Help! Ek verdrink in terapie!

Help! I am drowning in therapy!
September 25, 2023
Mind Moves® for critical thinking and creative problem-solving.
September 25, 2023

Deur Ilda van der Merwe

Ek ys toe ek die woorde lees. Dit is oueraand! Wat wil die juffrou hierdie keer met my bespreek? Lees? Aandagtekort? Dagdromery? Potloodgreep? Miskien hierdie keer die alewige gekou aan die potlood? My lieflingskind is in graad 3 en ek weet sy sukkel. Dalk het die juffrou opgemerk dat haar ogie indwaal wanneer sy moeg is. My moed sak in my skoene. Wat nog? Ons doen reeds soveel terapie. Dit voel asof ons nêrens kom nie…….

Indien die bogenoemde by jou ‘n klokkie lui, is jy in goeie geselskap. Dikwels voel ma’s (en oumas) magteloos en oorweldig wanneer die opdraandstryd van terapie voor hulle lê. Hoekom gebeur dit, en wat staan my te doen in hierdie situasie?

Wanneer ons die woord “terapie” lees, verstaan baie mense dat dit te doene het met die behandeling van siektes. Hierdie uitkyk laat ons dink dat iets soos “Arbeidsterapie” by volwassenes hoort – hulle is tog die ‘arbeidsmag’. Maar kinders het ook werk. Hulle werk is om te speel en te leer  (KidsHealth).

Deur te speel en te beweeg ontwikkel kinders ‘n stewige fondasie in voorbereiding vir skoolwerk. Die brein, sintuie en spiere word spelenderwys neurologies bedraad om effektief te kommunikeer, maar wanneer dele van ‘n kind se bedrading ontbreek, kan juffrou bekommerd wees oor verkeerde potloodgreep, lae spiertonus, aandaggebrek, omkerings ens. en terapie aanbeveel. Terapeute (arbeidsterapeute, neuro-ontwikkelingsielkundiges, spraakterapeute en remediërende terapeute) spesialiseer in die identifisering en oplossing van ontwikkelings- en verbindingsbedrading swakhede (De Jager, 2009).

Ons almal ken die uitdrukking “practise makes perfect”. Om byvoorbeeld netjies op die lyntjies te skryf verg baie oefening en herhaling. Neurowetenskaplik beteken dit dat byvoorbeeld skryf verbindingsbedrading bou. Wanneer ‘n kind oor en oor skryf, word hy al hoe vaardiger daarin. Navorsing toon dat herhaling, miliënien om die bedrading vorm wat soorgelyk is aan die plastiese lagie om die TV se elektrisiese koord. Wanneer die verbindingsbedrading beskerm word deur ‘n lagie miliën daarom (Shenm, 2013) word skryf nou al hoe makliker en vinniger.

Wanneer juffrou dus kla oor jou spruit se skrif, lees, stilsit of taakvoltooiing, verstaan ons dat terapie nodig is om die broodnodige verbindingsbedrading te voltooi en te miliëniseer. Hoe lank gaan die terapie neem? Dit hang af van hoe swak die bedrading is en hoeveel herhaling nodig is om bedrading te voltooi. Ons kan dit nie raai, meet of tel nie. Ons kan ook nie moed verloor of ophou voor die proses klaar is nie, anders gaan die probleem nie weg nie.

Wat staan my te doen? Volstruispolitiek (kop in die sand druk en hoop dit gaan weg) is nie ‘n opsie nie. Terapie neem tyd – en toewyding. Jou kind se ontwikkeling is nie net ‘n kwessie van tyd nie, maar ook ‘n prioriteit, want hoe vroeër ‘n probleem aangespreek word, hoe gouer vedwyn dit en blom jou kind. Soms neem dit een, en soms ‘n span kundiges om saam met jou as ouer te werk om die agterstand(e) aan se spreek.

As jou kind ‘n haakplek het, is dit nie mdat jy ‘n slegte ouer is nie, dit gebeur soms.

STRATEGIEË OM TE OORWEEG

  • Wees lief vir jou kind. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding is deurslaggewend. Gee baie drukkies en aanmoediging.

  • Bly kalm met die Mind Moves® Kragskakelaar (De Jager, 2009). Om jou spruit die beste te ondersteun, is dit belangrik dat jy jou varkies op hok hou. Vryf die holte net onder jou sleutelbeen in lyn met jou linkeroog. Hierdie oefeninge skakel die brein aan en verlig angstigheid vir beter konsentrasie. Vryf nou sommer ook jou man en al jou kinders s’n.

  • Doen Mind Moves Beenstrekke (De Jager, 2009) om van die spanning ontslae te raak. Sit op ‘n stoel en lig een been op van die vloer. Buig die voet terug en hou die posisie vir agt tellings. Punt die tone en hou die posisie vir agt tellings. Ontspan. Herhaal ten minste drie maal. Laat rus die voet en herhaal met die ander voet. Hierdie oefening verminder hiperaktiwiteit en verbeter impulsbeheer.

  • Doen Mind Moves Armstrekke (De Jager, 2009): vleg die hande inmekaar met handpalms na buite gedraai. Strek die arms vorentoe uit en hou die posisie vir agt tellings. Herhaal met die hande bo in die lug. Maak die vingers los en vleg die hande agter die rug. Strek en hou die posisie vir agt tellings. Hierdie oefening stimuleer die spiertonus van die rug, skouers en hande vir beter liggaamshouding, skouerstabiliteit, hand-oog koördinasie, kommunikasie en ontspanning.

  • Bly positief. Let op hoeveel keer per dag jy NEE of MOENIE sê. Navorsing toon dat kinders tot 400 keer per dag die woord “Nee” hoor (Google answers). Kinders word negatief en moedeloos omdat ons vir hulle sê wat om NIE te doen nie, in plaas daarvan om eerder te sê wat hulle MOET doen. p.v. “moenie op die bed spring nie”, eerder “kom bou ‘n legkaart saam met my”.
  • Vestig goeie kommunikasie met jou spruit se juffrou. Spanwerk is die sleutel tot sukses. Kommunikeer situasies en omstandighede tuis om juffrou te help om gedrag by die skool te verstaan.
  • Vier elke sukses. Ook die kleintjies! Dikwels wag ons vir die groot deurbrake en veranderings. Neem video’s of foto’s deurentyd en gaan kyk weer na voriges. Plak ‘n beloningskaart op die yskas en laat jou spruit self die kolletjies daarop plak.
  • Wees geduldig. Rome is nie in een dag gebou nie. Neem een dag op ‘n slag. ‘n Gebreekte been herstel ook nie binne ‘n dag of ‘n week nie.
  • Volg die oefenprogram voorgeskryf deur die terapeute so getrou moontlik. Wees gefokus maar goed vir jouself. Maak gebruik van elke geleentheid.

 

Onthou, leer = speel = leer!

MAAK LEER PRET

In die motor:

Speel “Ek sien met my klein ogie”. Doen optel/aftrek somme met die lamppale in die straat. Terwyl julle in die motor wag vir Sus se klavierles, oefen spelwoorde deur letters met klei-slangetjies te maak. Oefen tafels deur dit te “rap” op pad skool toe.

In die bad:

Was met ‘n growwe sponsie. Druk water uit die spons met elke hand. Smeer room om liggaams-beeld te bevorder. Maak badverf deur skeer-room te meng met ‘n druppel kleursel. Blaas borrels in die water met ‘n strooitjie.

Voor slaaptyd:

Rol jou spruit in ‘n kombers toe. Trek die punt sodat sy uitrol. Druk die laken styf onder die matras in. Laat jou spruit by die voetenent af inkruip tot bo. Lees stories. Woordeskat word aangeleer deur woorde te hoor.

By Ouma:

Haal al die kussings van die banke af en bou ‘n fort. Bak koekies: meng en rol balletjies met die hand. Bou ‘n hindernisbaan en kruip, rol en seil daardeur. Hou Boeresport met ‘n lepel, bal, emmer en hoepel.

In die parkie:

Klim, klouter en gly om balans en spiertonus te bou. Swem dat die water spat! Speel “tennis” en gebruik handdoeke vir rakette. Twee kinders hou ‘n handdoek vas en skiet die bal vir die ander twee.

Voor die TV:

Speel met klei/stresbal om skrif te verbeter. Sit op ‘n gymbal om maagspiere te versterk. Lê vir tye plat op die maag om rug- en nekspiere te versterk.

Met huiswerk:

Plak ‘n papier onder die tafel vas. Lê op die rug en skryf opsommings/spelwoorde onder die tafel. Memoriseer deur sleutelwoorde met “Dry wipe” penne op die venster te skryf.

Speel is pret, en pret aktiveer die voelbrein. Dit is juis die voelbrein wat jou kind help met konsentrasie en geheue (De Jager, 2009). Met genoeg geduld en herhaling word vaardige beweging en beheer moontlik en sukses op skool in jou kind se bereik.

Om te speel, is ʼn prettige manier om te leer sonder die druk om te presteer. Dr Melodie de Jager

Bibliografie:

De Jager, M. 2009. Mind Moves – wikkel die brein wawydwakker. Johannesburg: Mind Moves Institute

Dictionary.com. Beskikbaar op die Internet by  http://dictionary.reference.com/browse/positive-reinforcement . Verkry op 27 Januarie 2016

Google answers. 2005.  Beskikbaar op die Internet by:  http://answers.google.com/answers/threadview?id=516517 Verkry op 27 Januarie 2016

KidsHealth, 1995. Beskikbaar op die Internet by: http://kidshealth.org/parent/system/ill/occupational_therapy.html   Verkry op 27 Januarie 2016

Shen, Jason. 2013. Why practise actually makes perfect: How to rewire your brain for better performance. Beskikbaar op die Internet by: https://blog.bufferapp.com/why-practice-actually-makes-perfect-how-to-rewire-your-brain-for-better-performance Verkry op 27 Januarie 2016

Login

Lost your password?