Geskryf deur Veronica Fourie
Op 84-jarige ouderdom is haar verworwe kennis oor ouer word so veel, dat dit onafwendbaar in ‘n boek bymekaar moes kom. Haar versugting na kennis en kreatiwiteit is oneidig. Net so is haar drif om dit aan ander oor te dra.
Gedurende die inperkingstyd het Celeste op papier begin gesels. “My brein is steeds kreatief en ek het allerlei notas begin maak en van my kennis neergeskryf. Dit was nooit bedoel om ‘n boek te word nie. Ek het nie gedink ek kan nie! Dr Melodie de Jager van die Mind Moves Instituut het my aangemoedig om dit tog te doen,” vertel sy beskeie, maar tevrede. Dit het gelei tot die geboorte van die boek Oudword is nie Oudwees nie.
Bevat wenke om die steiltes, slaggate en kronkelpaaie aan te durf sodat ons jeugdig en positief kan verouder.
Celeste is ‘n internasionaal gekwalifiseerde lagterapeut. Daarbenewens is sy ook die insiëerder van die BabaGim- en Senior Mind Moves Instituut. “Dit is sekerik my grootste nalatenskap,” sê die petite vrou wat ook die Ambassadeur vir Senior Mind Moves is. “Dis vir my baie belangrik om by die gemeenskap betrokke te wees. Dit maak van my ‘n beter mens om ‘n verskil in ander se lewens te maak. Om iemand se gemoed te lig help hulle om gesonder te wees.”
Daar is ‘n klompie gedigte in die boek wat Celeste geskryf het. “Toe ek eers begin skryf, het ek agtergekom ek kan dig. Dit is my eerste keer dat ek dig en dit kom uit ‘n baie diep plek.”
Hiérdie boek, sê Celeste, is nie ‘n akademiese werk nie. “Dis geskryf uit my eie ervaring, my eie perspektief. As dit vir iemand iets kan beteken, deel ek dit graag.”
Die boek bevat talle aanhalings uit boeke oor ouer word. “Ek besit byna al die boeke waaruit ek aanhaal. Die aanhalings is vir my van onskatbare waarde. Ek lees graag en maak aantekeninge so ver ek lees. Ek het nie spesiaal navorsing gedoen vir ‘n boek nie, maar dit het nou handig te pas gekom.”
“Ons gesondheid gaan agteruit hoe ouer ons word, en dis so maklik om op te gee. Maar die keuse lê steeds by jouself of jy gaan opgee, of sinvol oud wees!” Celeste se mantra is juis: “Get up and go!”
Oudword, sê sy, is onafwendbaar. Maar oudwees is ‘n keuse. “Oudword is nie Oudwees nie neem ons op die oudwordpad waar ons leer dat oudword nie net aftakeling en agteruitgang beteken nie. Oudword is ook ‘n ontdekkingsreis, ‘n leerskool, pret en plesier,” sê die agterblad van die boek. “Ons leer van die belangrikheid van beweging, ritme, stap, vriendskappe, musiek, fikse en gesonde sintuie, spiere, heelbreinwerking en natuurterapie. “
Daar word gewys op die noodsaaklikheid om kos goed te kou, voete te versorg en soepel te hou, en hoekom swaartekrag ons vriend is.
Celeste van der Walt slaag in hierdie boek om mense aan te spoor om oudword-jare as sinvolle saakmaak-jare te geniet wat ook kleurvol en pret is. Sy vertel juis in die boek van die ooreenkoms met haarself om jaarliks iets te doen wat sy nog nie vantevore gedoen het nie – wat sal waarde toevoeg tot haar eie lewe en die van die gemeenskap. Vir meer as twintig jaar het sy die die ooreenkoms nagekom!
Die boek skitter van die juweeltjies wat Celeste deel uit eie ervaring. Sy steun ook die goue gedagte dat mens nie aan jou ouderdom moet dink nie, en net jou lewe leef. Wees eerder 70 jaar jonk as 40 jaar oud. Of soos Clint Eastwood sê: “Don’t let the old man (woman) in.”
Dié boek is van groot waarde vir enigeen wat kies om jeugdig en positief te verouder, en elkeen wat met ouer persone omgaan. Dit word uitgegee deur Naledi en sal binnekort op die rakke wees.
Om die boek te bekom kontak Celeste van der Walt hier: https://seniormindmoves.co.za/naaste-smm-fasiliteerder/
Meer oor Senior Mind Moves: https://seniormindmoves.co.za/