Die vel, voeding en vroeë spraakontwikkeling

Die Wegtrekrefleks: Waarom is my kind angstig
September 19, 2023
SWAARTEKRAG: Die verhouding met die vestibulêre sisteem en die impak wat dit het op ons emosies (limbiese sisteem) en ons denke (kognitiewe brein)
September 19, 2023

Deur Dr Melodie de Jager and Cozette Laubser

Jou vel is jou grootste en sommige sal sê die belangrikste sensoriese orgaan in jou liggaam. Ons vel dien as die beskermende laag tussen ons interne liggaamsisteme en die buitewêreld. Die vermoë om aanraking te ervaar en waar te neem, gee ons brein ‘n magdom inligting oor die omgewing rondom ons, soos temperatuur, pyn en propriosepsie. Sonder die vel en ons tassintuig sou dit baie moeilik wees om in hierdie wêreld te funksioneer! Ons sou nie kon voel wanneer ons voete die vloer raak as ons loop nie, ons sal nie aanvoel wanneer ‘n skerp voorwerp ons sny nie, ons sal nie die warm son op ons vel kon voel nie. Dit is werklik verbasend hoeveel inligting ons oor die wêreld rondom ons ontvang deur ons tassintuig of gevoel van aanraking.

DIE VEL EN DIE TASSINTUIG

WAAR BEGIN DIT ALLES?

In die vierde week van swangerskap is die massa selle wat in ‘n baba ontwikkel, die grootte van ‘n papawersaad. Dit is in hierdie baie vroeë stadium van ontwikkeling dat die selle in 3 verskillende lae verdeel waaruit ‘n baba se interne organe en vel sal ontwikkel.

  1. Die buitenste laag word die ektoderm genoem.
  2. Die middelste laag word die mesoderm genoem.
  3. Die binneste laag word die endoderm genoem.

Die neurale buis – waaruit die baba se brein, rugmurg, senuwees en ruggraat sal ontstaan – ontwikkel in die boonste laag, wat die ektoderm genoem word. Hierdie laag dra by tot die ontwikkeling van baba se vel, hare, naels, melk- en sweetkliere en tandemalje.

Sy hart en bloedsomloopstelsel begin vorm in die middelste laag of mesoderm.  (Trouens, sy klein hartjie begin in kamers verdeel en klop en pomp bloed.) Die mesoderm sal ook jou baba se spiere, kraakbeen, been en onderhuidse (onder die vel) weefsel vorm.

Die derde laag, of endoderm, sal sy longe, ingewande en vroeë urinêre stelsel huisves, sowel as sy skildklier, lewer en pankreas. Intussen is die primitiewe plasenta en naelstring, wat voeding en suurstof aan die baba lewer, reeds aan die werk.

Dit is belangrik om daarop te let, is dat die brein, senuweestelsel, vel en ingewande van baie vroeg af kompleks verbind is aan mekaar.

 ‘N ONTWIKKELINGSGREEP

 Dr Melodie de Jager, die stigter van die BabaGim® en Mind Moves® programme, sê:

  • Gedurende die eerste weke in utero is die eerste reaksie van ‘n baba op aanraking, een van vermyding. Vermyding is ‘n beskermende reaksie, want baba wil lewe, groei en gloei. Dit is eers wanneer ma weet dat sy swanger is en onwillekeurig aan haar maag raak, dat die baba se vermydingsreaksie begin verdwyn – in plaas daarvan om aanraking te vermy, begin baba nou na liefdevolle aanraking soek.
  • Die refleks om aanraking te vermy, word ‘n wegtrekrefleks genoem en is ‘n onwillekeurige reaksie wat deur primitiewe reflekse veroorsaak word. Hierdie onwillekeurige reaksie is ‘n intrauteriene refleks, wat beteken dit behoort die vel, refleksiewe brein en spiere te bedraad terwyl baba nog in die baarmoeder is. Dit moet egter voor die geboorte gaan rus (afsien van vermydingsgedrag), anders kan baba sukkel om te voed, gerusgestel of gekalmeer te word en oor die algemeen ‘n baie ongelukkige babatjie wees.
  • Baba se vel fokus op vier verskillende soorte sensasies, elk met sy eie bedradingstelsel: temperatuur, pyn, propriosepsie en aanraking.
  • Die kontraksies van kraam bied baba ‘n intense diepweefselmassering wat proprioseptiewe en aanrakingsreseptore aktiveer.
  • Die vel is die grootste van die sintuiglike organe en is die rede waarom baba alles in sy mond sit – aanvanklik ‘sien’ hy letterlik beter as hy eers voel. Hy sien dus letterlik beter met sy mond as met sy oë.

DIE VEL EN DIE SPYSVERTERINGSTELSEL

Soos jy in jou ma se baarmoeder gevorm is, word jou vel en ingewande terselfdertyd gevorm. Trouens, jou ingewande is ‘n verlengstuk van jou vel. Daarom sien dermatoloë en voedingkundiges dikwels velprobleme wat in die ingewande weerspieël word, en omgekeerd.

Het jy geweet?

“Gut” verwys na die gastro-intestinale stelsel – die menslike stelsel van spysverteringsorgane. Hierdie stelsel sluit alles in vanaf die mond tot by die anus – dit is verantwoordelik vir die opneem van voedingstowwe, huisves beide gesonde asook skadelike bakterieë en skei afval uit.

By die BabaGim Instituut het ons gevind dat massering die wegtrekrefleks en/of tas sensitiwiteit inhibeer. Massering ontspan baba, en aangesien ons die konneksie tussen die vel en die ingewande of spysverteringskanaal verstaan, sien ons ook die kalmerende effek wat massering op voeding, koliek en refluks het.

NOODSEINE VAN TAS SENSITIWITEIT BY JOU BABA EN KLEUTER 

  • Hou nie van drukkies, koestering of toedraai nie
  • Huil maklik
  • Hou nie daarvan om aan- of uitgetrek te word nie
  • Hou nie daarvan om te bad of in water te kom nie
  • Verkies baie lae klere of geen klere
  • Vermy enige aanraking, insluitend van mense, diere en voorwerpe.

OORSAKE VAN TASSENSITIWITEIT KAN WYD UITEENLOPEND WEES EN SLUIT IN:

  •  Oormatige stres tydens swangerskap
  • Disfunksionele plasenta
  • Premature geboorte
  • Post mature geboorte
  • Komplikasies tydens geboorte
  • Skeiding van ma by geboorte
  • Herhaalde mediese intervensies soos verlengde tyd in NICU, aanhoudende gebruik van die vel soos om bloed trek, ens.

Babas met ‘n aktiewe buitenste tassensitiewe reaksie (oorgevoeligheid van die vel) toon dikwels tekens van innerlike tassensitiwiteit (voedselallergieë of spysverteringsprobleme), wat ook kan manifesteer in tassensitiwiteit in die mond area. Tipiese simptome sluit in:

  • Vermyding van die meeste teksture in en om die mond, want enigiets wat onbekend is, word as ‘n potensiële bedreiging beskou. Die instinktiewe reaksie op hierdie bedreiging is om te verwerp, te onttrek en te huil
  • Om gemaklik te soog is moeilik en dan ontstaan voedingsprobleme deur dat mamma se tepel, die bottel en fopspeen verwerp kan word
  • Probleme met die verwerking van vaste kos
  • Vermyding van tekstuurvoedsel met ‘stukkies’
  • Soms word fyngemaakte kos ook vermy
  • Baba kan naar word as hy gedwing word om kos te eet waarmee hy of sy onbekend of ongemaklik is
  • Morsige etertjie as hy ouer is.

Tassensitiwiteit om die mond area kan lei tot swak ontwikkeling van taspersepsie en onderskeiding van die lippe, tong en wange, en dit kan ‘n nadelige uitwerking hê op die kind se vermoë om voedsel in die mond te manipuleer. Waarop dit basies neerkom, is dat in plaas daarvan dat die mond die kos identifiseer as ‘n voedsame produk wat ontdek en geniet moet word, word dit outomaties as ‘n bedreiging ervaar, met negatiewe gedrag of selfs ‘n duidelike afkeur van kos met teksture.

Sonder die geleentheid om kos te eet wat ‘n growwer tekstuur het, in die mond (byvoorbeeld broccoli, botterskorsie en vleis), word spiertonus beïnvloed en verswak.  Om kos te kou word inspannend en vermoeiend as daar ‘n lae spiertonus in die kakebeen en mondspiere is. Dit lei tot oopmond kou en ‘n voorkeur vir puree kosse.

PLAN VAN AKSIE

PASGEBORE BABAS

  •  Massering van baba word aanbeveel om eers die buitenste vel te kalmeer voordat die binneste vel gekalmeer word. Bewegings moet ferm en liefdevol wees. Hou aan, selfs al bied baba weerstand – elke dag ‘n bietjie meer en ‘n bietjie langer.
  • Sagte aanraking en stimulering van die mond area is ook nodig deur met ‘n skoon vinger en later tekstuur tandeborsels te gebruik om om die lippe te masseer, ook aan die binnekant, die tandvleis, wange en tongetjie.

OUER BABAS

  •  Moedig baba aan om met ‘n verskeidenheid speelgoed wat tekstuur het met sy hande te voel en te verken, terwyl hy veilig op ma se skoot is. Praat gerusstellend met hom om sy angstigheid te verlaag. Moedig ‘n nuuskierigheid aan om verskillende teksture met sy hande te verken om die wegtrek- of verdedigende reaksie te oorkom en eerder die onderskeidende reaksie uit te lok. Mettertyd sal hy ook die teksture met sy mond wil verken.
  • Tanderinge kan mettertyd bekendgestel word van ‘n gladde oppervlak en normale temperatuur, na warmer en koeler temperature, en verskillende tekstuuroppervlaktes.

Stel vaste kos aan jou 4-6 maande oue baba bekend

 Die bekendstelling van vaste kos gaan nie net oor ‘n hele nuwe wêreld van smake, kleure en teksture nie, dit is ook ‘n geleentheid om jou baba se spraak en artikulasie te ontwikkel!

Die bekendstelling van vaste stowwe is ‘n groot sprong vir jou baba. Haar gereedheid hang af van die ontwikkeling van die tongetjie.  As sy gereed is, sal sy dit ‘omkrul’ (soos ‘n hondjie wat water oplek), wat beteken dat die tongetjie na agter sal beweeg en die kos na agter in die mond stoot. As sy nie haar kos “oplek” nie, beteken dit dat sy haar tong vorentoe sal druk en die kos uit haar mond sal stoot. Sy sal nie eet nie en sal honger bly.

Alle spraakterapeute sal jou vertel dat daar ‘n nou verband is tussen voeding en spraak. Jou baba moet die spiere van haar lippe, tong en wange koördineer met sluk en asemhaling om suksesvol te kan eet. Wanneer jy vaste kos bekendstel – en mettertyd verskillende kos met growwer teksture – gee jy jou kleinding ‘n wonderlike geleentheid om eendag die meganika te ontwikkel wat nodig is vir duidelike artikulasie.

KLEUTERS EN KINDERS

  •  Trek die buitelyne van die liggaam saggies maar ferm van kop tot voete wanneer die kind lê of staan. Hou die voete vas om ‘n gevoel van geankerdheid en veiligheid te gee. As die kind staan, plaas druk op die enkels asof jy die voete in die grond wil ‘plant’.
  • Moedig spel met speelgoed aan wat tekstuur het, byvoorbeeld om met rou rys of lensies te speel; om met sand te speel; om met verskillende voorwerpe met verskillende teksture te speel terwyl jy in water is en om kaalvoet op ‘n verskeidenheid oppervlaktes te loop – begin met ‘n gladde oppervlak en verander geleidelik die verskeidenheid en die aantal teksture waaraan die kind blootgestel word.
  • Maak etenstye spesiale en prettige tye. Weerhou jou daarvan om angstig te raak en gereed te wees om te veg.
  • Moedig die kleuter of kind aan om self ‘n tafelplekmatjie, bak, bord en lepel of vurk te kies. Stel geleidelik growwer kos bekend wat tekstuur en weerstand bied.
  • Bied ‘n verskeidenheid vingerkosse aan om jou kleuter of kind se toenemende gevoel van onafhanklikheid aan te moedig.
  • Bring growwer tekstuur geleidelik in by sagte kosse. Deur hom aan te moedig om self ‘n bietjie growwer tekstuurkos in die sagte kos te meng, voel ‘n kind meer in beheer en minder angstig.

Bibliografie

De Jager, M, 2017. Speel Speel Slim. Johannesburg: Mind Moves Institute

De Jager, M. 2011. Breinontwikkeling MYLPALE & leer. Johannesburg: Mind Moves Institute.

De Jager, M. 2010. BabaGim. Welgemoed: Metz Press.

Login

Lost your password?