leesGEREEDMAKINGSprogram

Voorvaardighede vir Spel en Lees
May 20, 2021

Deur Dr Melodie de Jager.

Hierdie is ‘n leesGEREEDMAKINGSprogram met ‘n verskil. Aangesien ons by die Mind Moves Instituut na lees deur die oë van ‘n neurowetenskaplike kyk, is die uitgangspunt anders as in meeste leesprogramme. Navorsing leer ons dat sistematiese ontwikkeling oor ‘n tydperk van uiterste belang vir die kind en die brein is. Soos dit die natuur se doel is, moet ‘n kind volledig ontwikkel voordat die oë en die brein gereed is om die simbole van taal (abc) te herken, en uiteindelik met begrip te kan lees.

Lees begin, ongeag die ouderdom van ‘n kind, met die ontwikkeling van die fisiese liggaam. ‘n Kind se liggaam is die spil waarom sy ervaring van ruimte, rigting, vorm, orde en tyd, sowel as ritme, draai. Hierdie is noodsaaklike vaardighede vir die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede sowel as die ontwikkeling van taal. As die brein en die liggaam nie gereed is nie, is die vermoë om te leer lees soveel moeiliker ongeag hoe goed die konsep en struktuur van ‘n leesprogram ookal mag wees.

Dit in ag genome, rus die Mind Moves LeesGEREEDMAKINGSprogram op die volgende drie pilare:

  • gestruktureerde, multi-sensoriese spel om die brein en liggaam in die konteks van interaksie, liedjies, stories en rympies te ontwikkel. Dit stimuleer die ouditiewe deel van taal as die voorloper vir die visuele deel van taal (abc).
  • ‘n verhouding met ‘n omgee volwassene (ouer of onderwyser) wat, deur hulle voorbeeld en interaksie, die kind se wêreld ontsluit en betekenis daaraan gee .
  • om ‘n liefde vir lees te kweek deur saam stories te vertel en boeke te lees. Wanneer ‘n volwassene self vir plesier lees stel dit ʼn goeie voorbeeld en laat ‘n onuitwisbare indruk op kinders. 

Lees gebeur nie natuurlik nie…

Lees is die bymekaarkom van ‘n reeks vaardighede wat geleer moet word: fonemiese bewustheid, woordherkenning, woordeskat, vlotheid en begrip. Hierdie vaardighede word meer suksesvol bemeester as ‘n kind se lyf fisies goed ontwikkel is.

Fisiese ontwikkeling

Fisiese ontwikkeling verwys na die sensories-motoriese sisteem, wat ook die perifere senuweestelsel genoem word. Neurowetenskap leer ons dat die sentrale senuweestelsel (die brein en ruggraat) van die perifere senuweestelsel (sensories-motoriese sisteem) afhanklik is vir breinontwikkeling. Dit beteken die sintuie en spiere moet onder die beheer van die brein wees voordat vaardighede van ‘n hoër-orde soos skryf, lees en redenering moontlik raak.

Fisiese ontwikkeling word met die volgende groot motoriese vaardighede geassosieer: liggaamsbewustheid om ‘n kaart van die liggaam in die brein te skep, lateraliteit, middellynkruising, spiertonus, ruimtelike oriëntasie, ritme en koördinasie, rigting en volgorde. Fynmotoriese vaardighede bou op die stabiele en vaste grootmotoriese vaardighede en bewerkstellig duidelike uitspraak, vaardige vingers en tone, en gekontroleerde oogbewegings. Emosionele ontwikkeling, konsentrasie en selfvertroue is alles natuurlike gevolge van fisiese ontwikkeling.

Taalontwikkeling

Navorsing by die MInd Moves Instituut dui daarop dat daar by jong kinders ‘n toename in visueel-perseptuele vaardighede is, maar ‘n afname in hulle ouditiewe perseptuele vaardighede. Letters verteenwoordig klank. Derhalwe moet die oor en al die ouditiewe perseptuele vaardighede ontwikkel wees voordat die visuele simbole vir die klanke van taal (letters) sal sinmaak.

Omdat taal vir die jong kind hoofsaaklik die aanhoor en die voortbring van klank is, is ouditiewe ontwikkeling van kritieke belang. Ouditiewe geheue, volgorde, diskriminasie, analise, sintese, voorgrond/agtergrond persepsie en sluiting, is alles ouditief-perseptuele vaardighede wat ontwikkel moet word voordat woordeskat, grammatika en uitspraak ouderdomsgepas kan wees.

Taal is ‘n sosiale instrument en daarom is die ontwikkeling van taal ‘n belangrike voorloper vir die vermoë om te leer lees. Praat, liedjies, rympies en stories oor onderwerpe binne die kind se eie ervaringswêreld, is effektiewe maniere om taal te ontwikkel. Interaktiewe spel is nog ‘n manier van taalontwikkeling, want wie speel met ander sonder om te praat?

Temas en tema-tafels gevul met konkrete voorwerpe wat op die kind se ervaringswêreld van toepassing is, is belangrik in voorskole. Die woordeskat wat nodig is om voorwerpe te beskryf en te benoem (om die omgewing te lees) gaan die herkenning van voorwerpe in prente vooraf (om ‘n prent te lees) en dit gaan die herkenning van letters en getalle (die lees van simbole) ‘n hele paar jaar vooraf.

Die lees van prente en simbole

Enige iemand kan leer lees as hulle eers die fisiese liggaam en Graad een taal (luister en praat) bemeester het, en vaardig is om idees in ‘n prent op papier of selfs  in sand weer te gee. Die vermoë om idees in simboliese vorm weer te gee (abc), volg meer geredelik op ‘n verskeidenheid kreatiewe aktiwiteite wat ‘n kind in staat stel om sy idees in prentvorm weer te gee. Kreatiewe aktiwiteite is ‘n vroeë vorm van skryf. Dit is die spieël van gedagtes in simboliese vorm. Dit is ‘n moeilike en moeisame taak wat ‘n kind ongeveer drie jaar neem om te bemeester en tussen die ouderdomme van drie en ses jaar op ‘n natuurlike manier gebeur. Die oorgang van prente-lees na simbole-lees gebeur meer spontaan na jare van gestruktureerde kreatiewe aktiwiteite. Elke keer wat ‘n jong kind die prent wat hy geteken of geverf het, geknip en geplak of gemaak het, vir iemand ‘lees’, vorder hy van prente-lees na simbole-lees.

Die vermoë om visuele simbole te kan lees, vereis ‘n goed ontwikkelde oog wat neuro-fisiologies gereed is. Navorsing wys die oog is eers rondom ‘n kind se sewende verjaarsdag gereed vir lees! Formele lees op ‘n vroeër ouderdom is nie neuro-fisiologies wenslik nie. Insidentele lees soos byvoorbeeld die herkenning van handelsmerke, gebeur spontaan sonder enige druk en is daarom wenslik veral as dit gepaard gaan met die wonder van daaglikse luister na ‘n storie. Net soos wat ‘n avokadopeer nie rypgedruk kan word nie, kan jy nie ‘n begeerte om te lees aanwakker deur druk uit te oefen nie. Druk versnel nie die leerproses nie, maar mag eerder die kind en sy ontluikende liefde vir leer en lees, kneus. ‘n Omgewing gevul met boeke, met ‘n omgee volwassene as storieverteller en leser, is onmisbaar vir die voorbereiding van die kind om ‘n suksesvolle leser te word.

Gereedmaking vir lees

Speel is die mees natuurlike manier van leer. Ongelukkig is daar ‘n algemene gevoel dat die voorbereiding om ‘n kind te leer lees (of die gebruik van ‘n leesGEREEDmakingsprogram) ‘n mors van tyd is, veral as dit lyk of daar gespeel word. Hierdie idee belemmer ‘n jong kind se ontwikkeling, en belemmer ook die ontwikkeling van ‘n kind wat sukkel om te lees. Speel = leer.

Die Mind Moves Instituut se benadering tot leesGEREEDHEID:

  • respekteer die kind se aard
  • gebruik neurowetenskaplike rigtingwysers as uitgangspunt
  • neem die beginsel in ag dat wat dit natuurlik is, ontvou sistematies, en netso ontvou ‘n kind ook op ‘n sistematiese wyse.

Aangesien druk eerder kneus as ontwikkel, moedig ons die volgende benadering vir ouers as die omgee volwassenes en onderwysers as die kundige versorgers aan:

  • Graad RR – R: beweeg en luister om te kan leer lees
  • Graad 1 – 3: leer lees
  • Graad 4 en ouer: lees om te leer.

Lees is die vermoë om na klanke op papier of ‘n skerm te luister. Daarteenoor is skryf die vermoë om op papier of ‘n skerm te praat.

Trapklippe tot leesGEREEDHEID

Navorsing* by die Mind Moves Instituut en die Prognosis Instituut in Rusland het ons laat besef dat kinders sukkel om te lees, as hulle nie eers geleer het hoe om die klanke in verhouding tot hulle eie liggaam, in woorde voor te stel  nie. Propriosepsie en beweging dra by tot ‘n bewussyn van gravitasiesekuriteit, met die kind se liggaam wat as uitgangspunt gebruik  word (huidige bestemming). Die vestibulêre sisteem voeg ‘n bewussyn van oriëntasie in ruimte (die kaart) hierby, sowel as rigting en ‘n bewussyn van volgorde, om die volgende vaardighede te ontwikkel:

  • ‘n kaart van die liggaam in die brein
  • lateraliteit
  • middellynkruising
  • spiertonus
  • ruimtelike oriëntasie
  • koördinasie en ritme
  • rigting en volgorde
  • ouditiewe en visuele persepsie
  • woordeskat en taal.

Bogenoemde vaardighede is soos trapklippe en ‘n onlosmaaklike deel van gereedheid om te leer lees.

*Lees meer hieroor in GRAVITY a missing link in child development, De Jager, Efimov & Efimova. 2020.

Soos wat kreatiewe kuns die lees van ‘n kind se prent voorafgaan, so kom skryf voor lees.

Mind Moves se leesGEREEDMAKINGSprogram

Die beginsels waarop die Mind Moves se LeesGEREEDMAKINGSprogram gebaseer is, word hierbo uiteengesit. Onthou: Hierdie is nie ‘n leesprogram nie. Dit is ‘n program wat sistematies, oor ‘n tydperk van 30 lesse, die nodige perseptueel-motoriese vaardighede vir lees ontwikkel deur op vestibulêre en ouditiewe ontwikkeling te fokus. Hierdie program kan voor enige leesprogram of leesreeks gebruik word.

Die program is ontwerp om kinders voor te berei en gereed te wees om met selfvertroue van Graad R na Graad 1 oor te gaan. Die program kan met net soveel sukses vir Graad 1 en ouer leerders wie se basiese vaardighede nog nie na wense vasgelê is nie, gebruik word.

Die Mind Moves LeesGEREEDMAKINGSprogram is ontwikkel om die onderwyser in staat te stel om die kinders se vlak van ontwikkeling in aanmerking te neem en die program daarvolgens aan te pas. Die eerste deel van elk van die 30 lesse hanteer die ontwikkeling van taal en vaardighede. Daarna gaan die les spontaan oor vanaf klank (ouditief) na simbole (visueel). Indien die nodige voorafvaardighede nog nie vasgelê is nie en nog hulp nodig is, sal die tweede deel van die les oneffektief en onvanpas wees. Die tweede deel van die lesse is daarop gerig om ‘n spesifieke letter in ‘n spesifieke woord te leer skryf. Hierdie woord sal deel wees van die woordeskat wat in deel een van die multi-sensoriese en bewegingsgebaseerde les ontwikkel is.

Besprekings rondom temas sowel as rympies en liedjies word gebruik om ‘n ouditiewe konteks vir elke les te verskaf. Groepwerk word aangemoedig om die nodige woordeskat te ontwikkel sodat die lettersimbole deur spel  aangeleer, en verder deur skryf ontwikkel word.

Hierdie leesGEREEDMAKINGSprogram word as e-leer aangebied en bestaan uit die volgende:

  • ‘n reeks opleidingsvideo’s vir die onderwyser om aanlyn te volg en aantekeninge te maak
  • ‘n paar kort assesserings wat voltooi moet word met ‘n minimum van 80% om ‘n sertifikaat van voltooiing te ontvang sowel as 15 SACE-punte te verdien
  • ‘n volledige handleiding met 30 lesse vir die onderwyser
  • ‘n reeks van 39 A4- en A3-plakkate vir die gebruik van die onderwyser
  • ‘n verskeidenheid klankgrepe vir ouditiewe ontwikkeling
  • ‘n leerder-werkboek met oefenbladsye
  • prettige rooi kolle om die beginpunt vir elke letter aan te dui.

Elkeen van die leerders se oefenbladsye (drie per letter), word voorsien sodat die onderwyser of ouer kan besluit waarvoor die leerder gereed is. Die eerste bladsy is beskikbaar vir Graad R en die ander twee bladsye vir Graad 1. Ouer kinders wat sukkel met die vaslegging van letters sal ook by die program baatvind. Om kinders aan te moedig om die prettige rooi kolle op die beginpunt van elke letter te plaas, is ‘n belangrike stap in die aanleer van die korrekte vorming en rigting van die letters.

Elkeen van die speletjies en aktiwiteite kan herhaal word aangesien perseptuele vaardighede mettertyd ontwikkel. Daarom is gereelde herhaling van ‘n les noodsaaklik om die vaardighede vas te lê.

Mind Moves’ LeesGEREEDMAKINGSprogram is geskryf in ooreenstemming met die KABV.

Mind Moves’ LeesGEREEDMAKINGSprogram lei die onderwyser, ouer en leerder tot by die vlak net voor formele leesonderrig kan plaasvind. Die onderwyser kan dan ‘n gepaste leesprogram of leesreeks gebruik vir die leerders wat gereed is daarvoor.

Kom ons begin die nodige vooraf-leesvaardighede sistematies ontwikkel!