kamer deel, terwyl hulle eintlik hulle eie spasie wil hê. Hulle wil ook graag van hulle eie besittings by hulle hê en vir hulle self kan tee of koffie maak soos en wanneer hulle wil. Hulle wil self besluit hoe laat hulle wil gaan slaap of opstaan, wanneer hulle wil TV kyk en waarna hulle wil kyk. Kortom hulle wil hulle selfstandigheid behou, al is hulle reeds gedeeltelik verswak. Dit moet vir hulle voel soos huis, hulle eie nessie, waar hulle geborge, gemaklik en vry kan voel.
Seniors glo dit is nog moontlik wanneer hulle in ʼn woonstel of ʼn huisie binne ʼn aftree-oord woon. Sodra hulle in die ouetehuis in ʼn kamer moet bly omdat hulle gedeeltelike ondersteuning nodig het, word hulle lewens beheer deur die tehuis se personeel en al die reëls en regulasies wat in plek is. Hulle verloor hulle vryheid om te kan besluit oor hoe hulle hul spasie wil benut, hulle dag beplan en hulle lewens lei.
Natuurlik is dit nodig dat daar hulp en ondersteuning is wanneer nodig, maar hoe meer onafhanklik hulle kan bly hoe gelukkiger is hulle en hoe beter verouder hulle.
Toe Keren Brown Wilson (PhD in Gerontologie) in die 1980’s die eerste “Living Centre with Assistance” oopgemaak het, was die seniors wat daar gaan woon het, behandel asof hulle huurders is en nie pasiënte of ‘ou mense’ nie. Hulle kon hulle troeteldiere saam neem. Hulle kon besluit wie hulle kom besoek en wanneer. Hulle kon ten alle tye in kontak bly met die buite-wêreld, as hulle wou. Hulle kon volhou met hulle aktiwiteite indien moontlik of deelneem aan nuwe aktiwiteite sou hulle dit verkies. Inwoners het in beheer gebly van hulle lewens en hulle selfstandigheid behou. Hulle was geken in die besluite oor die daaglikse skedule en basiese reëls van die tehuis.
Daar was noodknoppies vir elkeen sodat hulp beskikbaar kon wees wanneer nodig. Hulle wou egter self besluit watter risiko’s hulle bereid was om te neem en wanneer om hulp te vra. Wilson het verstaan dat sekere kwaliteite, soos geduld, vriendelikheid, vreugde, goeie gesindheid, wysheid en begrip vir ander, nooit oud word nie. Hierdie kwaliteite moet net aangemoedig en in stand gehou word.
Hier het dit soos ‘huis’ gevoel en was die inwoners gelukkig en blymoedig. Hulle het ook meer suksesvol verouder as ander wat in die gewone ouetehuise gebly het. Hulle was vol lewenslus, en hulle kognitiewe en fisiese funksies het verbeter. Daar was ook minder gevalle van siektes en depressie aangeteken. Boonop was die kostes verbonde aan die plek, laer as die gewone ouetehuise.
Kritiek en die uitwys van die moontlike nadele en gevare was volop want higiëne en veiligheid was in die gedrang. En tog was dit so suksesvol dat Wilson ʼn tweede “Living Centre with Assistance” oopgemaak het waar inwoners netso gelukkig was en net so suksesvol verouder het.
Plek-plek is tehuise oopgemaak waar inwoners meer selfstandig kon leef en deel hê aan die beplanning en bestuur van die tehuis. Plekke waar eetkamers meer soos ʼn restaurant bedryf word en waar die inwoners elke dag kan besluit waar hulle wou sit en by wie, en wat hulle wou bestel om te eet. Hier maak die inwoners se voorkeure en prioriteite saak. Hulle lewens maak saak en hulle maak saak.
Die inwoners van hierdie tehuise is ook meer betrokke by ander en is ook meer bereid om ʼn verskil te maak in die wêreld om hulle, ʼn bydrae te lewer. Dit is hier waar mens besef dat om te lewe eintlik ʼn tipe vaardigheid is en soos enige vaardigheid moet dit gereeld opgeskerp word. Ouetehuise waar dit so gesien word en die inwoners daarvolgens behandel word, vind dat die inwoners met moed, blydskap en positiwiteit die pad stap, teenoor plekke waar ou mense gesien word asof hulle die einde van die pad bereik het en nie meer vir hulleself kan dink nie. “They soon head for stagnation and mental death”
In sy boek “Making the Rounds with Oscar” beskryf Dr David Dosa hoe die teenwoordigheid van katte en die klank van rustige musiek, ʼn positiewe uitwerking op die inwoners het. Die meer intieme teenwoordigheid van familie, vriende en personeel wat werklik omgee, is noodsaaklik vir suksesvolle veroudering en beter gesondheid tydens die laaste jare. Die verpleeginrigting waar dr Dosa betrokke was, se katte het bygedra tot daardie intieme teenwoordigheid en aanraking wat angs vlakke van pasiënte verlaag het, hulle kalm en rustig gehou het en hulle selfs stil en vreedsaam laat sterf het.
Nog ʼn verpleeginrigting waar inwoners se gesondheid en gemoed baie verbeter het, was waar elke kamer ʼn parakiet in ʼn kou gehad het. Inwoners moes, sover moontlik die parakiete self versorg en hulle hokke skoon maak. Die ‘kameraadskap’ tussen mens en parakiet asook die gevoel van nuttigheid wat die inwoners ervaar het, was ʼn vorm van terapie. Om iets of iemand te hê om na om te sien en voor te sorg, gee jou ʼn rede om soggens op te staan en maak jou lewe sinvol.
Dit is regtig al wat verswakte seniors vra, is ʼn plek wat soos huis voel. ʼn Plek waar liefde gevoel en ervaar kan word. ʼn Plek waar hulle kan weet dat hulle as mense, nog saak maak. ʼn Plek waar hulle nog kan lewe en nie net bestaan nie. En dit maak sin as jy sien dat die skrywer Ellen Glasgow glo dat mens eers na ouderdom 60 leer hoe om waarlik te lewe en daardie lewensvaardigheid werklik baas te raak. Dit is dan wanneer jy die geheime van die ware lewe ontdek en verstaan. Verpleeginrigtings en ouetehuise waar verswakte of gedeeltelike verswakte bejaardes woon, doen baie goed wanneer hulle erkenning gee aan inwoners se intellek en ware, dieper behoeftes, en ook die bydrae wat hulle kan lewer. Wanneer hulle sinvol kan leef en