Swaartekrag – ‘n waardevolle teenverouderingsmiddel

Knelpunte wat vreugde en energie kan verorber
September 14, 2022
Loop is nie ewe natuurlik vir almal nie
October 27, 2022

Deur Celeste van der Walt

Ons moderne leefstyl waar jonk en oud, groot en klein dikwels te veel sit, het ‘n nadelige uitwerking op ‘n mense se gesondheid. Ten spyte daarvan dat mense nou langer leef, verouder hulle vinniger en sukkel van vroeg af met sogenaamde ”oumenssiektes”.

Swaartekrag is volgens navorsing by NASA die teenmiddel om hierdie toestand van jong-veroudering weens te veel sit, te voorkom en selfs om te keer.

Swaartekrag sonder beweging is ongesond en kan selfs gevaarlik wees.

Swaartekrag vs Spiertonus

Swaartekrag is ‘n afwaartse krag. Sommige meen swaartekrag is die aarde se suigkrag. Fisici sal die horriepiep kry as hulle dit lees, maar dis ‘n praktiese beeld wat die verstaan van die waarde van swaartekrag makliker maak. Spiertonus, in teenstelling met swaartekrag se afwaartse en sywartse krag, ontwikkel weens (opwaartse) beweging.

‘n Mens moet letterlik daagliks swaartekrag beveg, anders lê of sit ons heeldag. Daar is talle maniere om swaartekrag te oorkom en ons doen dit daagliks wanneer ons:

  • uit die bed en van ‘n stoel af opstaan
  • flink stap
  • trappe klim
  • rek en strek om vrugte te pluk, of wasgoed op te hang of af te haal
  • vloere vee of matte stofsuig
  • wieg in ‘n wiegstoel
  • dans

As jy die kind in jou wil loslaat kan jy wipplank ry, swaai, fiets ry en bal skop saam met die kleinkinders.

Wetenskaplikes glo die oefeninge wat die meeste waarde vir ons het, is oefeninge waar die hele liggaam gelyktydig betrokke is, eerder as geïsoleerde spiere of liggaamsdele soos in sommige gim-sessies. Hoe meer spiere terselfdertyd geaktiveer word, hoe meer word die produksie van hormone wat vernuwing en jeugdigheid stimuleer, geaktiveer.

Trampolienspring of liewer trampolienbons

As NASA praat van “the most effective exercise yet devised by man” kan jy nie help om te wonder oor wat hierdie uitermatige effektiewe oefening is nie. Jy verwag dat arms, lyf en bene wild en wakker, heen en weer swaai. Maar nee, hierdie ”wonderoefening” is ‘n stadige, ritmiese bons op ‘n klein trampolien.

Trampolienbons op die klein ronde soort trampolien met ‘n handvatsel vir stabiliteit, oefen elke spier in die liggaam terwyl dit suurstof aan die selle voorsien en sodoende die selle met nuwe lewe vul. Daar word beweer dat dit een van die aangenaamste en mees tydbesparende maniere is om fiks te raak, spiere sterk en soepel te maak, balans te verbeter en dit help glo om gewig te verloor. Boonop is dit skynbaar ook een van die mees suksesvolle maniere om die limfstelsel te stimuleer om afvalstowwe uit te skei, die immuunstelsel te versterk, energievlakke te verhoog en swaartekragreseptore te stimuleer.

Swaartekrag en swaartekragreseptore

Hoe is dit moontlik dat, deur net jou bene te gebruik om op en af te bons, jou hele liggaam daarby baat? Die geheim is swaartekrag.

So onlangs as in 2019 is ontdek dat ons swaartekragreseptore onder ons voete het. Hulle is belangrik want hulle laat die brein weet waar is jou voete. Maar jy kan mos jou voete sien! Die brein vertrou skynbaar inligting van hierdie bepaalde reseptore meer as ons oë.

When we rebound, we increase the pull of gravity on our bodies. As a result, the gravitational forces condition, tone and strengthen each body cell.

Jason Vale

Sterk en gesonde liggaamselle beteken beter fisiese en intellektuele gesondheid. Wanneer ons op die trampolien spring of bons, trek swaartekrag ons af en ons werk teen swaartekrag met die opwaartse beweging. Dit verhoog die werking of afwaartse trekkrag van swaartekrag sowel as ons spierkrag en vermoë om swaartekrag teen te staan.

Seniors hoef net te bons

Ouer persone hoef nie op en af te spring op ‘n trampolien nie. Ons hoef net te bons sonder om ons voete op te lig. Al bons ons net, voete plat op die mat van die trampolien, word elke sel in die liggaam steeds gestimuleer en versterk. Dit bied steeds die voordeel van die immuunstelsel en limfstelsel wat versterk word om meer funksioneel te wees en spiere wat meer soepel word. Gesondheid en gemoed verbeter en die verouderingsproses word vertraag.

Suurstof is breinkos

Veroudering en baie sit, beteken ons suurstofvlakke verlaag. Die gevolg is swakker gesondheid, vergeetagtigheid en verwarring. Om op die trampolien te bons, verbeter ons vermoë om suurstof in te neem en om meer suurstof aan die weefsel, selle en die brein te voorsien.

Waar genoeg suurstof teenwoordig is, kan daar nie siektes wees nie, meen Dr Otto Warberg, want meer suurstof beteken:

  • beter breinfunksie
  • flink en helder denke
  • goeie geheue

Beweging teen swaartekrag

Veroudering en te veel sit veroorsaak dat gewrigte styf en seer raak en dat liggaamspyne alledaags word. Sagte wip terwyl ons aan ‘n raam vashou bring verligting vir nek, rug- en ander pyne wat deur te min beweging veroorsaak word. Postuur en balans verbeter sodat ons flinker beweeg, met gemak stap, makliker regop bly en nie bang raak vir val nie.

Spysvertering en die verwydering van toksiene uit die liggaam verbeter ook wanneer ons gereeld bons.

Vir seniors is ‘n groot voordeel die verbetering van koördinasie oral in die liggaam. Namate ons verouder, neig koördinasie om bietjie afgestomp te raak, wat lompheid en ”dom”-bewegings veroorsaak. Gereelde bons maak ons weer meer vlytig en flink.

Nog ‘n voordeel van die klein trampolien is dat ons dit binnenshuis of buitenshuis kan gebruik. Binnenshuis kan jy musiek luister en ritmies bons, of jy kan saam sing of TV kyk. Buite kan jy die natuur geniet, na voëlsang luister en sonskyn op jou vel voel.

Luister ons na musiek terwyl ons bons, help die pret-element en ritme om stresvlakke te verlaag en vir langer tye aan te hou bons. Alles in ag geneem, lyk dit of wip ‘n uitstekende teenverouderingshulpmiddel is. ‘n Wenresep voorwaar.

Alternatief vir bons

Sou jy nie ‘n trampolien hê nie of onveilig voel op die trampolien, kan jy met behulp van ‘n tennisbal of ”poolnoodle” jou balans verbeter en geanker voel.

Navorsing deur Melodie de Jager van die Mind Moves Instituut in Johannesburg en ‘n span neuroloë in St Petersburg, Rusland het gevind dat bewussyn van jou voete krities belangrik is om met selfvertroue rond te beweeg, wat emosies stabiliseer en helder denke bevorder.

Wanneer ons ouer word, blyk dit asof die swaartekragreseptore minder sensitief raak weens min beweging. Dit beteken die brein ontvang nie altyd die nodige boodskappe vanaf die voete nie. Dit laat ons onvas op ons voete voel, asof ons nie geanker is nie. Dit is belangrik dat die brein en voete gedurig met mekaar in kontak is en as’t ware met mekaar praat.

By Senior Mind Moves, die Mind Moves Instituut se program vir senior volwassenes moedig ons aan dat seniors gereeld kaalvoet loop, sodat die voete se swaartekragreseptore gestimuleer en die voetspiere versterk kan word. Omdat ouer mense nie graag kaalvoet loop nie, is dit goed om te weet dat doelbewuste, flink en gereelde stap met skoene met sagte sole, waardevol is.

Vir seniors wat nie in die posisie is om te bons of te stap nie, is ‘n tennisbal of “poolnoodle” ‘n goeie alternatief wanneer ons tv kyk of radio luister.

Wat van ‘n tennisbal/”poolnoodle”

Om ‘n tennisbal onder die voete te rol, stimuleer nie net die swaartekragreseptore onder die voete nie, maar verbeter ook die bloedtoevoer na die voete. Die oefening word kaalvoet gedoen. Rol die bal om die beurt 30 keer onder elke voet.

Tydens ‘n studie wat in 2021 deur Senior Mind Moves met ’n aantal seniors gedoen is, is gevind dat nie net balans en ruimtelike sekuriteit verbeter het nie, maar ook slaappatrone. As die tennisbal te maklik onder jou voet uitglip, sny ‘n “poolnoodle” in 4 en deel met drie vriende sodat julle elkeen ‘n stuk van die “noodle” kaalvoet onder jul voete rol wanneer julle sit en radio luister of tv kyk of handwerk doen. Nou word sit produktief.

Of jy bons stap, dans, wieg of ‘n tennisbal rol, dit sal help dat jy regop bly, met meer selfvertroue sal stap, beter sal slaap, en jonk en vol vonk sal voel.

Lees gerus ‘n gratis hoofstuk oor die rol van swaartekrag op kinders met leerprobleme.   https://www.mindmoves.co.za/wp-content/uploads/2020/08/GRAVITY-a-missing-link-in-child-development_Chapter-1.pdf

Login

Lost your password?