Knelpunte wat vreugde en energie kan verorber

ʼn Ouetehuis of ʼn Tuiste vir Seniors?
September 14, 2022
Swaartekrag – ‘n waardevolle teenverouderingsmiddel
October 12, 2022

Deur Melodie de Jager

Basta met ouer word, mens word net meer volwasse!

Slaap-slim is ‘n term wat Prof Ignatius Gouws geskep het om een van die knelpunte wat soms gepaard gaan met meer volwasse word, aan te spreek . ‘n Mens is geneig om te dink sekere knelpunte soos min slaap, vergeet, angstigheid, onvaardige vingers en val hou met ouderdom verband. Dieselfde knelpunte geld ook vir babas, kleuters, kinders en volwassenes. Dit het veel meer met die brein as met ouderdom te doen.

Die brein in ‘n neutedop

Die brein is nie net die gekreukelde orgaan wat die skedel vul nie. Die brein bestaan uit beheersentrums vir  (1) die sintuie, (2) die brein en (3) die spiere. Die drie stelsels word chemies en neurologies verbind om soos ‘n simfonie-orkes as ‘n geheel saam te speel.

Die brein het goeie chemie nodig om optimaal te werk. Die liggaam se chemie kom onder andere van wat mens eet en hoe ‘n mens emosioneel voel.

Die neurowetenskaplike Candice Pert stel dit mooi wanneer sy sê “emosies is chemiese reaksies”. Wanneer ‘n mens goed voel, bruis goedvoel-hormone deur die liggaam wat immuniteit, energievlakke en die brein se werking ‘n hupstoot gee. ‘n Totaal andersoortige chemie stu deur die liggaam wanneer ‘n mens geïsoleerd, negatief of neerslagtig voel, wat immuniteit en die brein se werking, geheue, slaap en energievlakke ondermyn.

Alhoewel chemie tot ‘n groot mate bepaal hoe effektief die senuweestelsel werk, het beweging ook ‘n belangrike rol om te speel. Beweging is die natuur se manier om die brein en liggaam te bedraad.

Beweging bedraad die brein

Beweging en oefen is nie dieselfde nie. Volgens Ben Medder is oefening opsioneel, maar beweging is essensieel.

Mari Bezuidenhout, ‘n Senior Mind Moves fasiliteerder verduidelik “oefening” is ‘n moderne begrip en verwys meer na beweging “as ‘n verpligting wat ons flous dat ons na ons liggame se behoeftes omsien”.

OEFEN neig om –

  • pyn-aangedrewe, eerder as plesier-gemotiveerd te wees
  • oefenprogramme maak dikwels gebruik van masjiene wat op geïsoleerde spiergroepe fokus wat ‘n mens ‘n “ekspert” maak in bewegings wat nie noodwendig prakties is om die alledaagse lewe makliker te maak nie
  • ’n verpligting te wees
  • min ruimte te laat vir die ontwikkeling van alledaagse vaardighede.

Beweging daarenteen is ‘n totaal ander begrip. Wanneer ‘n mens beweeg – opstaan, was, aantrek, stap, kosmaak, in die tuin werk of brood bak – doen mens meer as om geïsoleerde spiere te oefen. Alledaagse beweging gaan gepaard met:

  • funksionele beweging van al die liggaamsdele om onafhanklik, regop en vlytig te wees
  • die beweeg van die lippe, tong en mond om effektief te kou, duidelik te artikuleer en te kommunikeer
  • flinke oogbewegings om die wêreld te verken
  • gesigsuitdrukkings om ‘n verskeidenheid emosies te weerspieël en wat lewegewende chemie in die brein en liggaam aanwakker.

 

The body will become better at whatever you do, or don’t do.

You don’t move? The body will make you better at NOT moving.

If you move, your body will allow more movement.”

Ido Portal

Knelpunte by oud en jonk

Knelpunte soos min slaap, vergeet, angstigheid, onvaardige vingers  en val hou nie noodwendig met ouderdom verband nie, maar wel met die fiksheid van die brein. Babas en kleuters spartel nog om hul senuwees en chemie te orkestreer en daarom ervaar hul bogenoemde knelpunte. ‘n Kind wie se brein ontwikkelingskrakies opgedoen het omdat hul dalk ‘n mylpaal oorgeslaan het of min stimulasie gehad het, mag hierdie knelpunte (en meer) ervaar. ‘n Volwassene wat trauma of ‘n besering opgedoen het, of dalk chemo kry, mag ook van hierdie knelpunte ervaar en so ook ‘n volwassene wat toenemend meer volwasse word.

Beweging ontknoop knelpunte

Beweging vir oud en jonk begin met doeltreffende asemhaling en die beweging van die mond (lippe, wange, tong en kake) ter wille van voeding. Wanneer spiertonus in en om die mond laag is, raak stik ‘n werklikheid en daarmee saam klein stukkies kos wat in die longe land en infeksie veroorsaak. Die brein gee onmiddellik die kliere opdrag om te swel om infeksie teen te staan, maar dan swel die kliere in die lugweë wat asemhaal bemoeilik. Dit kan asemnood en angstigheid meebring wat die VLUG-VEG-FRIES-FLOU oorlewingsreaksie aanhits en nou is dit ‘n tameletjie. Eet word moeiliker en nou moet daar saam met eet gedrink word om die swakgekoude kos deur die spysverteringstelsel te help beweeg.

Die maag word dikwels as die eerste brein beskou. As die maag, of liewer die spysverteringstelsel, nie gemaklik is nie, word energie nie optimaal vrygestel nie; slaap word oppervlakkig en onderbroke; ‘n mens (oud en jonk) voel  geïrriteerd en knorrig. Dit  belemmer verhoudings en kort voor lank verval mens in ‘n nimmereindigende spiraal van angs, negatiwiteit en depressie.

Om optimale energie vir oud en jonk te verseker, doen die volgende:

  • Besoek die tandarts en maak seker jou tande werk goed
  • Kou jou kos fyn voor jy sluk sodat energie behoorlik daaruit vrygestel kan word
  • Vind redes om te beweeg, op te staan; te stap; te kuier; voëls kos te gee en plantjies te plant
  • Dans!
  • Stoot iemand in ‘n rolstoel in die tuin en lig so jul albei se gemoed
  • Raak betrokke by projekte, jy kan nie gelyktydig stilsit én betrokke wees nie
  • Lig jou kop, tel op jou voete en sit skouer aan die wiel!

‘n Bewegende mens haal dieper asem, eet beter en word lyfmoeg – die perfekte teelaarde vir ‘n diep nagrus. Wanneer jy lyfmoeg in die bed klim, draai op jou sy met jou tong teen die verhemelte, kruis jou arms oor jou bors asof jy jouself vashou en haal diep en s-t-a-d-i-g asem, zzzz.

https://www.mindmoves.co.za/wp-content/uploads/2020/09/Overview-of-books.pdf

Login

Lost your password?