Die invloed van daaglikse beweging, nie oefening, op die brein

Beweging is gratis medisyne met geen newe-effekte
November 2, 2023
Senior Mind Moves Fasiliteerders is Goud Werd in Tehuise vir Ouer Persone
February 8, 2024

Mari Bezuidenhout

Die brein word doeltreffend deur die skedelbeen beskerm, maar as gevolg daarvan is die brein van die sintuie afhanklik om inligting te bekom. Inligting kom vanuit twee plekke: die liggaam en die omgewing.

Beweging hou die sintuie skerp omdat hul heeltyd moet aanpas by verandering en voorsien sodoende aan die brein meer inligting. Soos ons ouer word kan ons sintuie een vir een verswak in die teenoorgestelde volgorde as wat hul gevorm het.

Sintuie ontwikkel in die volgende volgorde:

  • Tas – Propriosepsie en vel
  • Balans – Vestibulêre Stelsel
  • Reuk en smaak – Neus en Mond
  • Luister – Ore
  • Sig – Oë

 

Sig is die laaste sintuig om te ontwikkel, maar die eerste sintuig om agteruit te gaan weens verskeie redes, maar ook indien ons nie genoegsaam beweeg nie. Hoe swakker die sintuie, hoe minder stimulasie kry ons breine en hoe kleiner word ons wêreld. Wanneer ons sintuie minder op en wakker is maak dit dat ’n mens onseker, weerloos en buite beheer voel. Natuurlike bewegings soos Mind Moves, fokus spesifiek op eenvoudige aksies wat verswakking van sintuie en spiere vertraag.

 

Beweging hou ons sintuie en spiere soepel

Wanneer ons ons sintuie stimuleer en ons spiere soepel hou deur so gereeld as moontlik te beweeg, voel ons meer in beheer van onsself. Wanneer ons fisies meer in beheer van onsself voel, word goedvoelhormone afgeskei wat ons geheue, energievlakke en immuniteit ʼn hupstoot gee. Met ’n wakker geheue, verbeterde energievlakke en gesonde immuniteit, word die logiese en kreatiewe funksies van die brein aangewakker. Ons kan uit ons oorlewingsbrein, wat immer gereed is om te veg of te vlug, beweeg na ons dinkbrein wat ons redelik, logies en kreatief toerus met probleemoplossings vaardighede.

Beweging hou ook ons emosies soepel

Die emosionele brein (Limbiese Stelsel) verbind ons oorlewings- en dinkbreine en ontwikkel deur aanraking en kontak met ander mense. Emosies is die gom waarmee inligting in die geheue vasgeplak word. ’n Negatiewe omgewing, negatiewe denke of ’n gebrek aan aanraking en stimulerende interaksie met ‘n verskeidenheid mense, takel die emosionele brein af en het ’n negatiewe impak op die geheue, motivering, sosialisering en algehele welstand.

Die emosionele brein speel ook ’n rol in energievlakke omdat emosie die dryfkrag is wat gedrag inisieer, volhou en stuur. ’n Gebrek aan positiewe emosies beroof mense van die innerlike dryfkrag om hulself te motiveer. Hulle verloor gevolglik maklik belangstelling en gooi makliker tou op. Sulke mense benodig gedurig aanmoediging van buite, wat uitputtend is vir diegene om hulle.

Die emosionele brein is ook verder betrokke om te bepaal wat vir jou waar en waardevol is – die mense en dinge waarvoor jy omgee. Gedrag word deur emosie, eerder as logika bepaal. Emosies is chemiese reaksies, en dus het ’n mens se emosionele toestand ’n groot uitwerking op jou gesondheid. Positiewe emosies bevorder die afskeiding van goedvoelhormone wat beide jou energievlakke en jou immuniteit ’n hupstoot gee. Ons emosionele of voelbrein oorheers tot ’n groot mate ons lewens en beïnvloed dikwels jou lewenskwaliteit , jou gemoedstoestand en jou gesondheid.

Dit bring ons tot by die denkende brein – dit vervang nie die oorlewings- en emosionele breine nie, maar vul hulle aan terwyl hul ten volle funksioneel bly. Die dinkbrein poog om betekenis te gee – reg of verkeerd. Die denkende brein kan altyd aanhou ontwikkel, dis nooit te laat nie! Dit mag jou net langer neem hoe ouer mens word. Die strewe is om ’n geïntegreerde denkende brein te hê – sodat mens se gedrag rasioneel, objektief, logies, simpatiek, sistematies, aanpasbaar, kreatief en verantwoordelik is.

Die verbasende voordeel van beweging op die brein

Dinge raak nog meer interessant wanneer ‘n mens ritmies saam met ander mense beweeg.  Beweging op jou eie kan jou beter / meer positief laat voel, maar as jy saam met ander beweeg kan dit die positiewe effek verdubbel asook jou selfvertoue ʼn hupstoot gee.

Die sielkundige Joanne Lumsden het ’n studie gedoen oor die interaksie tussen mense via ’n video skakel: een persoon het ’n eenvoudige beweging – byvoorbeeld armbuigings – gedoen terwyl deelnemers gekyk het en dan daarna dieselfde beweging moes doen. Deelnemers was onder die indruk dat dit ’n lewendige sessie was en dat interaksie tussen hulle en die persoon wat die oefening gedemonstreer het, plaasvind. Die demonstrasie was egter vooraf opgeneem. Sommige deelnemers moes hul bewegings met die video koördineer, terwyl ander hul bewegings doelbewus nie moes koördineer nie. Almal moes ’n verslag invul voor en na elke fase. Hulle moes ook terug rapporteer in hoe ’n mate hulle ’n band gevorm het met die persoon wat die demonstrasie gedoen het.

Die resultate was interessant: Diegene wat doelbewus hul bewegings met die instrukteur se bewegings gesinkroniseer het, het ’n hoër mate van selfvertroue gehad as dié wat die bewegings ongesinkroniseerd gedoen het. Vorige studies het boonop gewys dat, indien mens jou bewegings in ritme (sinkronisasie) met ander mense doen, ’n mens meer geneig is om saam met hulle te wil werk en om hulle goedgesind te wees. Daar is ook gewys dat gesinkroniseerde beweging met ander dit makliker maak om te onthou wat iemand sê en om te onthou hoe daardie persoon lyk.

Met al hierdie in ag geneem, kan ons dus sê dat beweging die volgende spesifieke voordele inhou:

  1. Hou ons jonger as ons kronologiese ouderdom. Beweging maak dat ons dieper asemhaal en meer suurstof inneem. Meer suurstof na ons selle beteken gesonder selle en langer sellewe. Hoe langer ons selle leef, hoe langer kan ons leef! Dit kan selfs die groei van nuwe breinselle in ouer individue stimuleer.
  2. Gesonder vel en organe. Met beweging verhoog ons ons suurstofinname en ook ons sirkulasie. Dit beteken bloed, limf en intrasellulêre vloeistowwe beweeg meer effektief deur die liggaam. Meer suurstof en voeding bereik ons selle en gifstowwe word meer effektief verwyder.
  3. Minder asma / asemhalings probleme. Beweging lei tot dieper asemhaling, wat weer die longe se kapasiteit en stukrag verbeter.
  4. Bevorder immuniteit en verminder infeksies. Die immuniteitselle werk vinniger en meer effektief as ons gereeld beweeg. Die invloed is nie net fisies nie. Beweging skei ‘goedvoel’ hormone af, wat ons selfvertroue ’n hupstoot gee, en op sy beurt ons immuniteit bevorder.
  5. Is goed vir die spysvertering en voorkom hardlywigheid. 70% van ons immuniteit is gesetel in ons spysverteringstelsel. ’n Kolon wat goed funksioneer, tesame met gesonde eetgewoontes, lei tot gebalanseerde bloedsuiker, gesonder cholesterolvlakke en beter hormonale balans. Dit maak mens dus ook minder vatbaar vir hormoongedrewe kankers van die kolon, bors en prostaat.
  6. Help om inflammasie in toom te hou. Kroniese inflammasie in die liggaam is die voorganger vir kroniese leefstyl siektes. Verminder inflammasie en dan verminder siektes soos hartaanvalle en beroertes.
  7. Verlaag stresvlakke. Beweging kan ons kalmer en meer gefokus maak. Dit stel boonop goedvoel hormone vry wat ons ’n selfvertroue hupstoot gee en tot minder angstigheid en frustrasie lei.
  8. Beter slaap – minder stres en angs lei tot beter slaap. As jy boonop vars lug en natuurlike lug inkry terwyl jy beweeg, is dit ’n verdere hupstoot vir beter slaap.
  9. Verhoed been degenerasie en verbeter beendigtheid. Beweging hou die skelet gesond deur die vorming van nuwe beenselle aan te moedig. Dit verhoed en verbeter so osteoporose.
  10. Sterker spiere, meer soepelheid. Sterk en soepel spiere is die sleutel tot onafhanklikheid. Skouers, arms en hande moet sterk en soepel bly om gemaklik te kan opstaan, om knope vas te maak, te skryf, eet ens.
  11. Verbeterde liggaamshouding en balans. Beweging hou spiere, ligamente, gewrigte, tendons (senings) sterk en soepel. Dit help met ’n regop liggaamshouding en met balans en gemak van beweging. Met beter balans het ons minder kans om te val!
  12. Stimuleer die sintuie en hou sodoende die brein fiks.
  13. Verbeter jou gemoedstoestand, konsentrasie en geheue.
  14. Verhoog aantrekkingskrag en ’n gevoel van samehorigheid. Nie net laat beweging ons goed voel en goed lyk nie, maar dit maak ons meer aantreklik vir ander in liggaam, siel en gees. Wanneer ons saam met ander beweeg (bv. gaan stap saam met ander of Mind Moves in ’n groep doen) skep dit ’n band en kameraderie. Dit laat ons lekker voel en gee ons ’n positiewe selfbeeld en versterk ons gemoed en denke.
  15. Pret! Beweging is ’n manier om pret in jou lewe in te bring. Pret en genot sit jou in ’n positiewe gemoedstoestand, wat oorloop tot ’n positiewe lewensuitkyk. Dit lei weer tot meer selfvertroue en help om skugterheid te oorkom.

Algemene wanopvattings – met al die bewyse dat daaglikse beweging soveel voordele inhou, waarom beweeg mense nie meer gereeld nie?

  • Pyn – dit klink verkeerd om, maar beweging is ’n goeie manier om pynlike toestande te verlig. Artritis is ’n goeie voorbeeld: artritispyn word in werklikheid vererger deur nie te beweeg nie. Pyn in die gewrigte veroorsaak dikwels dat die persoon minder beweeg, wat lei tot styfheid, wat lei tot verhoogde pyn, wat lei tot nóg minder beweging, en so aan – ’n bosekringloop. Gereelde beweging onderbreek hierdie siklus deur die sirkulasie te bevorder en die spiere rondom die gewrigte te versterk.
  • Vrees dat dit ‘n toestand sal vererger. In die verlede was dit ’n algemeen aanvaar dat mense wat aan sekere kondisies ly, nie moet oefen of te veel beweeg nie. Vandag wys navorsing egter dat die meeste algemene mediese kondisies baat vind by daaglikse aktiwiteit. Dit is slegs uitsonderlike gevalle wat nie baat vind by daaglikse beweging nie.
  • Gebrek aan tyd – dikwels voel mense hul het eenvoudig nie die tyd nie. Maar so min as 30 minute van beweging ’n dag lewer sigbare voordele. Mens kan dit verdeel in 3 x 10 minuut sessies deur die loop van die dag en steeds daarby baat vind.
  • Weereens klink dit verkeerd, maar gereelde beweging help ons om minder moeg en uitgeput te voel. Al moet mens gereeld rus en aanvanklik stadig begin! Die grootste struikelblok is dikwels om die nodige energie te vind.
  • Aanmoediging van ’n vriend, aanbeveling deur ’n mediese kundige of die vooruitsig van verbetering in ’n kondisie waaraan jy ly, is alles goeie aansporing. Mens sal meer gemotiveerd wees en meer sukses behaal as jy glo jy gaan die vrugte pluk.

Die geheim is om beweging pret en deel van jou daaglikse lewe te maak

Beweging moet pret wees, nie ’n taak waarteen mens opsien nie. Dit maak nie saak hoe oud jy is of in watter fisiese toestand jy jou tans bevind nie – almal kan voordeel daaruit trek om meer te beweeg.

Voorbeelde van prettige maniere om aan die beweeg te kom en aan die beweeg te bly:

  • Doen jou eie huiswerk ‘n paar dae van die week
  • Tuinwerk
  • Terwyl jy TV kyk – stap om jou stoel tydens advertensies
  • Neem die langer roete na die eetsaal
  • Gebruik die trappe i.p.v. hysbak
  • Parkeer ’n bietjie verder van die inkopiesentrum ingang
  • As jy baie moet sit, oorweeg om ‘n bal onder jou voet te rol
  • Wiegstoel
  • Trampolien
  • Sluit aan by ’n stapgroep
  • Yoga
  • Swem

Doen wat ook al nodig is om te begin en maak jou daaglikse beweging ’n prioriteit. Jy sal nie spyt wees nie.

Mind Move Bewegings: https://seniormindmoves.co.za/wp-content/uploads/2023/10/Senior-Mind-Moves-Youtube-Skakels.pdf

Verwysings:

Login

Lost your password?