Kinders wat byt en knyp roep uit na hulp!

Sit Still and Stay Still!
September 19, 2023
Children who bite and pinch are crying out for help!
September 20, 2023

Deur Retha Bloem

Twee ‘wapens’ wat babas en peuters tot ongeveer twee jaar oud baie maklik kan gebruik is byt en knyp.  Hierdie aksies kan ‘n traumatiese ervaring vir die slagoffer wees en in sommige gevalle kan dit ook gevaarlik wees.  Soos met byna alle negatiewe gedrag wat by jong kinders voorkom, is dit tot voordeel van die kind se welstand om die probleem nie te ignoreer nie, maar om dit aan te spreek vanaf die eerste insident.

 

With ignorance comes fear – from fear comes bigotry.

Education is the key to acceptance.

Kathleen Patel

Die byt- en knypaksie vind gewoonlik plaas wanneer die kind impulsief optree of gefrustreerd en magteloos voel.  Die ouderdom – en ontwikkelingsvlak van die kind speel ‘n belangrike rol in die gebruik van hierdie twee ‘wapens’.

Byt en knyp is dikwels die instinktiewe reaksie van veg, vlug of vries, in dié geval veg, wat deur die oorlewingsbrein beheer word.  Na gelang die kind se emosionelebrein ontwikkel, neem hierdie tipe gedrag af.  Dit kom dus minder voor by die voorskoolse kind as by peuters.  Namate die kind leer om te reageer op emosies vanuit die kognitiewe brein, begin hy groei na emosionele volwassenheid en sal byt en knyp nie meer as ‘wapen’ gebruik word nie.  Woorde wat die kind se emosie kan beskryf word dan eerder gebruik.

 

If you’re horrible to me,

I’m going to write a song about it, and you won’t like it.

That’s how I operate.

Taylor Swift

OORSAKE VIR BYT EN KNYP

Aangesien daar ‘n legio redes is waarom die jong kind byt, word slegs tien algemene redes hiervoor genoem:

  • Tande-kry kan soms ‘n pynlike deel van ontwikkeling wees wat heelwat onverwoordbare frustrasie by die kind laat ontstaan. Die behoefte om te byt of om aan iets te kou ontwikkel dan.
  • Die mees algemene oorsaak van byt en knyp is die vlak van emosionele rypheid waarin die kind op daardie stadium verkeer. Primêre emosies, byvoorbeeld die kind voel te nagekom, word nie in die kognitiewebrein verwerk nie en lei dan tot sekondêre emosies, byvoorbeeld woede.
  • Volgens De Jager (2013), is die mond en hande op dieselfde neurologiese baan in die brein en die onvermoë om emosie in woorde om te sit, kan hiermee verband hou. Die boodskap van die kind se emosies word uitgedruk of gekommunikeer deur die ‘gereedskap’ van taal, naamlik die hand en mond, wat as ‘n span saamwerk. Die boodskap van sy emosies kan weens die gebrek aan die regte woordeskat daarvoor, nog nie uitgepraat word nie.
  • Die onvoldoende ontwikkeling van die proprioseptore en die tassintuig, kan meebring dat die kind oorsensitief vir aanraking of nabyheid van maats is. Om sy persoonlike ruimte te beskerm en dit aan die maats te verduidelik, is die vinnigste manier dan om te byt of te knyp.
  • Die aanleer van impulsbeheer gebeur op verskillende tye by die kind, aangesien elkeen oor ‘n unieke dominansiesamestelling beskik. Die kind wat nog nie hierdie vaardigheid aangeleer het nie, tree  impulsief op en byt of knyp eers voordat hulle dink wat hulle doen.
  • Wanneer kinders magteloos voel, ontstaan die behoefte by hulle om die situasie of persoon wat dit veroorsaak, te manipuleer. Dit gebeur  ook dikwels in die omgewing waar daar chaos, nie struktuur of inkonsekwente optrede is.
  • Kinders wat te veel of te min gestimuleer word, kan gou gefrustreerd raak en byt of knyp bied dan vir hulle die uitlaatklep van hierdie negatiewe gevoel.
  • Trauma in die gesin, byvoorbeeld ‘n motorongeluk, inbraak, kaping, gesinsgeweld, egskeiding, verhuising, dood en ander, waaraan die kind blootgestel word, kan spanning veroorsaak. Hierdie spanning word dikwels omgesit in frustrasie, hartseer en ‘n magtelose gevoel.  Die kind probeer uiting gee aan hierdie negatiewe gevoelens deur te byt of te knyp.
  • Wanneer kinders nie genoeg slaap nie is hulle dikwels die daaropvolgende paar dae moeg. Sommige kinders is ‘slegte slapers’ en het dikwels ‘n permanente gevoel van moegheid.  Deesdae vind ons dat die deelname aan te veel aktiwiteite of te veel liggaamlike  stimulasie ook moegheid by die kind veroorsaak.  Kinders kan nie  hierdie moegheid verwoord nie en besef nie wat die oorsaak (slaappatrone, aktiwiteite) van hierdie gevolg (moegheid) is nie.
  • Alhoewel daar skole is wat toesien dat die inname van suiker, stysel, kleurstowwe, preserveermiddels en dies meer beperk word in die kind se dieetplan, is daar wel kleuterskole en skole wat snoepies met ‘n wanbalans van al hierdie ‘sondes’ vir die kinders te koop aanbied. Dit is reeds oor en oor bewys dat hierdie middels ‘n negatiewe uitwerking van hiper- of hipoaktiwiteit by die kinders veroorsaak.  Uit frustrasie as gevolg van hierdie negatiewe gedrag wat veroorsaak word, byt of knyp die kind in ‘n poging om uiting te gee aan sy gevoel.  Hiermee saam kan die gevaar van ondervoeding (honger) en wanvoeding ook ondersoek word, aangesien kinders dikwels nie gesonde Omega 3 en 6 in gebalanseerde hoeveelhede op natuurlike wyse inneem nie.

 

Knowing what’s right doesn’t mean much

Unless you do what’s right.

Theodore Rooseveldt

WAT STAAN MY AS OUER, VOLWASSENE, KINDEROPPASSER, OPVOEDER, ONDERWYSER EN ANDER TE DOEN?

Soos reeds in die inleiding genoem, kan die probleem van byt en knyp opgelos word, slegs as dit die nodige aandag vanaf die vroegste insident af geniet.  Daar moet aan die slagoffer, sowel as die kind wat gebyt of geknyp het, aandag gegee word.

Aangesien die slagoffer gewoonlik eerste aandag geniet na ‘n insident van byt of knyp en die probleem selde by die slagoffer ontstaan, word die klem vir eers op die ‘sondebok’ gelê. Negatiewe gedrag soos byt en knyp moet nie soveel aandag geniet dat die oortreder meer bemagtig deur sy negatiewe gedrag voel nie.

Eerstens moet die kind bewusgemaak word van verskillende emosies wat hy ervaar.  Hierdie bewusmaking geskied ongelukkig nie oornag nie en daarom moet die kind gereeld die geleentheid kry om sy gevoelens te projekteer.

Emosies moet nou ‘n naam kry, sodat die kind dit kan identifiseer.  Woordeskat moet uitgebrei word, om sodoende die kind met taal te bemagtig.  Woorde soos lekker kan nou vervang word met meer gepaste woorde soos gelukkig, opgewonde, bly, vrolik en kwaad kan vervang word met woorde soos teleurgesteld,  ongelukkig, hartseer, en so meer.

Wanneer die kind bewus is van sy emosie, kan hy dit identifiseer om dit sodoende konstruktief te begin bestuur.  Die ou raad  om stadig te tel tot by tien, voordat iemand reageer, bly vanpas deur die jare heen.  Die kind moet aanleer om homself te beheer en die insident wat hom tot byt en knyp kon lei, eers goed deur te dink.

Die kind moet ook gelei word om die emosie van die slagoffer te herken, sodat hy die begrip van oorsaak en gevolg kan verstaan.  Kinders moet aangemoedig word om mekaar se gevoelens te erken en in ag te neem, maar die oortreder en die slagoffer moet nooit gedwing word om direk na ‘n byt of knyp insident met mekaar te speel nie.  Met elke behoefte aan byt of knyp wat beheer is, sal die kind bemagtig voel en innerlike motivering om aanvaarbare en positiewe gedrag te openbaar,  sal ontwikkel.

Die volgende uitdrukking:  “you can’t fight fire with fire,” is so waar en ‘n kind wat byt mag NOOIT teruggebyt word nie.  Die korrekte en positiewe gedrag moet te alle tye aan die kind gemodelleer word.  Dit is van kardinale belang dat kinders oor ‘n lang tydperk aan gesonde, positiewe en betekenisvolle verhoudings blootgestel word.

 

People who love themselves,

Don’t hurt other people.

The more we hate ourselves,

The more we want others to suffer.

Dan Pearce

OPLOSSINGS VIR DIE TIEN ALGEMENE REDES VIR BYT EN KNYP ONDER DIE VERGROOTGLAS

Aangesien kinders uniek is en nie dieselfde op dieselfde hantering reageer nie, kan die onderstaande oplossings nie as die enigste oplossings beskou word nie. Mind Moves® (De Jager, 2009) ‘n  bewegingsprogram wat daagliks, 3 keer per dag en op ‘n gekontroleerde wyse gedoen kan word om byt en knyp te verhoed, word ook aanbeveel.

  • Die kind moet homself as geliefd en waardevol ervaar. Bou dus aan ‘n positiewe en gebalanseerde selfbeeld.  Nie alleen volwassenes nie, maar ook kinders, wil voel dat hulle behoort.  Kinders moet ook weet watter gedrag sosiaal aanvaarbaar is en watter nie is nie.  ‘n Liefdevolle omgewing waarin die kind grootword bied geborgenheid en laat sy selfbeeld positief ontwikkel.

Mind Moves:  Helderwakker

Gooi die arms wyd oop en asem diep en stadig in. Kruis dan die arms oor die bors in ʼn omhelsende gebaar, en asem diep en stadig uit. Die ouer kan die kind terselfdertyd van agter af omhels. Hierdie oefening bevorder ontspanning, ritmiese asemhaling en ‘n gevoel van behaaglikheid.

  • Suig is die voorloper van spraak, daarom moet die Suig- en Soekrefleks goed ontwikkel wees om die spraakorgane te stimuleer. Stroop of heuning kan om die mond gesmeer word en dan moet die kind dit met groot tongbewegingsaflek. Die fynmotoriese ontwikkeling van die hand, en meer spesifiek die onafhanklike funksionering van die regterduim, is ‘n voorloper van spraak- en taalontwikkeling. Gebruik speeldeeg om klein balletjies te vorm, eers met die linkerhand se vingers en dan met die regterhand se vingers. Die korrekte woordeskat is van kardinale belang in die groeiproses na emosionele volwassenheid.  Bemagtig dus die kind met woorde wat sy  emosie meer akkuraat kan beskryf as net ‘lekker’ of ‘sleg’.  Leer die kind dat daar wel ‘n verskil tussen byvoorbeeld hartseer en kwaad

Mind Moves: Kakebeenlosmaker

Maak die mond wyd oop deur die kakebeen te laat sak en druk met die vingers al op die kakebeengewrig langs van net bo die kiestande tot gelyk met die ore. Masseer die kakebeengewrig liggies om spanning te verlig. Hierdie oefening bevorder reseptiewe en ekspressiewe taal (mondeling en skriftelik).

Mind Moves: Tongoefeninge

Oefen die tong deur dit hoog in die mond te lig en so ver moontlik terug te trek. Steek dit dan so ver moontlik uit en beweeg dit heen en weer. Hierdie oefening stimuleer die spiere wat nodig is vir spraak, speekselbeheer en om netjies te eet.

Mind Moves: Handmassering

Masseer die hand deur ferm druk uit te oefen op die spiere tussen die handbeentjies om die hand van die pols tot by die vingers te laat ontspan. Oefen druk uit op elke vinger vanaf die basis van die vinger tot by die nael. Sprei dan die vingers so wyd moontlik oop en behou die posisie vir agt tellings. Herhaal met die ander hand.  Hierdie oefening verbeter spiertonus, propriosepsie, potloodgreep, fynmotoriese beheer en spraak.

  • Reeds van baba-dae af geniet kinders beweging en ritme. Dans gereeldmet die kind, sodat sy sin vir rigting en posisie in die ruimte van vroeg af kan ontwikkel.  Deur hul lyfies al om die buitelyne, asook hande en voete te masseer word die proprioseptore en tassintuig gestimuleer.  Die beleef dan beter sensoriese ontwikkeling.

Mind Moves:  Mind Moves Massering

Laat staan die kind regop met albei arms teen ‘n 90 grade hoek langs die liggaam. Staan agter die kind en trek die buitelyn van sy liggaam met ferm hale van kop tot tone na. Hou die voete ‘n oomblik lank vas. Herhaal drie maal.

  • Die grense waarbinne die kind mag optree, moet op die kind se vlak aan hom verduidelik word. Grense moet nie wankelrig wees nie, aangesien dit normaal by kinders is om die grense se standvastigheid te toets.  Wanneer kinders besef dat die oorsaak ook ‘n gevolg het wat konsekwent toegepas word, bied dit vir hom sekuriteit.  Die kind kan ook die robot-tegniek aanleer, deur eers te stop voordat hy optree.  Hierna dink hy oor die situasie wat pas plaasgevind het.  Laastens neem hy positiewe aksie om as ‘n selfversekerde wenner uit die situasie te kan tree.

Mind Moves: Selfvertroue-hupstoot

Kruis die enkels en arms in ‘n omhelsing. Laat rus die tong in die suigposisie agter teen die verhemelte om die emosionele brein te aktiveer. Maak die oë toe om visuele prikkels uit te skakel indien verkies. Haal stadig asem. Hierdie oefening kalmeer die liggaam, siel en gees. Dit versterk ook die immuunstelsel en bevorder ritme.

  • Manipulasie onstaan waar daar nie konsekwente reëls is nie en waar die volwassenes in een huishouding nie saamstem oor hoe die huisreëls toegepas moet word nie. Leë beloftes of dissipline-dreigemente van ouers kan ook tot manipulasie bydra.  Die kind moet sy ouer kan glo en vertrou en die uitsonderings moet tot die minimum beperk word.

Mind Moves: Kragskakelaar

Vryf die holte net onder die sleutelbeen in lyn met die linkeroog. Hierdie oefening herstel die elektriese vloei via die vagussenuwee na die spraakorgane en maag om senuweeagtigheid te verlig en ‘n mens te help om met gemak te praat.

Mind Moves: Bilaterale Integreerder

Hou twee potlode of stokkies met gekleurde linte aan die punte tussen die duime en wysvingers vas. Laat die potlode op die holte tussen die duim en wysvinger en op die middelvinger rus. Beweeg die arms in ‘n spieëlbeeld asof jy ‘n koor dirigeer. Dit is ‘n prettige manier om ritme, oog-hand-koördinasie, fokus en perifere visie asook links-regs-integrasie te bevorder ten einde vlot te praat, te lees en te skryf.

  • Kinders moet volgens hulle ontwikkelingspeil gestimuleer word. Daar is nie ‘n vaste korrelasie tussen  intelligensievlak en ontwikkelingsmylpale wat vroeër bereik word nie.  ‘n Tweejarige kan tog nie op die pottebakkerswiel werk as hy nog net met die klei wil eksperimenteer nie.
  • Kinders herleef dikwels gesins-trauma deur rolspel. Spelterapeute is toe gerus om die jong kind deur die emosies van gesins-trauma te begelei.  Dikwels word daar gewag totdat die kind eers sigbare tekens van spanning toon, voordat hulp gesoek word.  Hoe vroeër hieraan aandag geskenk  word, hoe beter is die helingsproses wat dan die spanning drasties kan

Mind Moves:  Beenstrekke

Sit op ‘n stoel en strek albei bene voor jou uit met die hakke op die vloer. Lig albei bene van die vloer af op. Buig en punt albei voete se tone en let op of die kuitspiere stram voel. Laat rus die linkervoet op die vloer en buig die regtervoet; behou die posisie vir agt tellings. Ontspan. Herhaal die oefening ten minste drie maal. Laat rus die regtervoet op die vloer en buig die linkervoet; behou die posisie vir agt tellings. Ontspan. Herhaal die oefening ten minste driemaal. Lig albei voete van die grond af op. Buig en punt albei voete se tone en let op of die kuitspiere minder stram voel. Hierdie oefening verminder hiperaktiwiteit en verbeter impulsbeheer deur die kuitspiere en hakskeensenings te verleng. Dieselfde resultaat word verkry deur op ‘n leer te klim, perd te ry of op die hakke te loop.

  • Sien toe dat die kind se bed gemaklik en groot genoeg is. Die bepaalde  slaaproetine moet nougeset gevolg word en die kind moet genoegsame ure slaap.  Rustyd gedurende die middag bring dikwels mee dat kinders rustiger  slaap in die aand.  Stel slaaptydreëls in, sodat die kind sonder twyfel weet  wat van hom verwag word en rustig bed toe kan gaan.

Mind Moves: Homolaterale Mars

Lê plat op die rug. Lig die linkerarm en linkerbeen stadig op. Ontspan. Lig nou die regterarm en -been stadig op. Ontspan. Herhaal minstens 10 maal. Doen die oefening staande wanneer dit glad uitgevoer kan word in ‘n liggende posisie. NB: Volg altyd op met ‘n Bilaterale mars. Hierdie oefening ontwikkel heupbuiging asook die linker- en regterbrein, onderbreek onwillekeurige beweging, en verlig impulsiewe en hiperaktiewe beweging.

Mind Moves: Bilaterale Mars

Raak met die linkerknie en die regterhand aan mekaar deur die bolyf te draai om die teenoorgestelde skouer en heup na mekaar toe te bring, met die ander arm en been gestrek. Raak nou met die linkerhand aan die regterknie en strek die ander arm en been. Hierdie oefening stimuleer links-regs-integrasie deur die kruising van die laterale middellyn. Doen dit verkieslik eers in ‘n liggende posisie en dan in ‘ n staande posisie. Herhaal ten minste 10 maal. Die oefening kan ook gedoen word terwyl ‘n mens sing of papegaaiwerk leer. Hierdie oefening integreer die linker- en regterkantste dele van die brein en liggaam deur die middellyn te kruis. Wanneer dit met die oë in die visuele, ouditiewe en kinestetiese posisies gedoen word, word al drie middellyne gekruis.

  • Maak seker dat die kind daagliks gebalanseerd van al die voedselgroepe in die sogenaamde voedselpiramide inneem. ‘n Lae GI-eetwyse kan volhoubare energie gedurende die dag verskaf.  Vervang peuselhappies wat kleurstowwe, suiker, preserveermiddels en ander bevat met neute, wortels, vrugte, onder meer. Dit is belangrik om toe te sien dat kinders tydens etenstyd by ‘n tafel eet en nie enige tyd gedurende die dag maar kan gaan eet, bloot omdat hulle vroeër wou eet nie.  Die voordeel van etenstye wat gesellig is eerder as gejaagd, is van groot waarde.
  • Gebruik ‘n babatandeborsel om tandvleis mee te vryf. Southappies, soos biltong en jong mieliepunte kan verligting bring vir die pynlike deel van tandekry.

Mind Moves:  Lipmassering

Vryf die gedeeltes bo die bolip en onder die onderlip gelyktydig in ‘n horisontale rigting. By babas aktiveer dit die Suigrefleks, maar by ouer kinders bevorder hierdie oefening waarnemingsvaardighede en denke. Dit beheer ook die drang om impulsief te praat asook die emosionele behoefte om te eet of te suig.

SAL STRAF OF DISSIPLINE DIE BESTE MANIER VIR DIE HANTERING VAN BYT OF KNYP WEES?

Om die kind beter te verstaan moet ons eers kyk na die verskil tussen straf en dissipline.  Straf is dikwels ‘n reaksie op die oortreding van byt of knyp en word toegepas uit die emosie van hoe die insident die opvoeder laat voel.  Dit spreek nie die emosies, oorsaak of gevolg tot betrekking van die negatiewe gedrag by die betrokke partye aan nie.  Dissipline word toegepas as gevolg van vooropgestelde reëls wat die kind begryp.  Dit is die gevolg wat deur die oortreder gedra moet word, wanneer hy hierdie reëls wat bekend is aan hom, oortree en verkeerde keuses maak.  Dissipline ondersteun die ontwikkeling van ‘n verantwoordelikheidsin, aangesien die oortreder gelei word om later selfstandig probleme op te los.

‘n Laaste woord aan die opvoeder:  hanteer die oortreding van byt of knyp meer vanuit die kognitiewe brein as vanuit die emosionele brein.  Beheer die reaksie en neem aksie.

1…2…3…4…5…6…7…8…9…10 en kalmeer eers!

I would rather be a little nobody,

Then to be an evil somebody.

Abraham Lincoln

 

Bronnelys:

De Jager, M. 2009.  Mind Moves – Wikkel die brein wawyd wakker. Johannesburg:  Mind Moves Instituut.

De Jager, M & Victor, L. 2013. Speel Leer Slim. Welgemoed: Metz Press.

Orffer, H.  2010.  Wen teen boelie.  Pretoria:   Hettie Orffer.

Richardson, A.  2012.  Koester jou Kleuter.  Kaapstad:  Metz Press Publishing.

http://www.goodreads.com/quotes/tag/bullying

Ervaring vanuit gevallestudies gedurende spelterapie in die praktyk van J. M. Bloem

 

 

Login

Lost your password?