Veronica Fourie
Senior Mind Moves Fasiliteerder van Jeffreysbaai
Daar word dikwels kommer uitgespreek oor bejaardes wat doelloos sit in ouetehuise en ander versorgingsplekke. Dit is egter nie orals so nie en baie plekke doen moeite met opbeurende programme en om beweging aan te wakker.
Senior Mind Moves (SMM) opgeleide fasiliteerders kan ‘n groot verskil maak by sulke plekke om verpleegpersoneel se hande te versterk. Dit sou ideaal wees indien elke fasiliteit vir ouer persone die kundigheid van SMM kan benut. Dit kan veral van waarde wees as ‘n personeellid in SMM opgelei word om daagliks ‘n verskil te maak vir jeugdige veroudering.
Ek besoek self weekliks ‘n paar ouer persone by ‘n aftreeoord in Jeffreysbaai. Die verskil wat dit in hulle lewens maak, is kosbaar. Hulle besef dat hulle nog beweeg, en selfs verbeter in baie opsigte.
Dit is die geval met ‘n vrou wat met ‘n loopraam loop. Sy het so krom geloop daarmee dat haar neus amper op die grond was! Daarby het sy sleepvoet geloop. Na ‘n paar sessies om haar te leer om hak-toon te loop, om haar postuur te verbeter deur middel van strekke en ook te verbeel dat ‘n stringetjie pêrels haar regop hou, loop sy nou tog te mooi met die loopraam.
Dit is dinge waarvoor verpleegpersoneel meestal nie tyd het nie.
Nog ‘n sukses met SMM by die ouetehuis, was toe ‘n vrou een nag so koud gekry het, dat sy selfs gedink het sy is dood. My woorde wanneer ek vertrek na ‘n sessie is altyd: “Hou aan beweeg!”.
Sy vertel my toe dat my woorde in haar kop opgekom het. Sy het stadig haar voete begin beweeg, bene gestrek, nek gedraai, hande gestrek en ontspan en kon uiteindelik op die rand van die bed sit en diep asemhalings doen.
Sy vertel sy het spontaan begin wieg en haarself ‘n drukkie gegee (Helderwakker). Hierna kon sy omdraai in haar bed op die linker-sy en rustig slaap.
‘n Senior Mind Moves fasiliteerder kan ook op gereelde basis ouer persone aanmoedig, en verduidelik hoekom hulle gereeld water moet drink. Hulle is dikwels sku om genoeg water in te neem weens die gevolglike moeite wat dit meebring om gereeld toilet toe te gaan.
Die brein bestaan uit 75% water, bloed bevat 83% water, bene 22% en spiere sowaar 75%. Genoeg water voorkom dehidrasie (ontwatering) en geheueverlies, help met die opneem van voedingstowwe en het vele ander voordele. Deur die versterking van die ‘opstaanspiere’ sal die besoek aan die toilet ook minder moeite wees.
As SMM fasiliteerders kan ons ‘n groot bydrae maak in instellings vir ouer persone om hulle deel te maak van ‘n aktiewe verouderingsprogram. Almal is nie ewe beweeglik nie, maar SMM gee die geleentheid vir elkeen om volgens sy eie vermoë te vorder. Dit verbeter ongetwyfeld die kwaliteit van lewe en lig die gemoed. In ‘n tuiste is ouer persone dikwels onaktief en meer stagnant aangesien hulle meer sit of op die bed lê, as wat hulle sosiaal aktief is en aan aktiwiteite deelneem.
‘n Sweedse studie toon dat daaglikse fisiese aktiwiteite van groot waarde is vir ouer persone:
SMM fasiliteerders speel ‘n belangrike rol in die motivering om ouer persone aan die beweeg te kry en te hou.
SMM is op die gesonde werking van die brein ingestel. SMM se fokus is om deur middel van spesifieke bewegings die bedrading tussen die sintuie, spiere en brein gesond te hou. Die stigter van die Mind Moves Instituut, Dr. Melodie de Jager, sê dat bewegings bestaan uit eenvoudige en veilige bewegings wat reflekse aanhits om die brein helder, die hande vaardig en die voete vas op die aarde te hou.
Fasiliteerders kan ouer persone se lewenskwaliteit verbeter, deur hulle te laat voel hulle kan nog beweeg volgens eie vermoë, al is dit in ‘n rolstoel, op die bed, met ‘n loopraam, of op ‘n stoel. Die samehorigheid in ‘n groep, of selfs die individuele aandag, laat elkeen voel dat hy/sy belangrik is en saak maak. Almal wil tog van geweet wees!
Dit is vir familie, die personeel van ‘n tuiste, die fasiliteerder en die ouer persoon so bevredigend om te sien dat die verouderingsproses vertraag word, of dat daar selfs verbetering is.
Dit is ‘n wetenskaplike feit dat ons musiekgeheue nooit vergaan nie. Al is ‘n bejaarde hoe verswak, sal daar gewoonlik ‘n reaksie in die oë, of by die voete en hande wees as bekende musiek uit hulle jonger jare gehoor word.
As fasiliteerders kan ons ‘n dubbel slag slaan as ons Senior Mind Moves bewegings op maat musiek doen. Dit lig die gemoed sommer dadelik en verskaf oneindige plesier.
In haar boek ‘Oudword is nie oudwees nie’, sê SMM ambassadeur Celeste van der Walt: “Wanneer ons op die ritme van musiek beweeg, neem blymoedigheid en jeugdigheid oor en word ons nog meer bevoordeel.”
Die Senior Mond Moves bewegings moet nie die plek van fisioterapie of ander terapie vervang nie, maar dit eerder komplimenteer.
As elke tuiste vir ouer persone ‘n opgeleide persoon in Senior Mind Moves het, sal dit ‘n reuse verskil maak aan almal se daaglikse lewenskwaliteit.