Mamma, help my asseblief lees!

Children who bite and pinch are crying out for help!
September 20, 2023
Mommy, please help me read!
September 20, 2023

Dr Lindie Moolman

Sannie is in Gr. 3 maar steeds maak letters nie vir haar sin nie, is omkerings aan die orde van die dag en sukkel sy om met haar klaswerkies by te hou.  Sy het sommer ook gereeld maagpyn en huil as sy moet skool toe gaan.  Wat het gebeur?

Spraak- en taalvaardighede word by die begin van geboorte al ontwikkel deur aan elke deel van baba se lyfie te raak, asook kledingstukke, mense en enige ander voorwerpe aan te raak en dit te benoem.  Soos baba en later kleuter sy liggaam en die wêreld om hom/haar deur sy sintuie ervaar, begin hy eers ‘n luisterwoordeskat en reseptiewe taalvaardighede bou (De Jager & Victor, 2013). Volgens Gettman (1987) is die hoofdoelwit van taal om te kommunikeer.   Om taal egter permanensie te gee moet ons dit visueel of taktiel kan voorstel.  Gettman (1987) redeneer ook verder deur te sê dat ‘n horende kind wat grootword rondom volwassenes wat met die kind praat in sy/haar eerste lewensjare, wel sal leer praat.  Maar dit is egter nie die geval met lees en skryf nie.  Omdat lees en skryf nie ‘n universele, natuurlike menslike aktiwiteit is nie vind baie kinders dit moeilik om hierdie ‘onnatuurlike’ aktiwiteit aan te leer. Lees moet geleer, gekultiveer word.

Hoe kan ons dan ons kinders help om die vaardigheid van lees te bemeester?  Kom ons kyk na die boublokke van lees (Voorskool tot Gr. 3).

BOUBLOK 1:  BETEKENISGEWING

In ‘n kind se eerste twee lewensjare sien, hoor en ervaar ‘n kind baie dinge sonder om rasioneel daaroor te kan dink.  Dit is egter belangrik dat die kind hierdie ervaring moet identifiseer, verstaan en in eenvoudige kategorieë plaas.  Hierdie vroeë organisering is belangrik vir lees en skryf omdat:

  1. a) Die wêreld georganiseerd moet voorkom voor ‘n kind sin kan maak van geskrewe werk deur bv. lees en skryf.
  2. b) Die kind leer dat voorwerpe op hulle eie bestaan en nie net gebruik word vir eie behoeftes nie. Die ‘Ek’ word losgemaak van die wêreld (De Jager & Victor, 2013, Gettman, 1987).

Hoe kan ek as ouer my kind help om betekenis aan sy/haar wêreld te gee?

Gaan bv. na die kombuis en wys en benoem alles vir jou kind wat julle in die kombuis kry.  Doen dit met elke vertrek in die huis.  Gaan op uitstappies na bv. ‘n diereplaas en wys vir jou kind dat ons gewoonlik verskillende diere op ‘n plaas kry.  Dit is tasbare leerevarings wat al jou kind se sintuie betrek.

Kyk saam na boekies waar voorwerpe volgens temas gerangskik is bv. “My groot boek oor diere” of “1000 eerste woorde” of “Otto se eerste woordeboek”. Hierdeur prikkel jy as ouer ‘n leergierige gees in jou kind.  Jou kind besef daar is ‘n veel groter wêreld daar buite wat verken moet word.

BOUBLOK 2: VERKEN EN ERKEN

Die volgende boublok vir lees is waar ‘n kind bewus word daarvan dat daar verskillende klanke in ‘n woord is.  Hierdie vaardigheid word fonemiese bewustheid genoem waar ‘n kind daartoe in staat is om klanke van mekaar te onderskei en ook weer saam te sit (McGuinness & McGuinness, 1998).

Klanke in ons taal het ontstaan lank voor geskrewe simbole.  Geskrewe simbole vir taal was juis uitgevind sodat hulle die klanke kon verteenwoordig wat die mens al vir eeue lank praat.  Wanneer ‘n kind dus van erkenning gebruik maak tydens die leesproses gebruik ons dit wat die kind reeds weet, m.a.w. klanke van sy/haar taal en leer hom/haar dan later dat elke klank ook verteenwoordig word deur ‘n klankprentjie (ie. letters van die alfabet).  Dit is ook belangrik om vir jou kind te leer dat letters nie klanke maak nie, maar dat hulle klanke voorstel ie. ‘n Klankprentjie.

Hoe kan ek as ouer my kind help om fonemiese bewustheid te ontwikkel?

  • Voordat enige klank speletjies gespeel word kan julle eers die Mind Moves® Antennaversteller doen. Die Antennaversteller maak die ore “wakker” en vestig die brein se aandag daarop dat ek nou moet luister.  Hierdie oefening ontwikkel die naby sintuie, ouditiewe prosessering, ouditiewe persepsie en reseptiewe taalvermoë.
  • Bou woordjies saam met jou kind bv. “m” vir mamma en mot. “b” vir Ben en bad en bal.  So word jou kind reeds daarvan bewus dat daar verskillende klanke in ‘n woord is.
  • Speel “Ek sien iets met my kleine kleine ogies wat begin met ‘n …”.
  • In Gr R kan jy saam met jou kind met klanke begin speel deur byvoorbeeld te vra: “As ek sê ka-t watter woord hoor jy? As mamma sê p-a-n watter woord hoor jy?  Watter klankies kry ons in “mat”?

Die vaardigheid om tussen klanke te kan onderskei en klanke in woorde op te breek, is baie belangrik voordat ‘n kind kan begin om woorde te lees en te skryf.

BOUBLOK 3:  KLANK NA ALFABET

Die volgende boublok vir lees is waar kinders die ooreenstemming tussen ‘n klank en ‘n letter van die alfabet leer ken.  Tydens hierdie stap is dit ook baie belangrik dat kinders hulle sintuie betrek.

Hoe kan ek as ouer my kind help?

  • Voordat julle begin met die klank na alfabet speletjies kan julle eers die Mind Moves Bilaterale integreerder in rys te doen. Die Bilaterale Integreerder is ‘n prettige manier om links-regs-integrasie te bevorder ten einde vlot te praat, te lees en te skryf.
  • Wys vir jou kind hoe lyk die klank “a” deur dit byvoorbeeld in die sand of in meel te skryf. Om letters in skeerskuim te skryf is ook groot pret.
  • Bou die klank “a” uit klei of maak vir jou kind letters van die alfabet uit skuurpapier. Onthou ook om die letters te maak soos jou kind dit sal leer skryf – deur elke letter op die regte plek te begin.  Jy kan ook ‘n plakkertjie op die skuurpapier plek waar elke letter moet begin.  Wanneer jou kind dan die letter met sy vinger maak laat hom die klank van die letter hardop sê.  Doen dit met elke letter van die alfabet.  Moet egter nie meer as 8 klanke op ‘n keer vir jou kind probeer leer nie. (Kleispel ontwikkel ook die handspiertjies wat later nodig is vir skryf.)
  • Wanneer individuele klanke goed gevestig is, kan jy aan jou kind verduidelik dat twee klanke saamgesit kan word om ‘n nuwe klankprentjie te vorm bv. o en e maak “oe” of a en a en i maak “aai”.
  • Dit is ook belangrik om vir kinders te verduidelik dat sommige klanke op verskillende maniere voorgestel kan word bv. as ons ‘warm’ skryf klink dit vir ons of daar ‘n “e” moet wees tussen die “r” en “m” maar ons skryf dit net as ‘n “rm” klank.
  • Skryf ook jou kind se naam bo aan sy/haar kunswerke dat sy/haar oog gewoond raak aan die vorm van sy/haar naam. In Gr. R sal jou kind se juffrou begin om hom/haar te leer om sy/haar naam te skryf.

VERDERE WENKE VIR OUERS

  • Beweging is die sleutel. Talle navorsingstudies toon aan dat herhaalde bewegings help om neurale paadjies tussen die brein en die liggaam te versterk.  Selfs die vermoë om te lees, te skryf en wiskunde te doen, word op die verhouding tussen die brein en die liggaam gebou (De Jager & Victor, 2013).
  • Kinders se oë moet gewoond raak om in die korrekte leesrigting te beweeg – van links na regs. Hierdie is nie vir alle kinders ‘n natuurlike vaardigheid nie.  Mind Moves se Muismatras is ‘n ideale speelse manier om kinders se oë voor te berei vir die korrekte leesrigting.
  • Ontwikkel jou kind se gehoorvermoë. Speel bv. ‘soek die dier’.  Maak al die plaas- en wilde diere in julle speelgoedhouer bymekaar.  Sprei dit uit voor jou kind.  Maak die geluid van een dier en dan moet jou kind so gou as moontlik die dier vir jou uitwys.  Julle kan ook rolle omruil (De Jager & Victor, 2013).
  • Ontwikkel jou kind se waarnemingsvermoë. Jy kan bv. dat jou kind kraletjies in ‘n patroon ryg bv. twee wit, een rooi en drie blou.  Vra jou kind daarna watter patroon het julle gemaak.  Pak drie blokkies op ‘n tafel waarvan twee dieselfde is.  Vra jou kind om vir jou te wys watter blokkie anders is.  Of laat jou kind dieselfde patroon vir jou oorpak.
  • Maak jou kind lief vir die geskrewe woord deur ten minste elke dag vir hom/haar ‘n storie of ‘n rympie te lees. Wanneer jou kind ouer is, kan hy/sy vir jou “lees” deur na die prentjies te kyk.
  • Praat baie met jou kind en gee vir elke vraag ‘n behoorlike verduideliking. Gebruik alle oomblikke moontlik om taal te bevorder.  So hoor jou kind ook gedurig die verskillende klanke en word sy ore ingestel vir jou spesifieke taal se klanke.

MIND MOVES  VIR BETER LEES EN SPEL

Mind Moves (De Jager, 2009) is ‘n bewegingsprogram wat deur ouers en onderwysers op ‘n daaglikse basis gebruik kan word om leerders te help om lees- en spelvaardighede te verbeter.

Mind Moves Homolaterale Mars

Lê plat op die rug.  Lig die linkerarm en linkerbeen stadig op.  Ontspan.  Lig nou die regterarm en -been stadig op.  Ontspan.  Herhaal minstens 10 maal.  Doen die oefening staande wanneer dit glad uitgevoer kan word in ‘n liggende posisie.

NB:  Volg altyd op met ‘n Bilaterale mars.

Hierdie oefening ontwikkel die linker- en regterbrein en verlig impulsiewe en hiperaktiewe beweging.

Mind Moves Bilaterale Mars

Raak met die linkerknie en die regterhand aan mekaar deur die bolyf te draai om die teenoorgestelde skouer en heup na mekaar toe te bring, met die ander arm en been gestrek.  Raak nou met die linkerhand aan die regterknie en strek die ander arm en been.  Doen dit verkieslik eers in ‘n liggende posisie en dan in ‘n staande posisie.  Herhaal ten minste 10 maal.

Hierdie oefening integreer die linker- en regterkantste dele van die brein en liggaam deur die middellyn te kruis.  Wanneer dit met die oë in die visuele, ouditiewe en kinestetiese posisies gedoen word, word al drie middellyne gekruis.

Mind Moves Antennaversteller

Masseer albei oorskulpe gelyktydig van bo  na onder met sirkelbewegings.

Hierdie oefening ontwikkel die naby sintuie, ouditiewe prosessering, ouditiewe persepsie en reseptiewe taalvermoë.

Mind Moves Bilaterale Integreerder

Hou twee potlode of stokkies met gekleurde linte aan die punte tussen die duime en wysvingers vas.  Laat die potlode op die holte tussen die duim en wysvinger en op die middelvinger rus.  Beweeg die arms in ‘n spieëlbeeld asof jy ‘n koor dirigeer. Die oefening kan ook in ʼn skinkbord vol rys gedoen word.

Hierdie beweging is ‘n prettige manier om ritme, oog-hand-koördinasie, fokus en perifere visie asook links-regs-integrasie te bevorder ten einde vlot te praat, te lees en te skryf.

Mind Moves Muismatras

Die oë is die brein se rekenaarmuis – hulle aktiveer verskillende dele van die brein wanneer hulle opwaarts, afwaarts, horisontaal, na links en na regs draai.  Hou die duim op elmboogafstand van die oë en fokus daarop.  Beweeg die duim opwaarts, eers rondom die linkeroog en dan rondom die regteroog.  Herhaal vyf maal.  Ruil hande om en herhaal dieselfde proses.  Trek altyd eers ‘n sirkel om die linkeroog en dan om die regteroog.

Hierdie beweging stimuleer die visuele, ouditiewe en kinestetiese vermoëns, terwyl die kruising van die middellyn die linker- en regterdele van die brein en liggaam integreer.

Mind Moves Vingergeveg

Druk met die wysvinger teen die duim en hou die druk agt tellings lank vol.  Ontspan.  Ruil vingers om en gaan voort totdat al vier vingers ‘n beurt gekry het.

Hierdie oefening skei die verskillende dele van die hande.  Dit verbeter ook spiertonus van albei hande, handskrifvaardighede, fynmotoriese beheer en kommunikasievaardighede.

Bronnelys:

De Jager, M. 2019.  Kopskuiwe.  Weg met leerblokkasies.  Welgemoed: Metz Press.

De Jager, M. 2019.  Mind Moves – wikkel die brein wawyd wakker.  Johannesburg: Mind Moves® Instituut.

De Jager, M. & Victor, L.  2013.  SPEEL LEER SLIM.  ‘n Kind is ‘n mens in wording.  Welgemoed: Metz Press.

Gettman, D.  1987.  Basic Montessori.  Learning activities for under-fives.  NY:  St. Martin’s Press.

McGuinness, C. & McGuinness, G.  1998.  Reading reflex.  The foolproof phono-graphix method for teaching your child to read.  NY: Simon & Schuster.

Login

Lost your password?