Beweging, Spiertonus, Middellyne & Balans

Eksamentyd is hier – Maak Gereed met Mind Moves®
September 12, 2023
Die Wegtrekrefleks: Waarom is my kind angstig
September 19, 2023

Deur Dr. Melodie de Jager

Kan jy nog onthou toe jy geleer het om te loop, fiets te ry of te ysskaats? Die moeilikste gedeelte was om te begin en om te stop? As mens eers aan die beweeg is, is dit makliker om jou balans te behou en aan te hou beweeg. Jy mag dalk wonder hoekom dit makliker is om jou balans te behou en aan te hou beweeg, terwyl mens besig is om te beweeg?

Beweging help jou om jou balans te behou.

Ons sien al hoe meer leerders wat ‘n behoefte het om in die klaskamer te beweeg: hul moet ‘n papier gaan weggooi, of ‘n potlood gaan skerp maak, of badkamer toe gaan, met iets vroetel, wieg, hop, ens. In ‘n poging om leerders se behoefte aan beweging te bevredig, het baie opvoeders al voorgestel dat leerders stresballetjies gebruik om hul hande besig te hou, om op groot pilates balle te sit wat beperkte beweging toelaat of selfs om kougom te kou. Al hierdie strategieë is ‘n poging om die vestibulêre sisteem te stimuleer en sodoende leerders in staat te stel om stil te sit en te konsentreer. Dit klink egter soos ‘n teenstelling – beweeg om stil te sit?

Balans is nie iets wat jy HET nie. Dit is iets wat jy DOEN.

Schrager

1.    WAT IS BALANS?

Balans is die vermoë om ‘n liggaamspostuur te “behou” terwyl jy besig is om iets anders te doen – regop sit terwyl jy lees; skryf terwyl jy luister in die klas; afbuk terwyl jy skoenveters vasmaak; praat terwyl jy loop; ‘n koppie tee dra sonder om te mors; ‘n bal vang terwyl jy hardloop; vir iemand waai terwyl jy skaats; bestuur terwyl jy na die radio luister; ens. Balans is die vermoë om die liggaam regop en stil te hou. Dit lyk asof die liggaam doodstil is en ‘n taak sonder inspanning uitvoer, maar eintlik is ‘n hele klomp spiere besig om piepklein bewegings te maak ten einde balans te handhaaf.

Daar is twee soorte balans: statiese balans en dinamiese balans.

Statiese balans

Statiese balans is die vermoë om ‘n liggaamspostuur op een plek te behou sonder addisionele ondersteuning, bv. sit terwyl jy ‘n klap speletjie speel, staan op een been, of om regop te bly sit terwyl jy luister of lees. Statiese balans word ook ‘n toestand van statiese ekwilibrium genoem.

Statiese balans word gemonitor deur die macula reseptore binne die membraan van die vestibulêre sisteem (Marieb, 2000), wat verantwoordelik is om te registreer wat die posisie van die kop ten opsigte van gravitasie is wanneer die liggaam nie beweeg nie (Marieb, 2000). Elke macula is ‘n kolletjie reseptorselle met hul haartjies wat in die otolitiese membraan ingebed is. Hierdie membraan bestaan uit ‘n jellieagtige materiaal en bevat klein steentjies wat van kalsiumsoute gemaak is, naamlik otolitis. Wanneer die kop beweeg, rol die steentjies in hul reaksie op die verandering in die trek van gravitasie, wat veroorsaak dat hul oor die haarselle gly en die haarselle dus buig en aan die otolitiese membraan trek. Die geaktiveerde haarselle stuur dan ‘n impuls via die vestibulêre senuwee (‘n afdeling van die kraniale senuwee Vlll) na die serebellum van die brein om die brein in te lig van sy posisie in ruimte (Marieb, 2000; Hogan, 2004).

Fig. 1: Statiese Balans: Strukture en funksies van die Maculae (Marieb, 2000)

Dit kan prakties geïllustreer word deur ‘n waterpas met 3 buise (met lugborrels) teen verskillende hoeke wat ekwilibrium aandui – die middelpunt tussen vorentoe en agtertoe, bo en onder, en links en regs. ‘n Stil en regop postuur impliseer dat al drie lugbelle binne die drie buise van die waterpas gelyktydig in die middel is.

Die teenoorgestelde van statiese balans is wanneer ‘n kruk ( soos ‘n arm of muur) nodig is om regop te bly.

Konsentrasie sal dan meer gefokus wees om balans te behou, eerder as om gefokus te wees op skryf en lees.

Dinamiese balans

Dinamiese balans is om ‘n liggaamspostuur te behou terwyl daar op ‘n gekoördineerde wyse beweeg word, terwyl  toepaslike spiere gebruik word om ‘n taak uit te voer met minimum inspanning en maksimum effek. Dinamiese balans word ook ‘n toestand van dinamiese ekwilibrium genoem en word gemonitor deur reseptore in die semi-sirkulêre kanale, wat reageer op roterende kopbewegings. Dit kan geïllustreer word met ‘n sneeubal, waar die sneeu rondwarrel met elke kopbeweging. Siende dat hierdie drie semi-sirkulêre kanale alle bewegings in die drie vlakke van ruimtelike beweging (vorentoe/agtertoe; op/af; links/regs) registreer, kan die vestibulêre sisteem enige kopbeweging optel volgens die rigting waarin die ‘sneeu’ beweeg.

Dinamiese balans word deur die makula reseptore binne die membraan van die vestibulêre sisteem gemonitor, wat verantwoordelik is om die posisie van die kop ten opsigte van die swaartekrag te registreer wanneer die liggaam op ‘n lineêre wyse beweeg (op en af, vorentoe en agtertoe), (Marieb, 2000).

Fig. 3: Statiese Balans: Strukture en funksies van die Maculae (Marieb, 2000)

Die teenoorgestelde van dinamiese balans is wanneer ‘n kind maklik val, lomp voorkom of ekstra bewegings gebruik om te keer dat hy val. Die afwesigheid van dinamiese balans gaan dikwels gepaard met die beweging van die kaak, mond of tong saam met die hande.

2.    DRIE VLAKKE VAN DIE RUIMTE

Groot motoriese beweging is noodsaaklik om die proprioseptiewe- en vestibulêre stelsels te aktiveer voordat balans moontlik is. Groot motoriese beweging word instinktief aangehits deur die primitiewe refleksstelsel ten einde ‘n baba aan die beweeg te kry. Met tyd beweeg ‘n baba in drie vlakke van die ruimte: vorentoe en agtertoe (wanneer hy soog of nader of weg van aanraking beweeg); op en af (wanneer hy begin sit en later homself optrek om te loop); links en regs (wanneer hy aan meubels vashou en sywaarts loop of omdraai om te sien). Hierdie vroeë bewegings is voorbereiding vir statiese- en dinamiese balans en ontwikkel met behulp van die drie semi-sirkulêre kanale in die binne-oor.

Beweging in enige van die drie vlakke van die ruimte sal balans versteur en die “waterpas” in die semi-sirkulêre kanale aktiveer. Sodoende bepaal die vestibulêre sisteem in watter rigting beweging plaasvind en stel die binne sintuie in kennis van wat om te doen om die beweging teen te werk en balans te behou.

Sneeu wat rondwarrel dui beweging aan en sneeu wat gaan lê dui aan dat balans weer herstel is. Die oomblik wanneer balans weer gevind is, is die lugborrels van die drie semi-sirkulêre waterpasse reg in die middel, die sneeu het gaan lê en jy weet waar jy jouself in die ruimte bevind.

Elke semi-sirkulêre kanaal korreleer met ‘n vlak van die ruimte:

  • Laterale vlak: vorentoe en agtertoe beweging op ‘n horisontale as, soos: sit en buk vorentoe; wieg; swaai; vorentoe en agtertoe rolle; vorentoe en agtertoe op ‘n rolbord.
  • Superior vlak: horisontale bewegings om ‘n vertikale as, soos: draai op ‘n mallemeule; speel “ring-a-rosy”; spin in die rondte.
  • Posterior vlak: kantel bewegings, soos: wanneer jy op ‘n vliegtuig of ‘n boot is; wanneer jy balanseer op ‘n balanseerbord; loop oor ‘n hangbrug; spring op ‘n trampolien of speel op ‘n springkasteel.

Beweging help om balans oor ‘n nouer basis van ondersteuning te behou.

 3.    BEWEGING EN DIE AANTREKKINGSKRAG VAN GRAVITASIE

Volgens Ayres (1980) is die een verhouding wat ons almal deel, die verhouding met swaartekrag. Swaartekrag verwys na Newton se wet wat bepaal dat dit wat opgaan moet afkom. Dit is die aftrek van gravitasie wat jou ‘n gevoel van stabiliteit gee – ‘n verwysingspunt of ‘n gevoel van gesentreerdheid. Ayres (1980) noem hierdie gevoel van gesentreerdheid, ‘gravitasieveiligheid’.

Die aftrek van gravitasie op jou liggaam skep ‘n veilige en stabiele basis van waar jy:

  • jouself kan oriënteer in die ruimte ( Waar is jy: voor, agter, langsaan? Waar is voorwerpe: bo-op, onder, tussen-in? Na watter kant toe kyk ‘n /b/: links of regs? Gaan ‘n /p/ op of af?);
  • tyd kan ervaar (voor, na, gedurende, 7 uur, etenstyd, aand, Maandag, winter, verjaarsdag);
  • inligting vanaf verskeie sintuie kan integreer (sensoriese integrasie, visuele- en ouditiewe prosessering);
  • spiertonus kan ontwikkel (balans tussen spiere wat saamtrek en strek);
  • praksia – die vermoë om reaksies te kies, hulle in gepaste volgorde te rangskik en dan uit te voer.
  • rigting, diepte, hoogte, gewig, spoed, afstand en krag kan skat (afstand en spoed van ‘n aankomende kar en jou vermoë om die pad veilig oor te steek, balspeletjies, krag nodig om ‘n stoel op te tel, hoogte van ‘n trappie te skat, die krag nodig om ‘n doel te skop te skat);
  • beplanning (wat is in plek, wat is nodig en wat moet gebeur);
  • ‘n bewustheid van die self kan vestig;
  • betrokke kan wees by mense en gedeelde aktiwiteite.

Die effek van swaartekrag op die liggaam (vestibulêre sisteem) werk soos ‘n Globale Posisioneringstelsel (GPS) en dit benodig spesifieke insette, naamlik:

  • Waar is jy?
  • In watter rigting kyk jy?
  • Waarheen wil jy gaan?

Sodra hierdie inligting bekom is, kan die GPS die roete wat gevolg moet word of aksieplan bepaal. Indien die GPS foutief is, sal jy verlore voel (of verdwaal), ontsteld wees en hulp benodig.

Dieselfde geld indien ‘n kind se vestibulêre sisteem se verhouding met swaartekrag foutief is – die kind (en volwassene) mag verlore voel, ontsteld wees en hulp benodig.

Tipiese simptome van ‘n foutiewe menslike GPS (proprioseptiewe- & vestibulêre sisteme):

  • taktiel-defensief
  • stywe postuur
  • kan nie op een been hop of balanseer nie
  • kan nie agteruit loop nie
  • sukkel om te huppel en te galop
  • kan nie touspring nie
  • lomp
  • geneig om ongelukke te hê
  • swak motoriese beplanning
  • word karsiek
  • swak statiese- en dinamiese balans
  • vertigo (duiseligheid)
  • vind dit moeilik om by trappe af te gaan
  • vermy toubrûe
  • hoogtevrees
  • swak ruimtelike oriëntasie
  • sukkel om tussen links en regs te onderskei
  • omkerings
  • disoriëntasie
  • lae spiertonus
  • sukkel om middellyne te kruis
  • vermy lees en skryf
  • dispraksie
  • disfagie
  • disleksie
  • disgrafie
  • diskalkulie
  • Aspergers Sindroom
  • vermy sport en dans
  • swak sensoriese prosessering
  • onbeheersde oogbewegings
  • swak persepsie
  • hiperaktief of hipoaktief
  • aandagtekort
  • vertraagde taalontwikkeling
  • angsversteuring
  • ongegronde vrese
  • paniekaanvalle
  • buiversteurings
  • lae selfbeeld
  • herhalende wieg, skud of kap van kop teen muur
  • swaai vir lang tye aaneen
  • sensasiesoekend
  • dominante hand nie gevestig nie
  • kyk eerder televisie of speel rekenaarspeletjies as om buite te speel.

(aangepas uit Levinson, 1984; Blythe & McGlown, 1979; Goddard, 2004).

Struikelblokke tot leer, soos hierbo gelys, kan aangespreek word deur die proprioseptiewe- en vestibulêre stelsels sowel as die verhouding met swaartekrag te verbeter, ten einde ‘n veilige en stabiele basis te ontwikkel van waar ‘n kind met gemak kan leer.

4.    HOE ONTWIKKEL ‘N VEILIGE EN STABIELE BASIS?

‘n Veilige en stabiele basis ontwikkel as die resultaat van statiese- en dinamiese balans. Indien balans ontbreek, kompenseer mens daarvoor. Dit beteken konsentrasie word verdeel – die grootste gedeelte van konsentrasie gaan na die fisiese komponent van ‘n aktiwiteit en die res van die konsentrasie word aan die vaardighede geassosieer met die aktiwiteit geallokeer, met ‘n vanselfsprekende negatiewe impak op leer. Byvoorbeeld, as mens leer om fiets te ry, mag mens begin deur eers met kantwieletjies te ry ten einde jou basis te vergroot. Dit gee swaartekrag ‘n groter oppervlakte om aan vas te kleef en hou jou sodoende stabiel. Soos wat jou balans verbeter, kan jy die kantwieletjies verwyder en jou balans behou oor ‘n nouer basis (twee wiele).

Hierdie kan ook gesien word by jong kinders wat met hul bene in ‘n ‘w-posisie’ sit ten einde hul basis te vergroot sodat hulle nie omval nie.

Of wanneer ‘n kind sy kop moet ondersteun met sy hand of arm terwyl hy lees of skryf.

Of wanneer ‘n kind voortdurend vorentoe of agtertoe beweeg, of kant na kant toe beweeg, of op en af hop. Al die bogenoemde is ‘n desperate poging om die lugborrels in die middel van die drie waterpasse te kry om balans te handhaaf in die middel van die drie vlakke van die ruimte.

Konstante beweging vergroot ook die basis waaraan swaartekrag vatplek kan kry. Sonder hierdie ondersteuning kan sulke kinders nie hul balans handhaaf nie, en sonder balans kan hulle nie regop en stil sit en konsentreer nie. Om wel regop te bly, verbreed hierdie kinders hul basis (baie slim) om ondersteuning vanaf swaartekrag te kry ten einde hul regop te hou.

Om balans oor ‘n nouer basis van ondersteuning te handhaaf, is dit belangrik dat die basis stabiel moet wees. ‘n Stabiele basis is die resultaat van ‘n stabiele kop en sterk kernspiere.

5.    HOE ONTWIKKEL ‘N STABIELE KOP EN STERK KERNSPIERE?

Balans is slegs moontlik wanneer ‘n stabiele kop en sterk kernspiere ontwikkel het. Vir dit om te gebeur moet die binne- en buite sintuie se inspanning gekombineer word. Wanneer hierdie proses effektief plaasvind, noem ons dit sensoriese integrasie.

Buite sintuie

Die buite sintuie is die sintuie wat reageer op sensasies en stimulasie uit die omgewing deur aanraking, reuk, smaak, gehoor en sig. Hierdie vyf buite sintuie verskaf inligting aan die binne sintuie rakende enige veranderinge in die omgewing en maak staat op die binne sintuie om die nodige aanpassings te maak sodat jy by jou omgewing kan aanpas.

Binne sintuie

Die binne sintuie is die sintuie wat reageer op sensasies en stimulasie van binne die liggaam; en sluit die proprioseptiewe stelsel, vestibulêre stelsel en kinese in.

Die binne sintuie het die vermoë om gravitasieveiligheid te bewerkstellig; om te bepaal wie of wat beweeg; en indien jy die een is wat beweeg die nodige aanpassings te maak. Byvoorbeeld, wanneer die buite sintuie ‘n bewegende kar reg langs jou opmerk (terwyl jy in jou kar by die rooi verkeerslig wag), is dit die binne sintuie wat bepaal of dit jy is wat beweeg of die kar langs jou. Dieselfde geld vir ‘n kind wat van sy stoel afval as iemand verby sy lessenaar loop – sy binne sintuie werk nie doeltreffend nie en dus kan hy nie bepaal wie dit is wat beweeg nie.

Proprioseptiewe stelsel

Die woord “propria” is afgelei van die Latynse woord vir “jou eie”. Die proprioseptiewe stelsel is ‘jou eie’ bewustelike en onbewustelike bewussyn van jou liggaam se posisie en beweging in ruimte.

Die proprioseptiewe stelsel staan ook bekend as die ‘spiersintuig’ (kinese) en sê vir die brein:

  • wanneer en hoe die spiere van die liggaam saamtrek of strek;
  • wanneer en hoe die gewrigte buig en strek of getrek of gedruk word;
  • waar in die ruimte jou liggaamsdele is en wat hulle doen;
  • die tempo en tydsberekening van bewegings;
  • hoeveel krag spiere uitoefen;
  • hoe om die vestibulêre stelsel te moduleer (Arkwright, 1998).

Proprioseptore is aanwesig in die vel, spiere, tendons en gewrigte en word deur die Golgi-tendon-reseptore asook die spierspoele ondersteun. Hulle stel die hoeveelheid spanning, hetsy in rus of in beweging, in die skeletspiere vas.

Die proprioseptiewe stelsel gebruik ‘n vorentoe / agtertoe funksie om byvoorbeeld ‘n ‘jeuksensasie’ te skep (sonder dat ‘n insek jou gebyt het) om jou aan te por om aan ‘n liggaamsdeel te raak wanneer jy tydelik bewussyn daarvan verloor het. Dit is ook die proprioseptiewe stelsel wat na ‘n amputasie of verlies van ‘n ledemaat aanhou om te por (pyn of kriewel) dat jy aan daardie gedeelte (wat nie meer daar is nie) moet raak. Hierdie sensasie in die verlore liggaamsdeel hou aan totdat die liggaamskaart opgedateer en aangepas is. Die proprioseptiewe stelsel skep dus ‘n soort liggaamskaart in die brein wat ‘n innerlike selfbewussyn skep en toepaslike beweging toelaat sonder dat jy bewustelik daaroor hoef te dink.

 

Die vestibulêre stelsel

Die vestibulêre stelsel is in die breinstam en binne-oor geleë en word as een van die oudste sisteme in die liggaam gereken. Die vestibulêre stelsel is alreeds ten volle funksioneel op 16 weke in utero (Goddard, 2002). Dit bestaan uit die vestibule (Utriculus en Sakkulus) en die drie semi-sirkulêre kanale.

Die semi-sirkulêre kanale is klein vloeistofgevulde buisies in die binne-oor wat met twee kamers, die Utriculus en Sakkulus, verbind word. Wanneer die kop beweeg word, draal die vloeistof so bietjie binne hierdie drie semi-sirkulêre kanale en raak-raak aan die fyn haarselle wat dan aan die brein meedeel wat aan die gang is. Die kanale is sensitief vir beweging wanneer jy jou kop skud, dit beweeg of selfs kopknik. Die Utriculus en Sakkulus is sensitief vir liniêre beweging en peil of die beweging vinniger of stadiger plaasvind.

In praktiese terme werk die vestibulêre sisteem soos ‘n sneeubal en waterpas ineen, om enige beweging van die kop te moniteer en beweging in die omgewing vas te stel. Enige kopbeweging sal die “sneeu” ontwrig en die lugborrels se midposisie versteur. Dit stuur boodskappe om die brein te waarsku om dadelik ‘n aanpassing te maak om jou teen ‘n val en beserings te beskerm. Die brein van ‘n jong baba reageer aanvanklik met behulp van die primitiewe reflekse; by ‘n ouer kind help die posturale reaksies om die liggaamspostuur te behou en te verhoed dat die kind val of seerkry.

Indien die vestibulêre stelsel nie behoorlik werk nie, kan die kind se gedrag wisselvallig wees en kan disleksie, disgrafie, spieëlskrif of enige van die ander simptome soos hierbo genoem is, moontlik ervaar word. Dit kan die beste gesien word wanneer ‘n persoon in ‘n gravitasie-vrye omgewing waargeneem word, soos ruimtevaarders in die ruimte. Dit is al opgemerk dat hoogsgeleerde  en intelligente ruimtevaarders van regs na links begin skryf, nommers en letters begin omkeer en selfs in spieëlskrif begin skryf het toe hul in die ruimte was. Volgens Goddard (2002:18) demonstreer die verskynsel vir ons hoe belangrik die rol van swaartekrag en balans vir ruimtelike oriëntasie en bewussyn van rigting is.

Iets om oor na te dink:

Kan dit beteken dat ‘n kind wat met nommers en letteromkerings sukkel, wat spieëlskrif skryf en met spelling, lees en skryf sukkel, dalk ‘n kind is met ‘n vestibulêre probleem?

Volgens Arkwright (1998) doen die vestibulêre stelsel die volgende:

  • handhaaf die spiere en liggaamspostuur om effektief te beweeg;
  • handhaaf ‘n stabiele visuele veld d.m.v. oog- en nekspier aanpassings om sodoende vir die kop- en liggaamsbewegings te kompenseer;
  • voorsien ‘n stewige fondasie vir die hoër vlakke van leer.

 

By die Mind Moves® Instituut is gevind dat effektiewe proprioseptiewe- en vestibulêre stelsels ‘n positiewe invloed het op:

  • sensoriese integrasie
  • spiertonus
  • motoriese beplanning
  • praksis

Op hul beurt maak propriosepsie en die vestibulêre stelsel staat op kinese om die bepaalde spiertonus vir elke aksie te antisipeer.

 

Kinese

Kinese is ‘n term wat gebruik word om die proses te beskryf net voor ‘n spier gereed is om oor te gaan tot aksie. Kinese is ‘n vorm van propriosepsie en is deel van die binne sintuie wat nodig is om te verhoed dat jy val, te vinnig beweeg, of te veel druk uitoefen, en help met die inisiëring en aanpassing van beweging, handhawing van balans, ontspanning, ens. Kinese stel jou in staat om te bepaal hoeveel krag is nodig om ‘n bal te gooi, of om ‘n glas op ‘n tafel neer te sit sonder dat dit ‘n harde geluid maak.

 

Iets om oor na te dink:

Kan dit beteken dat ‘n kind wat sukkel om stil te sit dalk ‘n kind kan wees wat nodig het om te beweeg ten einde sy proprioseptiewe- en vestibulêre sisteem te aktiveer om bewus te kan raak van sy verskeie liggaamsdele en hul verhouding tot mekaar om sy liggaamskaart te kan voltooi?

 

6.    BEWEGING, SPIERTONUS, BALANS EN LEER

Die interaksie tussen die proprioseptiewe stelsel, die vestibulêre stelsel en kinese word geassosieer met beweging wat die liggaam in ‘n regop posisie behou. Beweging vind op drie vlakke plaas, wat beteken dat drie middellyne gekruis word:

  • die middellyn tussen die voorkant en agterkant van die brein en liggaam (Moro refleks);
  • die middellyn tussen die bo- en onderkant van die brein en liggaam (TLR refleks) en
  • die middellyn tussen die linker- en regterkant van die brein en liggaam (ATNR refleks).

Groot motoriese bewegings begin al 5 weke in utero, aangepor deur die primitiewe refleks reaksies, om die binne sintuie in ‘n gravitasie-vrye omgewing te aktiveer. In tyd dra hierdie binne sintuie by tot die ontwikkeling van spiertonus, middellynkruising en balans. Elke primitiewe refleks begin ‘n nuwe neurologiese paadjie, wat die verskeie sintuie, spiere en die senuweestelsel in staat stel om beter te kommunikeer op ‘n progressiewe en meer komplekse wyse.

Om te help met hierdie proses, begin die vestibulêre senuwee te miëliniseer in utero deur beweging te registreer van die fetus sowel as van die omgewing (uterus). Dit is noodsaaklik vir die baba se oorlewing buite die baarmoeder (Hogan,2004). Buite die baarmoeder, verskaf swaartekrag ‘n verdere uitdaging. Hierdie basiese in utero bewegingspatrone dien as ‘n ‘bloudruk’ vir bewegings wat benodig word om swaartekrag teen te staan wanneer die baba gebore is.

Spiertonus is ‘n opponerende krag wat teen swaartekrag werk. Deur herhalende bewegingspatrone (primitiewe refleks reaksies) word bewussyn, spierkrag, koördinasie, en beheer ontwikkel. Hoe groter die liggaamsgewig, hoe meer spiertonus is nodig om swaartekrag teen te staan – in ‘n rustende posisie, statiese posisie sowel as gedurende beweging.

 

Iets om oor na te dink:

Kan ‘n teenstrydigheid tussen gewig en spiertonus moontlik die rede wees hoekom oorgewig babas sukkel om te kruip?

 

Kan dit dalk ook die rede wees waarom oorgewig babas, kinders en volwassenes dit moeilik vind om met enige bewegingsprogram te begin of deel te neem aan sport of dans?

7.    BEWEGING EN MIDDELYNE

Die konstante kruising van die drie middellyne begin met groot motoriese bewegings en verfyn mettertyd om meer beheersde fyn motoriese bewegings in te sluit. Die geveg teen swaartekrag en die onophoudende kruising van die middellyne stimuleer die ontwikkeling van spiertonus van bo na onder (sefalokoudaal) en van binne na buite (proksimaal-distaal). Balans is slegs moontlik indien die kind voldoende spiertonus het om sy liggaam stil en in die middel van al drie middellyne tegelyk te kan hou.

Kan jy onthou as mens leer om fiets te ry, is dit soveel makliker om jou balans te behou terwyl jy aan die beweeg is, maar moeiliker as jy moet begin of stop? Kinders met swak balans, lae spiertonus en middellyn probleme konsentreer en werk beter, terwyl hulle beweeg. Onderwysers en ouers kan hierdie kinders help deur bewegingsgeleenthede te skep in die klas of terwyl die kinders huiswerk doen, ten einde hul binne sintuie te ontwikkel sodat hulle ook stil en regop kan sit en die grootste gedeelte van hul konsentrasie kan gebruik vir die taak waarmee hul besig is.

Hierdie bewegingsgeleenthede:

  • aktiveer hul proprioseptiewe- en vestibulêre stelsels
  • bevorder middellynkruising
  • verbeter spiertonus.

Dit lei na die volgende:

  • ontwikkeling van sensoriese integrasie;
  • verbeter konsentrasie;
  • help met statiese balans (om stil te sit en te konsentreer);
  • organiseer die vloei van inligting om leer te fasiliteer.

Sodra die balans sisteem (proprioseptiewe sisteem, vestibulêre sisteem en kinese) effektief werk, voel hierdie kinders meer in beheer van hulself en hul gedrag wat bydra tot die ontwikkeling van konsentrasie, selfvertroue en ‘n positiewe selfbeeld.

 

8.    WAT KAN JY DOEN?

Kontak ‘n neuro-ontwikkelings fisioterapeut, arbeidsterapeut met sensoriese integrasie opleiding, of ‘n bewegingspesialis soos ‘n Gevorderde Mind Moves Instrukteur om ‘n gestruktureerde bewegingsprogram te ontwerp wat jy kan implementeer. Dit sal help as die bewegingsprogram op die ontwikkeling van ‘n meer effektiewe balans stelsel fokus. Sodra die balans stelsel meer effektief werk, sal die balans stelsel beweging meer spontaan beheer. Soos wat spierbeheer verbeter, sal die behoefte om te beweeg (ten einde balans te behou) afneem.

Die mees gevorderde vlak van beweging is die vermoë om doodstil te wees. Perfekte balans is die aksie van om nie te beweeg nie. Rowe

Mind Moves is ‘n voorbeeld van ‘n bewegingsprogram wat ontwerp is om tuis sowel as in die klaskamer gebruik te word. Die bewegings boots die primitiewe refleksreaksies na met die doel om hul spesifieke neurologiese paadjies te voltooi. Sodra die sensories-motoriese neurologiese paadjies deur herhalende gebruik gevestig is, begin die reflekse integreer en gaan rus hulle. Geïntegreerde primitiewe reflekse word dan deel van die oorlewingsreaksies en die denkende brein word bevry om aandag te gee aan hoër kognitiewe funksies soos om die alfabet te leer, links van regs te onderskei, tyd te kan lees, wiskundige vaardighede te bemeester, met begrip te kan lees, ensovoorts.

Elke primitiewe refleks stel ‘n nuwe sensories-motoriese neurologiese paadjie bekend wat die verskillende sintuie, spiere en die senuweestelsel in staat stel om meer effektief en op ‘n meer komplekse wyse met mekaar te kommunikeer. Elke primitiewe refleks voeg nog ‘n dimensie by die ontwikkelende sensories-motoriese stelsel om ‘n kind se vermoë om die drie middellyne te kruis en spiertonus te verbeter, sowel as om balans te vestig.

Sodra ‘n primitiewe refleks sy funksie verrig het, inhibeer dit, gereed om weer te verskyn en sy sensories-motoriese paadjie te herstel indien daar enige trauma of besering is wat die neurologiese bedrading beskadig het.

Beweging vorm die brein. Herhaling maak dit doeltreffend.

9.    VOORGESTELDE BEWEGINGSPROGRAM

  • Neem daagliks aan enige aktiwiteit deel wat beweging aanmoedig, soos om ‘n speelpark te besoek en te gly, te swaai, op die rondomtalie te draai, te spring op ‘n trampolien, rolskaats, ysskaats, skaatsplank, rolbord, klim en klouter op ‘n klimraam, ry teen ‘n helling op en af met ‘n fiets.
  • Speel ‘outydse’ speletjies soos ‘ring-a-rosy’, ‘leap frog’, ‘tag’, Marco Polo, ‘musical chairs’, standbeelde, ens.
  • Begin met ‘n bewegingsprogram soos Mind Moves (De Jager, 2019a). Bepaal eers wat jou doelwit is – wees duidelik oor wat jy wil bereik (jou verwagte uitkoms), bv. om spiertonus te verbeter, of om stil te sit in die klas. Tweedens kies jy die Mind Moves bewegings wat van toepassing is. Doen die Mind Moves stadig en met beheer, voor skool, wanneer nodig in die klaskamer en voor huiswerk. Herhaal elke beweging minstens drie keer en let op of jy enige veranderinge kan opmerk in postuur, spiertonus, balans, koördinasie, selfbeeld, ens. Vier elke verbetering.

MIND MOVES OM DIE BALANS TE STABILISEER

‘n Kind ontwikkel van kop tot tone en daarom moet die nek stabiliseer voordat die romp kan stabiliseer. ‘n Stabiele kop is noodsaaklik want die kop lei alle fisiese ontwikkeling. Dink aan ‘n baba – sodra ‘n baba sy kop kan regop hou, volg rol, sit en later kruip.

Nekversterker: Behou die ruggraat in die “string krale” posisie regdeur hierdie beweging. Staan regop asof die ruggraat ‘n string krale is. “Trek” die denkbeeldige toutjie bo die kop totdat die krale in ‘n reguit lyn hang.

Plaas die handpalm teen die voorkop en oefen ferm druk uit vir agt tellings. Onthou om asem te haal. Herhaal die proses met die palm teen die agterkant, die linkerkant en die regterkant van die kop. Gebruik eers die een hand en dan die ander. Hierdie beweging versterk en ontspan die nek- en skouerspiere om die kopbeweging van die liggaamsbeweging te skei en inhibeer sodoende die TLR. Dit verbeter ook die liggaamspostuur, luistervaardighede, balans en spiertonus.

Romproteerder: Lê plat op die rug met die arms oopgesprei. Lig die knieë tot op heuphoogte. Swaai die knieë stadig na links totdat die linkerknie aan die vloer raak, en dan na regs totdat die regterknie aan die vloer raak. Die skouers en lae rug moet aan die vloer ‘vasgeplak’ bly. Hierdie beweging versterk die kernspiere en skei die skoueraksie van die heupaksie om sit, fokus en konsentrasie te verbeter. Dit lê ook die grondslag vir die kruising van die laterale middellyn.

Homolaterale mars: Beweeg die linkerarm en –been saam, dan die regterarm en –been. Volg altyd op met ‘n Bilaterale mars, waar jy jou linkerknie raak met jou regterhand en regterknie raak met jou linkerhand.

 

MIND MOVES OM DIE MIDDELLYNE TE KRUIS

Daar is drie middellyne: een tussen links en regs, een tussen voor en agter asook ‘n middellyn tussen die bo- en onderkant van die liggaam. Hierdie drie middellyne bestaan ook in die brein tussen die linker- en regterbrein, die sensoriese agterbrein en die motoriese voorbrein asook die denkende bobrein en die emosionele onderbrein. Om die kruising van hierdie middellyne te verbeter moet ‘n kind kinesteties (met hele lyf soos met Bolyfswaaier) sowel as ouditief (soos met Nekroteerder) en visueel (soos met Muismatras) deur al die middellyne beweeg.

Bolyfswaaier: Staan met die voete skouerbreedte uitmekaar, buig die bolyf en laat die arms ondertoe hang. Draai die liggaam en arms stadig in ‘n kloksgewyse sirkelbeweging. Stop en draai dan weer met ‘n groot sirkelbeweging in die teenoorgestelde rigting. Dit mag dalk makliker wees om aanvanklik die oefening in ‘n sittende posisie te doen om te voorkom dat jy val. Hierdie beweging verskaf vestibulêre stimulasie, wat balans, spiertonus en ruimtelike oriëntasie versterk. Dit bevorder ook die kruising van die middellyne vir meer vanpaste reaksies en beter taakvoltooiing.

Nekdraaier: Staan regop asof die ruggraat ‘n string krale is. “Trek” die denkbeeldige toutjie bo die kop totdat die krale in ‘n reguit lyn hang. Draai die kop stadig so ver moontlik na links en behou die posisie vir agt tellings. Draai dan stadig die kop so ver moontlik na regs, met die ruggraat regop en behou daardie posisie vir agt tellings. Die heupe en skouers moet vorentoe gedraai wees, net die kop mag beweeg. Hierdie beweging verlig die spanning in die die nek en skouers sodat die oë vryelik kan beweeg en dit verbeter luistervaardighede.

Muismatras: Die oë is die brein se rekenaarmuis – hulle aktiveer verskillende dele van die brein wanneer hulle opwaarts, afwaarts, horisontaal, na links en na regs draai. Hou die duim op elmboogafstand van die oë en fokus daarop. Beweeg die duim opwaarts, eers rondom die linkeroog en dan rondom die regteroog. Herhaal vyf maal. Ruil hande om en herhaal dieselfde proses. Trek altyd eers ‘n sirkel om die linkeroog en dan om die regteroog.

 

MIND MOVES OM SPIERTONUS TE VERBETER

Spiertonus is ‘n opponerende krag wat teen swaartekrag werk. Deur herhalende bewegingspatrone kan bewussyn, spierkrag, koördinasie en beheer ontwikkel word. Hoe swaarder die liggaam is, hoe minder waarskynlik is dit dat ‘n kind sal wil beweeg, want meer spierkrag en spiertonus is nodig om die trekkrag van swaartekrag teen te werk. Spiertonus is ‘n naby-sintuiglike funksie en sy beheersentrum sit in die binne-oor.

Antennaversteller: Masseer albei oorskulpe gelyktydig van bo na onder met sirkelbewegings.

Temporale tikkies: Begin voor die ore en tik liggies met albei hande opwaarts rondom die ore. Hierdie beweging bevorder stimulasie van die temporale lob ten einde luistervaardighede, ouditiewe prosessering, vestibulêre stimulasie, propriosepsie en balans te bevorder. Dit verbeter ook die integrasie tussen luister en mondelinge- sowel as skriftelike kommunikasie.

Swaartekragkruip: Kruip op ‘n mat of op die gras met die maag plat teen die grond terwyl die arms en bene gebuig word om die liggaam vorentoe te laat beweeg. Doen die swaartekragkruip op en af teen ‘n helling. Hierdie beweging bevorder kernspierontwikkeling, spiertonus, heupbuiging en vestibulêre stimulasie. Dit verbeter ook die liggaamspostuur en heel liggaam koördinasie met die oog op skryf, dans en sport.

Ons kan kinders die begeerte gee om sukses te behaal met dinge wat ons hulle wil leer – deur vroeë leerervarings interessant, suksesvol en pret te maak. Deur akademiese take op onklaar breine af te dwing, loop die risiko om die kers van intellektuele opgewondenheid te doof, veral vir kinders wat op verskillende ontwikkelingsroosters is. Niemand wil ‘n arena betree waar hy herhaaldelik ‘n uitklophou gely het nie. Healy

Bronnelys:

Arkwright,N. 1998. An introduction to Sensory Integration. San Antonio, Texas: Therapy Skill Builders.

Ayres, J. 1980.  Sensory Integration. Los Angeles: Western  Psychological Services.

Blythe, P. & McGlowd, D.J. 1979. An organic basis for neurosis and educational difficulties. Chester, UK: Insight Publications.

Converse, D. Rock-A-Bye Baby: Why Movement is Important. Hillsborough County Family and Consumer Sciences Newsletter. November 2004. http://hillsboroughhcs.ifas.ufl.edu/

De Jager, M. 2013. Play Learn Know. Welgemoed: Metz Press Publishing.

De Jager, M. 2017a. BabyGym – brain and body gym for babies. Cape Town: Metz Press Publishing.

De Jager, M. 2017b. Play Learn Grow. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing.

De Jager, M. 2019a. Mind Moves – removing barriers to learning. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing.

De Jager, M. 2019b. Brain development MILESTONES and Learning. Johannesburg: Mind Moves Institute Publishing.

De Witt, M.W. & Booysen, M.I. 1994. Die Klein Kind in Fokus. Pretoria: Acacia Books.

Ganong, WF. 1995. Review of Medical Physiology (17th ed). Connecticut: Prentice-Hall International Inc.

Goddard, S. 2002. Reflexes, learning and behaviour. Oregon: Fern Ridge Press.

Hogan, K. 2004.The Ear and the Alexander Technique. http://www.kayhogan.com

Levinson, H.D. 1984. Smart but feeling dumb. New York: Warner Books Inc.

Marieb, E.N.  2000. Essentials of Human Anatomy & Physiology (6th ed). San Francisco: Benjamin/Cummings Science Publishing.

Rhoades, RA & Tanner, GA.  1995.  Medical Physiology.  Little Boston: Massachusetts.

Sears, W; 1989. Wearing your baby. http://www.findarticles.com

 

Login

Lost your password?