Help! Daar is gate in my kind se emmer!

Help! There are holes in my child’s bucket!
September 25, 2023
Help! I am drowning in therapy!
September 25, 2023

Deur Amanda Wepener

Johan was só opgewonde om groot skool toe te kan gaan. Sy ma onthou nog helder die opgewondenheid van skoolklere aanpas en skryfbehoeftes koop. Hy het slim en groot gevoel. Hy was so trots. Sy ma was so trots.

Nou 3 jaar later is hy in graad 4. Hy is nie meer opgewonde nie. Hy voel nie meer slim nie. Hy is nie meer trots nie. Sy ma kyk na hom en sy verstaan nie. Hy ís slim. Sy wéét dit. Hy werk hard by die huis. Maar dit wat hy insit … is nie wat hy uitkry nie.

Sien, die waarheid is – Johan is inderdaad baie slim. Hy het ‘n emmer vol talente en vaardighede. Maar sy emmer is vol gate. Hy onthou nie dit wat hy geleer het nie en kan ook nie konsentreer nie. Hy doen nie goed in die eksamen nie en dit maak hom moedeloos.

Weg is sy motivering om vir die volgende vraestel te leer – wat help dit tog? Dis nie reg nie. Wat mens insit moet jy tog uitkry. Dis nie reg nie en dis nie regverdig nie. Maar dis die realiteit.

Daar is baie Johans in ons klaskamers. Dalk het jy ‘n Johan in jou huis. Sit jy ook met jou hande in jou hare? Sien jy ook sy potensiaal maar sy rapport wys dit nie? Hoe help mens ‘n Johan – wat slim is – maar sy emmer is vol gate?

Die antwoord is eenvoudig. Begin by die begin. Solank as wat daar gate in sy emmer is maak dit nie saak wat ons bo insit nie, dit gaan onder uitloop. Ons moet die gate toeplak. Dit help ook nie ons begin met die boonste gate nie, ons moet met die onderste gate begin. Net soos wanneer mens ‘n huis bou jy nie met die dak begin nie maar wel met die fondasie – moet ons na Johan se fondasie gaan kyk.

Fondasie = fisiese ontwikkeling.

Wanneer daar ‘n haakplek is met ‘n kind se fisiese ontwikkeling, word die huisie op ‘n wankelrige fondament gebou.

HET JY GEWEET?

Onbehandelde en herhaalde oorinfeksies veroorsaak later 94% van alle leerprobleme. (De Jager & Victor, 2013)

Volgens dr. Paul Maclean se Drie-in-Een Breinteorie kan 3 dele van die brein onderskei word: die oorlewingsbrein, die emosionele brein en die denkende brein (De Jager, 2009).

Binne die oorlewingsbrein is ‘n hele refleksstelsel waarvan ons nie eers bewus is nie maar wat verantwoordelik is vir die bedrading van ons sintuie, brein en spiere. Dr. Melodie de Jager noem hierdie refleksstelsel die onsigbare ouer (De Jager, 2011).

Dit is hierdie onsigbare ouer wat sorg dat elke refleks wegspring volgens ‘n baie spesifieke bloudruk om elke sintuig, gedeelte van die brein en spiere in ‘n baie spesifieke volgorde te ontwikkel en te bedraad.

Dit is van kardinale belang dat elke sintuig volledig ontwikkel en bedraad word. Die refleksstelsel werk byna soos aflosatlete – elkeen het ‘n ander wegspringtyd om ‘n bepaalde sintuig te begin ontwikkel en te bedraad. Wanneer een refleks dan nie sy werk doen nie (atleet laat val die stokkie) word die hele wedloop beïnvloed.

Ons sintuie ontwikkel in die volgende volgorde:

  1. Tas
  2. Binnesintuie
  3. Reuk
  4. Smaak
  5. Gehoor
  6. Sig

Die binnesintuie bestaan uit propriosepsie, die vestibulêre stelsel en kinese.

HET JY GEWEET?

Onderontwikkelde binnesintuie is dikwels die oorsaak van ADD en ADHD. (De Jager & Victor, 2013)

Wanneer ‘n refleks verskyn, maar om een of ander rede nie sy taak voltooi het nie, kan die refleks nie gaan rus nie. Dit veroorsaak krakies in die fondasie. Die huisie word nou op ‘n wankelrige fondasie gebou wat veroorsaak dat die mure later kan kraak of dak selfs kan ineenstort. Ons sien dit in ons kinders as noodseine wat hul gee – hul kan sukkel om te konsentreer, hul kan ‘n swak geheue hê, lae spiertonus, angs – gate in ‘n emmer!

Wanneer ‘n kind sukkel op skool – hetsy met konsentrasie of lees of letterherkenning lyk dit kompleet asof die dak bietjie herstelwerk nodig het.  Mens sou aan die dak kon werk, maar die probleem is net, in die meeste van die gevalle is daar ‘n probleem met die fondasie.  Die probleem eggo op … op teen die mure en op tot by die dak.  Dikwels gaan die dakprobleme nie opgelos word totdat die fondasieprobleme eers uitgesorteer is nie.  Dis moeilik om ‘n fout in die fondasie te herstel, moeilik maar beslis moontlik, maar dit vat tyd om dit te herstel. Soos wat jy nie ‘n avokado peer ryp kan druk nie, so kan jy nie die fondasie in ‘n japtrap herstel nie.

Maar wat kan ons doen? Hoe maak ons die krakies heel? Hoe maak ons die gate toe? Ons gaan terug na die heel begin.  Fondasie.  Uit ‘n Mind Moves® perspektief sal mens moet kyk of enige primitiewe reflekse nog aanwesig is en dan ‘n tuisbewegingsprogram volg om die reflekse te inhibeer. Sodoende herstel mens die fondasie stap vir stap en kan ander vaardighede daarop bou.

Die volgende Mind Moves oefeninge (De Jager, 2009) is ‘n goeie begin siende dat dit help om die wegtrekrefleks te inhibeer (wat die eerste sintuig is wat ontwikkel bedraad). Herhaal dit minstens 2 keer elke dag:

Antennaversteller

Masseer albei oorskulpe gelyktydig van bo na onder met sirkelbewegings.

Mind Moves Massering

Laat staan die kind regop met albei arms teen ‘n 90˚ hoek langs die liggaam. Staan agter die kind en trek die buitelyn van sy liggaam met ferm hale van kop tot tone na. Hou die voete ‘n oomblik vas. Herhaal drie maal.

Helderwakker

Gooi die arms wyd oop en asem diep en stadig in. Kruis dan die arms oor die bors in ‘n omhelsende gebaar, en asem diep en stadig uit. Die ouer kan die kind terselfdertyd van agter af omhels.

So wat nou van Johan? Daar is hoop vir Johan. Vir elke Johan daar buite. Moenie moed opgee met die Johans in jou lewe omdat hul gedrag nie vir jou sin maak nie. Wanneer jy moedeloos voel omdat daar gate is in jou kind se emmer – gaan terug … vanaf die dak, af met die mure tot op die fondasie. Dis daar waar jy begin en jy hou aan en jy hou uit … totdat Johan soos 3 jaar gelede weer trots is op homself.

Bibliografie:

De Jager, M. 2019. Mind Moves® Kopskuiwe – Weg met Leerblokkasies! Welgemoed: Metz Press.

De Jager, M. 2020. Mind Moves® Wikkel die Brein Wawyd Wakker. Johannesburg: Mind Moves Institute.

De Jager, M. 2019. Breinontwikkeling Mylpale en Leer – BabaGim & Mind Moves Opskerpers. Johannesburg: BabaGym Instituut.

De Jager, M & Victor L. 2013. Speel Leer Slim – ‘n Kind is ‘n mens in wording. Welgemoed: Metz Press.

 

Wikkel die brein wawyd wakker

Login

Lost your password?