
By Rika Grové & Rhyna Thiel.
Pieter tel die slapies al lank voor die vakansie seisoen aanbreek. Mamma wonder desperaat “Wat op aarde gaan hom die hele lang Desember vakansie besig hou?” Gewoonlik wil Mamma ook graag net ontspan, maar kinders daarteenoor, wil aanmekaar vermaak word.
Definisies van PRET uit verskillende perspektiewe
Oxford Woordeboek: genot, vermaak of lighartige plesier
Pieter se Woordeboek: onvergeetlike tye saam met ma en pa, terwyl ons goeters doen wat my gelukkig maak
Ma se Woordeboek: ‘n genotvolle afleiding, wat die gees en liggaam wegvat van enige ernstige take.
Ons geskenk aan jou is ….
‘n Geskenkpakkie vol slim speelplanne vir hope vakansiepret, wat gewaarborg is om aan al drie definisies van pret te voldoen. Die grootste voordele is:
-
Kosbare tyd saam met jou gesin en die genot om jou kind se herinneringsemmer te vul met hope positiewe ervarings.
-
Jou kind kry die gawe van ontwikkeling, want elkeen van hierdie aktiwiteite speel ‘n belangrike rol in kinderontwikkeling.
-
Dis boonop ekonomies want jy kan hope pret hê sonder om te veel geld uit te gee.
Hoe om jou geskenkpakkie vol pretplanne te gebruik:
Skryf al die aktiwiteite van 1-29 op strokies papier en bêre dit in jou geskenkpakkie. Telkens wanneer Pieter vra “Wat kan ek doen, Mamma”, is jy gereed met ‘n idee uit jou Speelplan Geskenkpakkie.
- Drama: Kinders is baie lief daarvoor om konsert te hou. Sluit ‘n dans in, of poësie, ‘n opvoering, of ‘n musiekstuk. Maak seker daar is ‘n waarderende gehoor.

- Blinddoek jou kind en daag hulle uit om na jou of enigiets anders te soek.

- Drukkies – deel baie drukkies uit en maak ‘n punt daarvan om jou kind vir ten minste 20 sekondes styf vas te hou.

- Dans saam met jou kind, sommer net daar waar jy is. Tel hulle op, gooi ‘n vrolike tiekiedraai. Die intensiteit van hierdie ondervinding sal hul by bly lank na die musiek ge-eindig het.

- Ontdek die wonderwêreld van wetenskap met eenvoudige eksperimente waarmee jou kind kan help. Drup byvoorbeeld drie druppels van verskillende voedselkleursels in ‘n bakkie melk. Week ‘n oorpluisie in skottlegoedseep en druk dit liggies in die middel van die druppels voedselkleursels. Die kleurespel van die dansende patrone is fassinerend.

- Goedkoop en maklike vingerverf:
3 koppies water
1 koppie Maizena
Voedselkleursel
Gliserien
Kook die water in ‘n medium pot op die stoof. Meng die Maizena met water in ‘n aparte bakkie. Meng die Maizena mengsel by en roer tot dik en deurskynend. Verwyder van hitte en verdeel die mengsel in verskillende bakkies. Kleur met verskillende voedselkleursels. Voeg een eetlepel gliserien by vir pragtige glansverf.
- Fantasie is fantasties! Laat jou kind toe om jou ou klere en skoene aan te trek. Dit sal hulle ure besig hou. In die Kersseisoen, kan hulle selfs aantrek soos die mense van ouds.

- Maak ‘n slag tuin saam met jou kind. Dis ‘n gawe wat mens nalaat om vir jou kind te leer hoe ‘n lewende organisme groei en in die groeI tydperk verander.

- Speel ‘n springspeletjie. “Hopschotch” is ‘n tydlose spel wat sommer terselfdertyd fisiese ontwikkeling aanhelp.

- Speel “I spy…” een persoon sien iets raak en gee die ander leidrade om te raai wat hy sien. Gee leidrade in verhouding met die kind se ouderdom. Hierdie speletjie werk baie goed wanneer mens op reis is met die kinders.

- Spring tou. Om tou te kan spring is moeilik, maar dit is ‘n noodsaaklike deel van skoolgereedheid. Oefen eers met ‘n hoepel voordat jy oorskakel na ‘n springtou.

- Klop, klop, wie’s daar? Kinders hou van rympies en raaisels, grappies en stories. Hierdie vrolike speletjies brei die woordeskat uit en koester ‘n gevoel van waarde.

- Liefde en lag. Wys jou kind hoe lief jy hom het en lag gereeld saam.

- Bak en brou. Hierdie is ‘n heerlike, maar morsige tydverdryf, maar onthou, dis vakansie! Jou kind sal nie gou vergeet hoe julle saam-saam deeg uitgerol het vir Kerskoekies nie. Onthou, daar is ook die verskuilde waarde van wiskunde in hierdie tydverdryf… meet, meng, tyd en volume.

- Een minuut om te wen. Veral vir die kompeterende kinders is hierdie speletjie baie lekker. Speel saam, of speel sommer teen tyd. Kyk byvoorbeeld hoeveel wasgoedpennetjies op ‘n tou, of rondom ’n roomysbak na ‘n ander tou of roomysbak met een hand verskuif kan word, een pennetjie op ‘n slag.

- Stoeledans – Pret vir die hele gesin. Plaas een stoel per gesinslid in ‘n sirkel en speel musiek. Neem een stoel weg en stop die musiek. Elkeen moet vinnig ‘n stoel kry en die een sonder ‘n stoel, word uitgeskakel. Speel totdat daar net een stoel oor is. Die eerste een wat sit, is die wenner.

- Name, vanne, diere, dorpe… Roep ‘n letter van die alfabet uit en kyk wie kan eerste opkom met ‘n naam, ‘n plek, ‘n dier, of ’n vrug vir daardie letter. Hou die speletjie ouderdomsgepas.

- Skep ‘n binnenshuise hindernisbaan met meubels en gee jou kind ‘n taak om te verrig.

- Kussing-geveg, speelklei, legkaarte en tuisgemaakte pizzas.

- Raai, raai, riepa. Bêre voorwerpe onder ‘n lap en raai wat is onder die lap sonder om te loer.

- Rots, papier en skêr speletjie.

- Gebruik speelkaarte om jou kind allerhande nuwe begrippe te leer.

- Sit in ‘n sirkel en fluister ‘n woord of kort sinnetjie in die persoon langs jou se oor. Herhaal wat jy gehoor het.

- Onder die sterre: Lê bietjie een aand buite op die gras met jou gesin en kyk wie kan eerste ‘n sateliet of verskietende ster raaksien.

- Maak ‘n renbaan. Gebruik maskeerband om ‘n renbaan op die mat te maak. Sluit ‘n paar krulle en draaie in en daag jou kind uit om die renbaan so vinnig as moontlik met sy gunsteling karretjie te voltooi.

- Waterpret bied baie leergeleenthede en uitdagings. Vul ‘n emmer met water en gee jou kind ‘n verskeidenheid houertjies. Ontdek watter van dit sink en watter dryf, terwyl hulle speel-speel leer.

- Steel ‘n soentjie en wys jou kind hoe lief jy hom het.

- Hoekom, hoekom, hoekom….. Moedig jou kind aan om vrae te vra, bv. Hoekom is die stuurwiel rond?

- .. wat is die slaap, ‘n soete ding? Verseker dat jou kind genoeg slaap inkry, selfs al is dit vakansietyd!

Die mees belangrikste tydverdryf hierdie feesseisoen is om mekaar lief te hê.
‘n Kind spel liefde as T-Y-D.
Geniet die samesyn van ‘n gesin en wees saam kreatief met die gebruik van items in die huis of tuin.